Ek moet myself elke nou en dan herinner dat waardering nie ‘n wêreld se gebruik is nie – mense neem dinge maklik as vanselfsprekend aan. Veral die die naaste aan jou. In my beskeie mening is waardering nes die woord liefde, dit is nie net ‘n woord nie dit is iets waarby ‘n behoorlike daad betrokke is.
My hele lewe lank is ek iemand wat maklik skuldig voel as iemand iets vir my doen, ek voel nog altyd dat ek dit nie verdien nie en weet daarom nie rerig wat om daarmee te maak nie. En ek dink juis agv die tipe gedrag het mense na aan my dit verleer om my doen te waardeer.
My pa is op die 28ste Augustus oorlede, hy het keelkanker gehad en was maar redelik verswak die laaste paar jaar, alhoewel hy nog heeltemal onafhanklik was tot en met ongeveer Maart die jaar. Van hieraf het sy gesondheid drasties verswak en was hy meer in as uit die hospitaal. Ek was baie betrokke by sy siekbed, miskien agv my eie gewete omdat ek hopeloos te min by hom was vandat my ma oorlede is in 2015. Terwyl my broer en suster letterlik als vir hom gedoen het. My en sy verhouding was redelik kompleks en ek het bitterheid in my hart gehad wat ek darem al ‘n paar jaar gelede uitgewerp het en myself forseer het om op sy goeie punte te konsentreer.
Ek het sinvolle gesprekke met hom gehad, ongeag sy verslawing was hy ‘n wyd belese man en was dit baiekeer interessant of selfs amusant om goed in sy perspektief te ervaar. Ek het so baiekeer vir my kinders, vir wie hy baie lief was, gevra om bietjie meer betrokke by hom te wees, iets wat nie werklik gerealiseer het nie oor hulle eie verskonings van besig wees en en. My seun het darem so eenkeer ‘n maand probeer om by sy oupa uit te kom en was in telefoniese gesprekke met hom – my dogter nie juis nie, alhoewel ek wil glo sy was lief vir hom op haar eie unieke manier. Maar vandag besef ek dit was dalk maar my skuld dat hulle so min betrokke was by hom, hulle het dalk deur die jare my dopgehou en gesien dat ek nie die sterdogter is waarvoor hy gehoop het nie, dat verwyt my met tye so “consume” het dat ek nie besef het waarmee ek besig is nie.
Ek weet hy was ongelooflik lief vir my en ek besef ook dat hyself ook maar met selfverwyt gestoei het oor die dinge van sy eie jonkwees dae – alhoewel ek hom die laaste paar jaar meer as eenkeer verseker het dat daar geen verwyt van my kant af is nie, juis omdat ek my eie kinders het, het ek besef die lewe is nie net swart en wit as dit by die mens kom nie. Ouerskap is rerig een van die mees ongewaardeerde posisies waarin ‘n mens ooit geplaas kan word – kinders se verwagting en dit waaraan ouers ooit kan voldoen is so wyd as wat die ooste van die weste af is, en daar is dus altyd ‘n party wat aan die onderspit delf, gewoonlik die ouer. Dit het my baie sagter teenoor my eie ouers gemaak, ongeag hul tekortkominge wat ek as mens ervaar en op geteer het ten koste van myself en ‘n ordentelike verhouding met hulle.
My pa se dood was verseker loshande een van die mees traumatiese ervarings ooit, en moet my nie verkeerd verstaan nie, daar was al ‘n paar traumatiese ervarings in my lewe, die ergste was ek kon geensins in die teenwoordigheid van iemand my trauma, hartseer, pyn ~ noem dit wat jy wil ~ gewys het nie, juis omdat ek geweet het dat daar verseker meer was wat ek van my kant af kon doen, en mense weet dit.
As ek nou voor almal ingee mog hulle dalk net my ‘n hipokriet noem! Dus het ek my normale gang gegaan, voor vriend en vyand selfs by my man en my kinders – en die oomblik wat ek alleen is val die fasade af en op my eie en in die teenwoordigheid van twee brakke en ‘n kat, gee ek uiting aan jare se opgekropte emosie en pyn – en ek besef daar was soveel meer wat ek kon doen om my waardering te wys.
Ek is die enigste kind wat hom lewend gesien het op die dag van sy dood, almal van ons was in totale ontkenning rondom sy dood. Ons was betrokke en het beplan asof hy nog jare met ons gaan wees. Op die dag het ek langs hom gesit, vir hom uit die Bybel en Woord van die dag gelees, Geestelike musiek vir hom gespeel, hom vertel dat ek lief is vir hom, sy voete gevryf en oor sy ou kop met betreklik baie hare gestreel en was oortuig daarvan dat hy net slaap, ek het skrif teen die kamerdeur geplak – my normale gang van die vorige dae. Op ‘n stadium het ek vir hom Jo Niemand se Ek sal nie bang wees nie, gespeel. Emosie het my oorval en my onbedaard aan die huil en snik laat gaan – miskien het ek besef dat die prentjie, ongeag die afwesigheid van monitors, maar sleg lyk. My ma se ouer suster en haar seun het so op my afgekom en onmiddelik het ek myself reggeruk asof dit waarop hulle sopas ingestap het net iets in hul geestesoog was, geen werklikheid. Hulle het vir ‘n paar minute saam met my daar gestaan en steeds was ek in ontkenning oor hoe dit met hom gaan en het hulle verseker dat hy eintlik net slaap. Ons het gou ‘n koffie gaan drink – met die groetslag oorweeg ek dit om net gou weer in te hardloop net om dadelik weer daarteen te besluit, en so ry ek terug werk toe met snikke en pyn en verspeelde geleenthede wat oor my spoel.
Ek was skaars by die werk toe my suster histeries bel en vir my sê: PA IS DOOD… 2019/09/28
PA IS DOOD en op 6 September 2019, op my man se 62ste verjaarsdag – neem ons in ‘n kort eenvoudige kerkdiens afskeid van die man wat my grootgemaak het, die man wat my male sonder tal op sy skoot gehad het, en wat my sy Poppelein genoem het, wat graag geterg het, die man met wie ek op ‘n stadium wou wegloop omdat my ma klaarblyklik te kwaai was met hom – en toe…. toe word ek ouer en my perspektief oor hom het verander, en vir jare was ek net kwaad vir hom, alhoewel ek steeds betrokke was by beide my ouers. Toe my eie kinders tieners word het ek ek besef watter verskriklike groot werk kinders is, watter groot werk dit is om als bymekaar te hou, ten koste van jou eie tekortkominge en die lewe wat gebeur, en my hart het weer sag geword, alhoewel ek tot vandag weet dit was eintlik toe reeds te laat, ek het so baie tyd gemors met beide van my ouers en steeds het ek voortgesnel op dieselfde bekende spoortjie… nou is ek op my eie, ek en my hartseer wat ek nie durf wys nie, omdat ek hopeloos te min en hopeloos te laat waardeer het.

En met die vlg eenvoudige bs op sy begrafnis briefie wat sy lewe hierop aarde so goed opsom, groet ek hom met ‘n pyn diep binne my wat kort kort oorkook in my oë, terwyl ek ander mense se blikke vermy want my seer is net te privaat, net te persoonlik om vir ‘n ander te wys.
Saggies dog ferm het ek hom gegroet,
Liewe pappa’tjie RIV… miskien eendag… in ‘n ander tyd… in ‘n ander woning… sal ek dalk die kans kry om te gaan opmaak vir verspeelde kanse.
POPPELEIN

KOOS DU PLESSIS GEBED

Laat my nooit die grond verlaat nie
Laat my in U skadu bly
Gee dat elke aardse vreugde en vrees
Eind’lik nietig word vir my
Elke afdraai padjie ken ek
Elke keer het ek verdwaal
Elke keer het U my iewers kom haal
Maak dit Heer die laaste maal
Elke dag is ‘n gedagte
Elke kamer net gehuur
Elke aardse droom van rykdom en roem
Net ‘n skadu teen die muur
Wat ek is, is net genade
Wat ek het is net geleen
Eint’lik smag ek na U waters van rus
Lei my Heer vanaand daarheen

https://youtu.be/9p8Lef6IdoM