Ek is uit “gestad”, ek kan nie meer verkeer nie, ek kan nie meer winkelsentrums nie, ek kan nie meer bure in b-m-w’s of groot wit merc’s nie, ek kan nie meer rekeningstate nie, ek kan nie meer bankstate en veral nie Rekenmeesters nie, ek kan nie meer UIF nie, ek kan nie meer worry of ander mense werk… of nie werk nie.

Dit als kan ek nie meer nie, en Januarie het nog nie eens sy “gat” gesien nie.

Skattebol, ek is soos ‘n vasgevangde dier. Ek dink glad nie dit is hoe die Here dit beplan het nie – ek haat dan als daarvan. Ek kry heeldag en aldag warm, voel of ek in “duhrben” bly – die hitte maak my dood, ek is heeltyd nat en bemoerd. Dit is so nie ek nie – ek is mos gewoontlik net stil, sonder die bemoerd…

Asb Here, ek wil nie meer nie. Skattebol, kom ons vat jouse “pension” en gaan voel hoe voel dit net om mens te wees, iewers naby die see, nie in Costa Rica nie – ook nie in Portugal nie, maar in ‘n plek nes Gansbaai – daar waar mense nog mense mens is en nie robotte van ‘n korrupte regering is nie.

Ons gaan nie tv in die voorhuis nie, ons sal nie na selfone staar nie – ons steek ‘n vuur aan en luister asb tog net na al die kunstenaars van “die Wasgoedlyn”, die Anton Goosens en die David Kramers, maw die regte egte musikante, kunstenaars met snaar en klawer, of langs die see sal ons viswater met ‘n stok of twee of langs die vuur met laaaaannnng glase dooswyn en dan en wan onse kinders langs ons, waar ons net die rustigheid van die lewe kan inneem, sonder die alewige “tjiep” duurkoop geklingel van die stad…

Skattebol, dit is Januarie en ek is moeg… ek wil gaan “pension” nie in Costa Rica, nie in Portugal… net in Gansbaai waar niks altyd als is, terwyl Dawid of Anton in die agtergrond hul melankolie neurie… en ek en jy my lam sit en dooswyn drink langs die vuur, al is dit in ‘n beker of “champagne-glas” met onse kinders elke dan en wan net omdat hulle ons enigste goeie nalatenskap aan ‘n baie plastiekagtige wêreld is….

Ek is moeg gestad my lam!

Advertisements