Dit is die eerste keer dat ek, okay, nie ek nie, maar iemand ontdek het my pieringoog het gejok en besluit het om my dadelik te vertel.

Dinge is maar gespanne met als wat die nuwe gesin moet “juggle” en dit is nog erger met die dat hulle ‘n saamgestelde gesin is. ‘n Pa en ma wat elkeen ‘n kosbare ou dogtertjie by iemand anders het. En die feit dat daar soms oorkompenseer word juis oor die geskiedenis, help ook nie – kindertjies is slim en kan dit tot hul voordeel gebruik – ek noem dit manipulasie.

Gister laatmiddag kry ek ‘n oproep van my seun af, pieringoog wil haar ma sien word daar aangekondig. Wat het nou daartoe bygedra, vra ek. Sy het al huilend vir my vertel dat die maatjies by die skool haar uitvra oor haar ma en dadelik kry ek snuf in die neus. M het sommer dadelik die maatjies se ma gebel en vir hulle gesê dat hulle asb vir hulle dogtertjies moet sê die uitvraery is onaanvaarbaar! Sy is pieringoog se ma en basta met die res.

Rustig vra ek hom of hy nie dink dat pieringoog dalk so bietjie van die waarheid afwyk nie?? Wel, M het die ma’s gebel. En die een maatjie sê sy het haar nog nooit oor haar ma uitgevra nie! Ai toggie, julle moet pasop om oorhaastig op te tree want netnou wil niemand met haar speel nie, maar julle moet haar aanspreek en duidelik laat verstaan ‘n jokkery is onaanvaarbaar. As sy probleme het moet sy die waarheid praat en nie julle manipuleer nie.

Wel, ek het vir haar nou die feite gegee en gesê dat haar ma het 7jr terug besluit sy los ons vir ‘n ouman, die laaste keer wat sy haar ma gesien het was die dag voor haar oupa se begrafnis in 2015, sy is nie eens na haar eie pa se begrafnis en het tot nou toe nog niks van haar laat hoor nie, nou verlang sy na haar ma? Dit werk mos nie so nie, pieringoog moet nou maar die feite hoor. Maar ek het haar ma gebel en vir haar ma gesê dat haar kind wil haar sien – miskien kom pieringoog agter wat haar ma rerig is as sy haar nou sien. Sy sal ons vlg Saterdag by die Wimpy ontmoet. Toe ek die foon vir Pieringoog wou gee om met haar ma te praat het sy gesê sy wil nie met haar praat nie, want sy is bang sy huil as sy haar ma se stem hoor.

Ek noem aan hom dat ek sterk twyfel of haar ma gaan opdaag, maar my seun reken sy sal, want sy sal nie haar nuuskierigheid kan bedwing om te sien wat gaan aan in hul en veral sy lewe nie. My maag trek op ‘n knop en ek worry oor my pieringoog, ek worry dat sy dit nodig ag om te jok, ek worry dat sy maatjies betrek het in haar gejok, en waarom op aarde sou sy nou begin jok, iets wat sy nog nooit gedoen het nie?

Ek wonder oor ma-skap, wie is nou eintlik jou ma? Is dit die vrou wat geboorte aan jou gegee het, of is dit die vrou wat jou versorg, hare kam, pleisters plak en vashou as jy jou op haar kom neerplak. Die een wat haar vinger in jou mond druk om te sien waar jy nog ‘n tand uitgewissel het sonder om te blik of te bloos. Asof jy uit haar kom? Die een wat rerig hard, baie hard probeer om nie onderskeid tussen haar eie en iemand anders sin te maak nie – ek wonder?

Dit is baie moeilik om nie kwaad te raak vir pieringoog of haar ma nie. Na al die pyn waardeur ons is soek sy nogsteeds na die vrou wat gewillig was om haar te ruil vir ‘n ouman, ‘n dronk een daarby . Ek bid daaroor en sal nooit ooit vir pieringoog wys hoe ek somtyds voel en al die vrae wat ek het nie. Partykeer dink ek sy het pieringoog doelbewus gelos omdat sy geweet het dat by haar pa aan al haar behoeftes voorsien sou word, ander kere sê ek vir myself sy het haar kind weggegee asof sy ‘n hondjie was en moet ek bid dat haat my nie kom “devour” nie. Ek en my man het so groot emosionele terugslag beleef met die egskeiding en dan praat ek nie eens van die finansieële implikasies nie, wat ons nou nog voel. Maar lsg is okay, mens kan herstel, maar ai, die emosionele skade. Ek het nog nooit ooit weer na die lewe gekyk soos ek voor die egskeiding gekyk het nie. Ek het bietjie stiller en bietjie meer agterdogtig geraak, ook ‘n bietjie meer depressief. Ek het elke jammer blik wat ek gekry het gehaat, dit het my minderwaardig laat voel, my eie huwelik het ‘n knock gevang omdat my man op die beste van tye nie my hartseer kon verdra nie, en als eerder uitmekaar wou slaan wat daartoe bygedra het dat ek skielik ‘n ander mens is, totdat hy ook net moeg en arms langs die sye anders na my begin kyk het.

Nou jok my pieringoog en ek verstaan nie waarom nie – dit is nie nodig nie want niemand sal ooit haar behoeftes afmaak as niks nie. Ek is bang dat sy dalk, net dalk, haar agtergrond gaan gebruik om te manipuleer – my sagte engel – my hart sal dit mos nie hou nie.

En my hart gaan uit na elke oupa en ouma wat ookal hierdeur is, en wat ookal op stadium as surrogate moes intree, om net weer terug te tree – met harte wat keer op keer in die slag bly? Terwyl hul eie lewe op “hold” is. En weer sê die stem binne my, never say never! Never is a very long time with many regrets. Ek onthou hoe “die vrou wie ek was” so graag die woord never gebruik en rondgegooi het, asof dit net nog ‘n goedkoop woord was. Nou, hier waar ek skryf en terugkyk sien ek ‘n hondebak vol van die nevers wat ek deur die loop van die afgelope 12 jaar gebukkend moes opeet, en ek weet dit is iets wat nooit weggaan nie – ons leer net om aan te pas by die oomblik, en dan bid ons vir genade van ‘n God wat vol vertroue in ons aarde toe gekom het om vir ons genade aan ‘n kruis te kom wys, ongeag dit wat ons aan die kinders wat Hy aan ons geskenk het gedoen het…

(The Split)

Advertisements