‘n Tyd gelede het iemand op FB mense uitgedaag om puntsgewys dit wat hulle al volgens hulself in hierdie lewe behaal of dalk nie behaal het nie te deel as hulle dapper genoeg is.

Ek het nie daaraan deelgeneem nie. Te veel oë.

Wel die laaste paar dae het ek baie daaroor nagedink en besluit miskien kan ek dit maar eerder hier doen, aangesien ek my siel al hier so ontbloot het dat ek verseker nie iets het om meer weg te steek nie. Dalk help dit my ook in ‘n mate om afsluiting oor sekere dinge te kry.

1. Ek het gaan verpleeg omdat daar nie juis iets anders was wat ek kon gaan doen het wat nie betaling vereis het nie, en boonop vir jou ‘n pr rand in die sak kon bring as student verpleegster. Ek was mal daaroor en oor die feit dat ek uit my ouers se huis kon wees op ‘n jong ouderdom.

2. Ek het oa een vd eerste HIV pasiënte verpleeg – alhoewel hy toe nog aan ‘n ongediagnoseerde siekte met ‘n vreemde virale patroon gely het, het ek hom sonder handskoene en ‘n masker verpleeg. Totdat die matrone eendag daar ingehol het by sy kamer ons almal eenkant toe geroep het, en gesê dat die man onmiddelik in kwarantyn verpleeg moet word, want hy het al wat ‘n “vieslike geslagsiekte” en niemand weet hoe aansteeklik dit is nie. Die man was ‘n welaf ouditeur en was ongelukkig homoseksueel. Vir my was dit so mooi man, en ek het so verskriklik jammer vir hom gevoel oor die feit dat ons almal met maskers en beskermde klere en handskoene hom hanteer het, aangesien hulle bang was vir die aansteeklikheid van die onbekende aftakelende siekte. Hy is op die einde oorlede in sy vriend se arms wat soos ‘n baba gehuil het en geweier het om beskermde klere te dra as hy vir hom gaan kuier het.

Ek het ook gesien hoe lyk ‘n ongelowige wat doodgaan en hoe lyk ‘n gelowige kind van die Here wat doodgaan. Ek wil verseker as die laaste doodgaan, dit is beslis die beter en baie meer vreedsame manier. Ongelowige mense gaan op ‘n baie grusame manier die dood tegemoet, ek sê dit hopenlik sonder om aanstoot te gee, ongelowiges is verseker doodbang vir die dood. Dit het ek met my eie oë gesien.

3. Ek het as jong student gesien dat klein kindertjies ook kanker kry en agv die kanker amputasies, en dan ook op die einde doodgaan van die kanker wat in daai tyd baie moeilik behandelbaar was, kinders is nie bang vir die dood nie.

4. Ek het jonk getrou en was oa onder sensuur by die kerk omdat ek voor die huwelik swanger was – ek is die jaar 35jr getroud – die huwelik is hardewerk, maar kinders grootkry was nog harder vir my. Ek wou als tog so graag regdoen en hoe harder ek dit wou regdoen hoe meer het ek drooggemaak.

5. Ek het normaal geboorte aan beide my kinders gegee al is ek piepklein wat die dr’s betref. Ek het wel pre-eklampsie tydens my swangerskap met my dogter gehad en moes op die einde ‘n induksie gekry het om die proses aan die gang te kry en het net voor ek vir ‘n noodkeiser moes ingaan, geboorte gegee – dit was vreeslik – maar ek het normaal en sonder enige pyn medikasie beide my kinders in die wereld gebring met hul pa aan my sy.

6. Ek het twee aborsies gehad, een agv ‘n baba wat doodgegaan het in my baarmoeder toe ek reeds 6 maande swanger was – die baba is letterlik stuk vir stuk uit my getrek. Die verpleeg personeel het met mekaar gepraat toe hulle my na die herstelkamer geneem het, my man was toevallig in die hysbak en hulle het nie besef hy hoor wat hulle praat nie, vlg hom het die een vir die ander een vertel dat: “Hierdie aborsie was die aakligste ding wat ek nog ooit gesien het, die baba is in stukke uit die vrou gehaal” En dit was al wat ek en my man ooit oor die baba, ‘n dogtertjie, gepraat het. Ek sukkel nogsteeds met dit, dit sou my 3de kind gewees het. Ek het weer swanger geraak daarna en was op medikasie wat ek nie geweet het die fetus op die aller ergste manier kan aantas nie, en tydens ‘n sonar het die dr gesê die baba gaan erg gestremd wees en dat die baba slegs ‘n pr minute na die geboorte sal leef, hy het aanbeveel dat ek vir ‘n aborsie moet gaan, waaroor ek nogsteeds wonder. Maar dit was minder traumaties as die vorige aborsie omdat ek in my hart geweet het ek sal nie ‘n goeie ma vir ‘n gestremde kind kan of wil wees nie. Wys maar vinger. Ek het daarna gegaan vir ‘n sterilisasie en 5 jr later vir ‘n historektomie op die ouderdom van 36.

7. Ek en my man was amper geskei, maar EK het besluit dat ter wille van my kinders se geluk gaan ek eerder getroud bly, my dogter was 10jr oud – nie een van my kinders weet tot vandag toe in watter gemors my huwelik was, danksy my man se vertroue in my, en dat ons op egskeiding gestaan het nie.

8. Ek het vir 7jr my kinders so te sê alleen grootgemaak terwyl my man in Swaziland gewerk en gebly het. Ek is spyt daaroor want met die het hul verhouding met hul pa skipbreuk gely wat tot vandag nog soms deursyfer na hul verhouding met hom juis omdat hy min betrokke was by hulle. Dit was ook indirek my skuld dat hy in Swaziland gaan werk het.

9. Ek het probeer om kreatief te wees en het spieëls gemaak wat ek probeer smous het op vlooimarkte om my inkomste aan te vul. Ek kon nie ‘n enkele spieël verkoop nie. In retrospek, dit was vieslik.

10. Ek het handklitsers op skoue bemark, die Bamix, baie van dit verkoop en op my laaste skou al my geld wat ek gemaak het, gevat en vir my skoonma ‘n oorspronklike skildery gekoop om vir haar dankie te sê dat sy na my kind gekyk het. Dit was so stupid maar met so goeie hart gedoen.

11. Ek het vrugtekoeke gebak voor Kersfees en dit verkoop, so baie van die goed, my seun het as 11 jarige ‘n hele koek opgeëet en tot vandag kan hy nie na enige soort vrugtekoek kyk of ruik sonder om siek te raak nie.

12. Ek het wiskunde klasse vir jongkinders gegee by my vriendin se wiskunde sentrum vir ekstra geld, altwee my kinders kon gratis klasse kry omdat ek haar gehelp het.

13. Ek het besluit om my verpleegberoep op te sê oor die ure wat ek gewerk het en die feit dat ek nie goed in kinders grootmaak en verpleeg kon wees nie, my werk het gewen, as Toraks Intensiewe Verpleegster was ek net te moeg om beide dit te doen, en my kinders groot te kry sonder dat hulle afgeskeep sou voel. Toe sê ek vir my man ek gaan ‘n personeelagentskap begin wat fokus op ongeskoolde en semi-geletterde vrouens. Hy het vir my gelag, maar steeds ondersteun en aangemoedig. Dit was en is tot vandag nogsteeds ‘n sukses en ‘n groot bron van inkomste vir ons huishouding. Dit het ons met tye gedra toe my man tussen werke was.

14. Ons kon met beperkte fondse beide ons kinders deur die universiteit sit, vir beide ‘n nuwe karretjie koop waarmee hulle universiteit toe kon gaan en beide het graad gevang sonder dat hulle ‘n enkele sent skuld gehad het. My dogter was 8jr op universiteit en my seun 7jr. Ons het als van hulle op universiteit betaal, van klas- tot by sakgeld en ek glo dit was danksy die Here se genade – alhoewel ons dit maar swaar gehad het en bitter min vir onsself kon doen – het ons als betaal.

15. Daar was al oor my besigheid in die Rapport geskryf – ek het vir niemand tot vandag toe vertel nie – dit het gevoel of Rapport my werk heeltemal verkeerd beskryf en aangehaal het. Die mense by my kantoor het wel geweet en ook gedink dat hulle my verkeerd aangehaal het.

16. Finesse het al ‘n artikel oor my geplaas as besigheidsvrou in ‘n baie moeilike mark. Weereens het ek vir niemand in my direkte kring vertel nie, ek het wel in my kinders en my suster se onthou-bokse elkeen ‘n kopie gesit, miskien blaai hulle eendag daardeur en sien hulle my foto en storie wat daarin pryk. Die onthou bokse is bokse waarin ek goed sit wat ek dink kosbaar vir hulle sal wees.

17. Ek was al gevra om in ‘n klein bundel ‘n storie te skryf, saam met ander bekende skrywers – weereens het ek nog nooit vir iemand daarvan vertel nie, die onthou bokse het ook elkeen so bundel vir eendag, CUM het die bundels verkoop.

18. Ek en my persoonlike assistent het al ‘n boek geskryf oor ons werk. Dit is bemark op Kalahari en ‘n boekwinkel so hier en daar. Ons het so paar al verkoop. Maar ons gaan nie juis ryk raak daaruit nie, aangesien nie een van ons lus is om voluit te bemark nie. Ek is nie goed met bemarking nie. My kinders en man weet darem daarvan. Maar van die pr sent royalties weet hulle nie.

19. In my lewe het ons al drie huise gebou, waarby ek die meeste betrokke was by ons tweede en derde huis, ‘n vakansiehuis in die Kaap – ons derde huis (my huidige woonhuis) se erf het ek op gaan bie, terwyl my man in Swaziland was – boonop het ek niks geweet van bie nie, en dit doodeenvoudig op my vriendin, die wisk juffrou se man se aanbeveling gedoen. Beste belegging ooit. Weereens was ek die betrokke persoon by die bouery, terwyl my man net dan en wan hier was en dan gekla of geglimlag het.

Ons bou nou aan ons vierde huis – ek is in beheer van dag een af. Ek het natuurlik ‘n paar honderd duisend rand verloor oor ‘n skelm bouer, Cobus du Plessis. Maar die huis is nou amper klaar – lieflik mooi teen die Helderberge in Somerset Wes. Van die plan tot waar die huis nou so te sê klaar is het ek als saam met ‘n fantastiese bouer Leon Wessels gedoen, alhoewel hy soos ‘n surfer lyk, is hy ‘n bouer duisend. Die bouer, Cobus du Plessis, wat ons besteel het lyk en klink soos ‘n predikant, ek gooi sommer bietjies bietjie op, as ek aan die skelm dink. Ek was nog nie eenmaal in die Kaap vandat ons die vorige bouer op die erf gaan ontmoet het in Okt 2017. Als is oor die internet en telefoon gedoen – ek en my man het ooreengekom hy wil eers sien die dag as die huis klaar is, anders is dit net ‘n groot geveg tussen my en hom. Hy weet net min of meer die huis se uitleg, dat ons op ‘n stywe begroting is, en dit is dit.

20. In my huis is ek minister van finansies – dit het gekom toe my man oorgegaan het Swaziland toe en nooit weer verander nie. Ek haat dit, want die druk wat dit op my sit maak my knorrig. Ek sal dit nooit aanbeveel nie – ek is jaloers op my vriendinne wie se mans dit doen, want hulle kan net vir ‘n geldjie vra as hulle vasbrand… ek nie.

21. Ek het my man ‘n pr jr gelede amper verloor nadat hy ‘n massiewe hartaanval kort na ‘n angiogram gekry het. Die een oomblik het hy vir my gewaai na hy uit is by die angiogram teater, toe hy in die intensiewe sorgeenheid kom het hy ‘n hartaanval gekry en moes hulle hom “bybring” en dadelik terugstoot in die teater. Ek het daar letterlik gevoel hoe word die mat van die lewe onder my uitgeruk en daar besef dat ek geensins gereed is om hom te verloor nie.

22. Ek was al in ‘n gewapende roof en het in die loop van ‘n vuurwapen vasgekyk omdat ek probeer vlug het. Ons is almal, ongeveer 8 mense, in ‘n stoorkamer toegesluit tydens ‘n winkelroof. Almal is ook beroof van hul persoonlike besittings, niks is van my geroof nie. Die vrouens se juwele is ook van hulle afgeruk – alhoewel ek die duurste juwele gehad het, glo ek, het die rowers myne nie gesien nie, danksy die Here. Ek het letterlik my hele lewe in kiekies voor my sien afspeel – baie vinnig, my lewe vandat ek ‘n dogtertjie was tot op daai oomblik. Ek het die rowers gesmeek om my nie dood te maak nie toe hulle die wapen op my gerig het – ek glo dat die Here daai dag beheer oorgevat het. Ek het nooit gegaan vir berading nie, alhoewel almal vir my gesê het om PTS te voorkom moet ek gaan, het ek my berading by die Here gekry. Ek was hier die bangste in my lewe, naas die keer waar ek, my ma en my jonger suster deur ‘n klomp boewe geteister is op ons plot, (ons twee was seker onder die ouderdom van 10 gewees) my ma het ‘n hele klomp doodgeskiet en gewond in die middel van die nag, alhoewel sy voor dit nog nooit ooit ‘n vuurwapen hanteer het nie.

23. My seerste seer in my lewe was my seun se egskeiding.

24. Maar wat ek op die oomblik die meeste mis in my lewe is my skoonma en dan veral my eie ma, ek sou wat wou gee om net ‘n laaste keer in haar rustigheid te kon gaan sit en te vertel van my lewe…

( dit is ek, na ek al die goed weer gelees het, besef ek dat ek tot op hede ‘n vol lewe gehad het, al het ons nie die wêreld vol gereis en altyd vakansie gehou het nie, het ons geleef en ek besef dat as dit nie vir die Here in my lewe was nie kon dit dalk heeltemal anders en in absolute chaos uitgedraai het – Hy was en Hy is nog altyd by my en my geliefdes, terwyl ek besig is met my storie hierop aarde!

Nou weet julle nie nie net van my nie, maar ken my storie so half en half 😉😉)

En so lyk die uitsig vanuit die hoofslaapkamer van die huis waarmee ons nou besig is. ‘n 180 grade uitsig van Gordonsbaai regdeur tot by Kaappunt.

Advertisements