Ek het so rukkie terug Elsa Joubert se boek vir my deur take-a-lot bestel, saam met boeke wat ek vir my Lainey gekoop het vir haar komende verjaarsdag.

Ek het die boek eintlik vir my ma se suster gekoop, maar die voorblad het my so aangegryp dat ek nie anders kon as om dit eers self te lees nie.

Nodeloos om te sê, ek het Saterdag oggend begin lees en Sondag oggend die laaste pr bladsye net as ‘n bederf hier vroeg op die Sondag oggend. Anders het ek dit Saterdag sommer klaar gelees.

Die boek is tans haar laaste boek, nie fiksie nie. Dit gaan oor oudword, die aftakeling van die liggaam en die aanpassings wat baiekeer met verlies gepaardgaan.

Ek het soveel respek vir hierdie #GRAND DAME van Afrikaanse literatuur, maar in die boek het sy letterlik haar menswees, haar siel as ouvrou kom blootstel aan ons, haar lesers, sonder om ‘n enkele keer aan sentiment of emosie oor te gee. MAW geen soetsappigheid of selfbejammering nie.

Reguit en op die man af vertel sy haar storie, haar lewensstorie van oudword/wees. Ek lag vir die kwinklae, ek is verstom oor al die ontberings wat mens deurmaak as jou liggaam begin om in te konk, die aanvaarding van oudword maak my jaloers, want teen die #GRAND DAME is ek bloedjonk, maar dit wat met die ouderdom gepaardgaan is vir my ‘n vreesaanjaende gedagte, en ek moet sê laat my effe rebeleer met allerhande vitamines, roompies, oefeninge en ander dinge wat nie dr’s en naalde behels nie.

Syself was ook maar in ontkenning en het selfs daarteen gerebeleer tot op die punt van aanvaarding en aanpassings maak. Sy praat met groot deernis van almal wat haar pad al gekruis het en ‘n bydrae tot haar dag tot dag se versorging lewer. Sy haal oa Johannes 14:1-4 aan wat sy oortuig is help mense in hul sterwensuur weg van die vrees vir oorgee na ‘n nuwe beter lewe, wat ons verstand hierop aarde te bowe gaan. (toeval of nie – maar dit is ook een van my gunsteling skrifgedeeltes in die Bybel)

Ek wil nie te veel uitlap oor hierdie puik skrywe van Elsa Joubert nie – ek kan werklik dit aanbeveel as ‘n moet lees. Ek gee myself glad nie uit as ‘n resensent nie – juis omdat ek glo boeke, veral nie fiksie, vertel aan elke leser ‘n ander storie wat met mens se eie storie kan invloei, wat dalk nie noodwendig aanklank met iemand anders sal vind nie. Maar die Literêre Reus wie lewe aan die boek op die ouderdom van 90jr gegee het, is ‘n moet lees vir oud en jonk. Vir jonk sodat hulle dalk ‘n soort deernis vir hulle medemens wie moeg, oud en afgeleef is sal hê en tyd sal neem om van hul wysheid te tap, en vir oud om mekaar net te herinner dat ons almal stap die pad van oudword ipv om teen dit te veg omarm dit, maak dit van jou beste jare wat met kennis gepaardgaan wat mens net in jou grysheid kan kry en deel dit dan met ‘n wêreld wat oudword met vrees tegemoet gaan.

Spertyd

“Johannes 1Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. 2In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4En julle ken die weg (JESUS ALLEEN) na die plek waarheen Ek gaan.”

Advertisements