“Childhood memories” is sekerlik van die seerste, veral as jy in jou middeljare is en jy weet as volwassene het jy redelik goed opgeneuk in jou verhouding met jou eie ouers… Omdat jy griewe gekoester het ipv goeie herinneringe.

Vandag praat ek en my Charmaine, sommer oor dit en dat en die Here, se lekkergoed… Wat soveel lekkerder as mensgemaakte lekkergoed is, waar ons onse Here sin probeer na-maak.

Sy vertel my sy hou van om aarbeie die vorige aand in die yskas te sit, en dan die volgende dag dit met kondensmelk voor te sit.

Die woord “kondensmelk” wakker dadelik my kinderonthoue van kondensmelk op, in so mate dat ek dit ruik, sien en proe. Die trane wel op want my pa is nie meer nie, hy het in Aug 2019 sy stryd teen keelkanker verloor, en ek kan nie eens vir hom vertel dat ek “onthou” en dit met ‘n groot dankie afsluit nie.

As kind het my pa altyd voor skoolvakansies drie kleinblikkies kondensmelk gekoop, ja, as kind was daar die kleinblikkies, nie die gegeurdes of vandag se karamel soort nie, net gewone kondensmelk, groot en klein.

Dan het hy vir ure lank, miskien het dit netso gevoel vir my as kind, die drie blikkies sorgvuldig in ‘n pot water gekook en op die dag wat die skool sluit, het hy vir elkeen van ons oudste drie ‘n blikkie gekookte kondensmelk in die hand gestop en gesê, ja toe, gaan nou en geniet julle skoolvakansie met die lekkerste bruin inhoud ooit. Ons het dae aaneen, teelepel in die hand gesmul aan die lekkerte wat ons as kinders met die grootste wil moes uitrek, net om dit nie te gou klaar te maak nie.

Heeltemal vergete is my en my Charmaine se gesprek, ek groet en sê sy moet haar naweek geniet ~ ek ry weg by my kantoor met ‘n herinnering wat my so onkant vang dat ek heeltemal gedisorienteerd voel.

Ek wonder hoe is dit dat ek so vasgevang was in net slegte herinneringe dat ek heeltemal vergeet het dat die goeie oomblikke eintlik meer as die slegtes was? Dat hulle nie meer hier is, vir my om net te kan sê hoe ek hulle waardeer nie. Hulle is, moekie en pappatjie.

Nee, die vyand het seker gemaak ek straf myself deur in ontkenning oor die meer goeie, as slegte tye vasgevang te gewees het.

Tweede kanse het ons nie in hierdie wêreld nie, en al wat ek nou kan glo is dat die herontmoeting wanneer ons almal in liggaam, siel en verstand gesond in ons ewige huis gaan wees, dat dit tweede kanse met mens se ouers sal insluit.

En nou is dit asof die vyand weer ‘n keer “wela-kapela” skree, met die dat daar tydig en ontydig al hierdie soete herinneringe opkom wat my al die goeie kindertye uitwys en waarvoor ek nie in die nou kan dankie sê nie, want my ouers is nie meer nie, dit is net ek en my bittersoet onthoue.

Ek kyk na my kinders en ek besef, ongeag hoe perfek hulle grootgemaak is hulle vergeet ook graag die goeie en teer meer as wat dit nodig is, op die slegte tye… En al sê ek wat vir hulle, hulle gaan dieselfde les as ek leer wanneer dit te laat is vir drukkies en dankies en met al wat oorbly, bittersoet herinneringe en stille gebede van: “Here, gee net dat daar asb tweede kanse is as ons die tydelike met die ewige verruil…”

En dit is wat die woord “kondensmelk” vandag aan my siel kom doen het 😭