Hoe ouer ek raak hoe meer neig ek na idealisme – die probleem met dit is is dat ons nie in ‘n ideale wêreld leef nie en juis daaroor gaan dit gepaard met baie teleurstellings.

In ‘n ideale wêreld sou my kinders soos my suster se twee seuns gewees het, hulle sou als reggedoen het – verlief, verloof, huiskoop, trou en toe spyker. Maar klaarblyklik verkies my kinders om altyd stroom op te beweeg – maw hulle is baie avontuurlustig en eiewys. Dit is al asof hulle my grense alewig wil verskuif, al skop ek hoe hard daarteen – selfs in hul volwasse lewens wil hulle steeds nie konformeer tot die samelewing se reëls nie. In ander woorde, my kinders sorg dat ek nooit ophou bid nie – ek dink ek verveel al Vader met my gebed:

Ag Vader, hierdie kinders is tog U sin, U ken hulle by die naam, U is hulle Maker, maak dat hulle my so effe van ‘n breek sal gee. Ek weet hulle is mooi groot, nie stupid nie, maar waarom vang hulle nogsteeds elke dan en wan stupid dinge aan? Ek wil hê hulle moet in my ideale wêreld inpas – ek wil nie alewig hum en ha as iemand my uitvra rondom “U” kinders nie, ag Vader laat hulle tog net inpas.

Bha wha ha – idealisme is dom, dit maak seer en dit stel teleur, kom net by! Ek het dit reg, my kinders is die Vader se kinders, gelukkig vir my maak die Vader toe nie klone nie, maar wel individue – mense met eie wil. En juis daarom hou dit ons op ons knieë voor Hom. Ek is ontsettend lief vir beide my kinders, op die einde van die dag is hulle tog maar die kroon van ‘n gesin en klaarblyklik wat jy insit is wat jy uitkry. BUMMER toe nie, want ek kan jou vertel ek is kapoet en as ek als kon terugkry wat ek ingesit het moet hulle mos maar die ideaal wees?

Nou waarom is dit dat my dogter wat vir jare in ‘n verhouding met ‘n narsis was en uiteindelik kon losbreek, nou heeltemal oorhel na die anderkant? En weereens, sien ek die vraagteken in vriende en familie se oë as hulle besef sy is nou met ‘n man wat baie baie ouer as syself is deurmekaar. Sy het haar hart verloor op haar baie ouer vlieginstrukteur. Baie, baie ouer. Die man dra haar op die hande, sy het toegang tot sy vliegtuie kan enige tyd gaan vlieg, sy duur sportskarre, sy huis, sy familie sy dogter en….. hoor hier…. sy kleinkind, ja, die man is ‘n oupa. Hulle vakansie die wêreld vol en my kind blom. En ek, ek ween – want wat die hel. Sy is slim, sy is mooi en ek droom vir haar haar eie gesin. Hoe nou?

Toe ek begin agterkom het dat sy baie tyd met die man deurbring het ek vooraf aan haar genoem dat sy moet asb nie mense aan ons voorstel, as sy nie ernstig is om hulle in haar lewe te hê nie – ek raak maklik lief vir mense en sukkel as hulle in en uit my lewe beweeg.

Die afgelope naweek besluit sy dit is tyd dat ons die man moet ontmoet, ek het besef dit is onafwendbaar en ek sal maar my “groot dogtertjie panties” moet aantrek en die man gaan ontmoet. Dus Sondag na kerk ontmoet ons hulle vir koffie naby ons huis. Ek sien my dogter, my beeldskone dogter, sy gloei, lag en lyk so gelukkig. Ek haat myself want waarom is dit dat ek alewig voel die man in haar lewe is so nie reg vir haar nie. Is dit die ouderdomsverskil, wat is dit?

Ons ontmoet die man, gesels bo-langs net om die skok te verbloem, my man praat sy gewone prate van wat hy gaan doen as hy nou pensioeneer, ek aan die anderkant is soos ‘n vis op droeë grond, verbal diarrhea is aan die orde van die dag. Dit beteken natuurlik dat ek aan erge onderliggende stres ly – ek sien my hele familie voor my, en op elkeen se gesig is so vermakerige vraagteken wat met ‘n uitroepteken eindig, wat sê, WTF. Ek gringe. “Vader wat gaan aan met “U” kind?” Is al wat ek in my gedagtes vra.

Marra, sy lyk dan so vol geluk! – koggel ‘n stem my. Marra, ek is moeg, dit pas nie in my prentjie van idealisme nie. Ons groet toe die ontmoeting oor en verby is. Ek en my man klim in my ou HONDA CRV wat skielik baie mediocre lyk en voel, want neffens my en my toe nie so ouman, klim sy en die ouman in ‘n spierwit PORSCHE 911 en so ry ons agtermekaar die parkeerterrein uit.

Ek en my ouman wat weereens nie so oud langs my is nie, is stom – nie een van ons sê ‘n woord nie. Die eerste woorde wat geuiter word is van my ouman se kant af – moenie worry oor vriend en vyand nie, ek sal sê: Ek is nou jammer om te sê, maar als is my skuld… ons mooie dogter het DADDY ISSUES! Al wat ek voel is dat ek die man langs my nou gaan klap as hy nie doodstil bly nie. Gelukkig word hy kort na ons tuiskoms uitgeroep werk toe, en kan ek in rus en vrede stoksielalleen na die Austria F1 kyk terwyl ek my skok oorkom.

Die Maandag tydens haar etensuur kom sy gou huistoe, ek sien sy wil praat maar ook nie juis praat nie, EN? Ek pak af. “Hy is soveel ouer as jy, wil hy ooit weer trou, wat van kinders? Jy sal so goeie ma wees, ek kan nie sien dat jy nooit gaan trou en kinders gaan hê nie, dit is ondenkbaar vir my! Als is nou okay, maar wat as hy ‘n rerige ouman vol dinge is, dit kom eerder gouer as later, ek verstaan hy lyk goed vir sy ouderdom, hy is baie aktief, sportief, avontuurlustig, aantreklik, hy is mal oor jou en goed vir jou, maar hy is f#kken oud en dit gaan jou inhaal, gouer as wat jy kan dink. Oumans is moeilike knorrige goed, is jy lus daarvoor? Hulle begin op ‘n sekere ouderdom baie snaaks ruik, ongeag Old Spice of wat ookal. Jy is mooi, jy is geniaal, jy het ‘n fantastiese werk, jy is so jonk – die stem binne my wat sê, shut up, word geignoreer, en ek stoom net voort want ek is nie lus vir die kyke van die samelewing nie, nie dat ek my rerig ooit daaraan steur nie, maar my kind is hierby betrokke dan raak dit moeilik om my nie aan mense en dinge te steur nie.

Sy is stil en al wat sy sê is, ma-hulle leef ma-hulle se lewe, ma-hulle beplan ‘n toekoms buite SA, ek is hier en ek wil nie alleen wees nie, hy skaam homself nie vir my nie, ek is goed genoeg vir sy familie, L is goed vir my en hanteer my nog altyd soos ‘n vrou moet word met hope respek daarby! Sy staan op om terug te gaan werk toe, met my wat agterna skree, Bokkie, onthou ek is lief vir jou, en ek gun jou die wêreld se geluk, al weet ek sy dink dat dit nie die geval is nie – dat ek fout vind met als wat sy doen wat betref haar verhoudings. Dit is nie so nie, dit het ook niks met idealisme uit te waai nie, wel net met realiteit en sy moet weet wat dit is.

Sy ignoreer my die volgende paar dae en as sy huistoe kom gaan sy direk na haar eie plek en kom ook nie in om net vinnig hallo te sê nie, selfs na die volgende bs wat ek vir haar gestuur het is sy stil en was daar tot op hede geen reaksie nie.

Bokkie ~ al wat ek en pappa sê is dat ons nooit in jou pad sal staan nie. Jy leef jou lewe soos jy goeddunk. Ons ondersteun jou. My en pappa se reëlings vir ons toekoms is op AS en pappa se drome geskoei. Niks is in graniet nie. Als kan more verander. Al ons geld is in grond vas as goed nie verkoop teen die prys wat ons soek nie, is ons maar hier rond.
Ons is geduldig en wag op die Here se tyd vir ons lewe.
Ek is bly vir die ervaring wat jy met L het, al lyk dit vir ons aweregs en het ons nooit gedink dat jy so sal kies nie. Ons verstaan jy sien en doen goed wat jy nooit die geleentheid sou kry nie ~ dit is kosbaar. Ek werk vandat ek 17 jr oud is, ek was jonk getroud en het jou en jou broer jonk gehad wat ‘n klomp verantwoordelikheid geverg het en in ‘n mate my wêreld verklein het, omdat elke dag met verantwoordelikhede gepaardgegaan het, maar dit was my eie keuse, niemand het my forseer nie. Jy het nie daai verantwoordelikhede en daarom kan jy jou lewe geniet saam met mense wat jou daaraan blootstel, ongeag wie en wat hulle is of wat hul ouderdom is. Dit is vir my lekker om dit deur jou oë en lewe te ervaar en ons gun jou dit.
Ek het die laaste pr jr geleer om in die oomblik te leef, ek beplan nie jare vooruit nie, ek droom nie nou oor die “AS” in my lewe nie, dit is pappa se voorreg ~ dag vir dag werk vir my, anders sal ek in ‘n stresbal verander. Moenie oor my en jou pa bekommer of oor wat ander mense sê en dink nie. Die is jou lewe, leef dit soos dit jou pas. Onthou net elke keuse gaan met verantwoordelikheid gepaard. As jy jou lewe met iemand deel wat baie ouer as jy is, is daar in die toekoms goed wat jou gaan toets en wat moeilik gaan wees, daarom lewe nou in die oomblik more sal vir homself sorg, maar weet net more kom ook, en dan moet jy min of meer gereed en gewillig wees daarvoor, en dan kan jy ook nie omdraai en sê jy het dit nie geweet nie.
Ons is baie lief vir jou en gun jou al die geleenthede en geluk in die wêreld. Terwyl ons op aarde is sal jy altyd ons binne jou bereik hê as dit ooit nodig sou wees, en as jy ons nodig het sal ons dadelik ALS los en by jou uitkom, ongeag waar ons onsself bevind.
Geniet dit wat jy doen met verantwoordelikheid en waardeer elke oomblik vir wat dit op die oomblik is!
❤️de mamma

Wat nou wonder ek, ek en haar pa aanvaar haar keuses en sal selfs skuld vat daarvoor maar ai, en ek dink aan al die ma’s wie se mooi dogters met mans soveel ouer as hulle gaan staan en trou het, kon ek nie maar met een van hulle gepraat het nie, ek dink aan die skrywer Paul C Venter en sy Saarkie, Chris Barnard en sy Karin, en dan ander minder bekende aweregse verhoudings en huwelike. Ek wonder hoekom is daar niks verkeerd as oumans met baie jongvrouens trou of in verhouding is, maar as dit omgekeerd is word dit deel van ‘n tv realiteitsprogram wat kykertalle die hoogte in laat skiet agv die mens se behoefte aan voyarism – enjoyment from seeing the pain or distress of others. “township visits are bordering on voyeurism”
Ek besef dat die wêreld waarin ek myself begeef is heeltyd aan verandering blootgestel, niks is ooit konstant nie, en in hierdie wêreld is daar nie plek vir idealisme nie, wel vir onvoorwaardelike aanvaarding, hetsy as dit by mense om jou- of selfs die die naaste aan jou kom, al skop ons hoe hard teen die prikkels wat onafwendbaar in hierdie wêreld is, is ons uitgelewerde enkelinge en kan ons op die einde net raad, troos of daar wees gee indien dit nodig sou wees.

idealism

image -Pinterest

Fluit Fluit en na hierdie laaangggg skrewe vertrek ek weereens vir eers ondergronds, danksy al die hooi op my vurk.

Advertisements