Dit gaan die laaste tyd rof met my, elke nou en dan skree ek “Here, wys my”, die vallei waarin ek my bevind wat die alledaagse betref, maak my sukkel, wys my!

Dan skielik uit die bloute kry ek drie Steenbokkies, neergesit net vir my, so raar niemand glo as ek sê ek het drie bymekaar gesien, Kaapse weer in GP, want in my hart is ek eintlik ‘n Kapenaar, wolke met silwerrandjies… En nou dit.

Aanhoudend roep ek uit, wys my weer, skree die ongelowige in my, wys nog, ek wil weet dit is nie ‘n flook nie, dit is U handewerk. Die behoefte om my rug op als te draai raak so intens dit is asof ek midde in die oorlog is ~ elke nou en dan besef ek dat my rassionele denke net moet oorvat. Maar ek het iets nodig, iets tasbaar.

Want op my ouderdom wil mens terugsit en die vrugte van jou hande aanskou ~ ek kry net kort kort ‘n verwyt, nog ‘n woord wat klou, waarmee ek worstel ~ ek soek net iewers ‘n “ek sien, dit is goed.”

Ek weet dat dit gebeur nie op aarde nie, hier is nie trofee vir ma-, vrou, vriendin of diensbaar wees nie. Mens doen net, en eendag as ons voor die Here staan, dan sal Hy verseker aan ons uitwys dat dit wat ons nie hier kon kry het nie, was Hy die heeltyd van bewus, Hy sal ook aan ons uitwys waar Hy gekom het om Sy tasbaarheid aan ons uit te wys… en dit gaan ons asem wegslaan.

Soos die baie bekende lied wat iemand sopas vir my gestuur het, iemand wat beslis nie weet dat ek myself huidiglik in die vallei bevind nie, want ek praat nie daaroor nie, ek stoei en worstel op my eie met die vrae en die gesmeek vir ‘n stukkie Goddelikheid wat my sal wys ek is koersvas en op die regte pad. Al lyk dinge hopeloos is my bergtop binne my bereik en Hy wat IS weet van my… Want ongeag my kleingelowigheid kom maak hy BEMOEIENIS!

Advertisements