Hier aan die einde van ‘n woeste jaar waarin ek ook drome gedroom het oor ‘n ander se lewe en wense vir ‘n beter ek, gewens het, lees ek toe die onderste skuins gedeelte vanoggend raak, net om weereens te besef dit wat myne is is goed genoeg, my kinders is die kinders wat die Here vir my gedroom, so ook die man aan my sy die afgelope 35 jaar, gelapte kleinkind is ook myne en die sagte sagste Lainey Painey was lankal reeds deel van die Here se droom vir my lewe.

My sagte sagste Lainey Painey

Leanè, my aangenaaide, Lainey se kleinsussie

My dogter wat haar hart op ‘n man veel ouer as sy verloor het, is seker ook deel van daai droom, ek raak paniekerig oor dit… maar uiteindelik sien ek haar raak as ‘n baie gelukkige en tevrede jongvrou, ongeag vriend en vyand se wenkbrou wat kort kort in my rigting lig en met my wat dan aan die wenkbrou sê: “noem dit net wat jy wil, maar sy is gelukkig en uiteindelik voel sy veilig in haar verhouding, jy is geregtig op jou opinie, ek op myne en sy op hare…

Selfs die man kind van my, wat so waar as waaragtig al sy hare afgeskeer het en blinkkop rondloop asof dit heel natuurlik is tot almal se misnoë, is die een wat die Here vir my gedroom het…

Waarom sou Hy die drome gehad het vir my?

Ek weet, want Hy het geweet ek sal kan voortbou op daai drome van Hom om dit ‘n werklikheid in hul aardse bestaan te maak, dus ek is tevrede al skree en skop ek teen al die prikkels so nou en dan, want Hy het Sy drome aan my toevertrou en wat meer as dit het ‘n mens dan meer nodig?

❤️

In my droomwêreld die jaar wil ek ‘n boyfriend hê. Een met ‘n six-pack en plooitjies om die oë, en ‘n brilletjie wat wys hy lees baie. En hande wat lekker kan vat, en vir my pesto en tahini en hummus kan maak.

Ek wil dun enkeltjies hê, en my lyf deur ‘n strooitjie kan pas. En myself uiteindelik in ‘n bikini in Truworths se spieël bekyk en dink: Wow, jou boude lyk fantasties!

Ek wil naels hê wat naellak vir ‘n week mooi hou, arms wat ver genoeg is om die menu te lees. ‘n Kamera wat se settings altyd reg is, WiFi wat nie stotter op Pinterest nie, en genoeg petrol in my kar om oor grense te kan ry en vêrplek mense te kan beleef.

En, ek wil daai karavaantjie hê…
daai klein ronde blommetjies een
wat maklik sleep en lekker slaap. En ek wil lekker en lank aan die voete van ‘n groot boom sit, en in ‘n vuur in kyk wat nooit kole maak nie.

En ek wil bene hê wat kan parkrun, en ‘n wynfontein in my agter jaart, en staalbedjies onder my pruimboom vir buite slaap, en ‘n tent wat self afslaan en in sy sak spring. En tuinliggies wat aanhou werk as die gassproeier aan was. In my droomwêreld sou ek dit graag alles wou hê.

Maar in die regte lewe wil ek net my eie lewe hê, met al my diere en kinders en vriende en familie. Om ou memories te vertel en nuwe memories te maak, en al laggend en huilend en real en saam ons waens deur die lewe se drif te trek

En met ‘n hart wat maklik vol sal raak, wil ek langbeen bo-op die berg van die lewe nog ‘n jaar se son sien opkom.

En, met my gesig na die Lig gedraai, al die dae van my lewe
vreesloos leef, wawyd liefhê,
en rotsvas staan. Dis al.

© Hekelwoorde van my Hart