Ons het laas Saterdag by Frieda gaan eet, sy is skoondogter se ma en Lainey se Tannie Frieda – sy sukkel met die Ouma Frieda ding.

Sy het ouma Shoes (Sue) wat sy laas in 2015 op haar ma se pa se begrafnis gesien het en ouma Elanè. Die aangetroude ouma is nog iets om aan gewoond te raak, of miskien voel sy dalk net sy verraai vir ouma Shoes, as jy tannie Frieda nou ook nog moet ouma, who will ever know wat gaan in die koppie van ‘n geskeide kindjie aan??

Maar terug by Frieda se ete. Ons praat oor dit en dat en onder andere oor familiename.

My seun dra trots aan die familienaam, RWAJ vd Westhuizen – ek het in my jonkheid gevoel aangesien hy die laaste vd Westhuizen seun is moet hy sy oupa se naam voortdra – dit doen hy met groot trots. Ongelukkig lyk dit of hy sy oorlede oupa se temperament het. Ons het hom nooit geken nie, hy is oorlede toe my man ‘n 12 jarige seuntjie was op die vroeë ouderdom van 36jr. ‘n Rekenmeester – ontsettend streng met vrou en kinders, als moes altyd eksie perfeksie gewees het en hy was ‘n groot voorstaander van #kinders word gesien, maar nie gehoor en die rottang inlê.

My man sal male sonder tal vir my sê my kinders kon baie bly gewees het sy pa was nie hulle pa nie. En as ander kinders iewers lyk of hulle nie maniere het nie sal hy ook maklik sê, my pa sou die wit waks uit hulle geneuk het as hulle sy kinders was en hy het glad nie omgegee om ander mense se stoute kinders te neuk as hulle in ons geselskap was. En as die ouers durf iets sê sou hy sommer vir hulle ook vertel het waar Dawid die wortels begrawe het. En dat hul kinders geen maniere het nie!

My seun is darem nou nog nie so erg nie, maar die se draadjie is ook maar kort.

My dogter, soos julle weet het ek half en half na my ma vernoem, onder druk van my ma se susters en as ‘n baie jong ma het ek ingegee.

Wel my ma is met ‘n kompulsiewe dobbelaar, en vroeë alkoholis getroud, die een dag was ons skatryk net om die volgende dag weer brandarm te wees. Hy het my ma gereeld aangerand en baie buite egtelike verhoudings gehad. Wat ek wel kan sê is hy het ons ook maar geneuk maar ek glo hy was en is nogsteeds baie lief vir sy kinders, en veral noudat hy oud en sieklik is is sy verhoudings met ons verseker sy lewenslyn. Ons help hom finansiëel asook emosioneel. Ek dalk net omdat ek dit verskuldig aan my oorlede ma voel.

Vir jare en jare het ek gevra waarom sy hom nie skei nie, hy slaan haar in ‘n pulp en dan lieg ons almal oor waarom sy so lyk? Sy kon dit net nooit regkry om uit haar geweldadige huwelik te breek nie. Noudat ek self middeljarig is besef ek dat vrees haar in die huwelik gehou het, en latere jare het sy aftakeling en haar eie afhanklikheid haar totaal en al interafhanklik gemaak van hom.

En toe waaragtag sal Frieda nou die aand vir my sê sy glo glad nie aan familiename nie – dit bring vloeke mee asook ‘n spul erfsondes.

Geskok het ek aan, veral my dogter se snaakse verhoudingslewe gedink en haar in my agterkop hoor skree dat ek haar met haar ouma se naam gestraf het, dat sy die naam haat! Hoe kon ek dit doen?

Ek het haar oor en oor verseker dat my ma ‘n stukkende vrou was danksy jare se mishandeling en nie agv ‘n naam nie.

Nou steek Frieda se woorde vas in my kop, ek wonder oor beide my kinders se name – was ek dan so verkeerd in my jonkheid toe ek en hul pa op name besluit het, wat die hel?

Die hele week praat ek kort kort met die Here en vra Hom om my asb hiermee te help, want kan ‘n naam mens werklik so vreeslik define, ek weet in Bybelse tye het name baie betekenis gedra, maar toe ek name gekies het was ek self skaars volwasse in my loop met die Here, ek sou nie eens amper daaraan gedink het om ‘n naam wat ‘n seëning spreek elke keer wat ek hulle roep gegee het nie. Ek het ingegee onder druk en lojaliteit – nou sê iemand vir my dat ‘n naam vloeke dra met ‘n spul erfsondes daarby.

Dit maak my naar – miskien moes ek net dalk bietjie meer navorsing rondom die naam ding gedoen het as jong ma – ek was jonk, oningelig en was ‘n regte people pleaser.

Maak dit rerig so erg saak, bepaal ‘n naam rerig jou lot? Ek twyfel, want die Here wat ek ken is baie duidelik dat Hy jou by die naam roep maar dat Hy net omgee oor wat in jou hart aangaan.

En hopenlik sal ek voor die einde van Januarie weer vrede hê met my kinders se name, ek kan niks nou daaraan verander nie, maar ek sou wel as ek dit moes oordoen, beter navorsing gedoen het.

Intussen sal ek my doofhou vir ander mense se menings en opinies – want wat anders is dit rerig as net hulle mening, hulle opinie.

My naam beteken blykbaar sonstraal en ek kan hier, onomwonde sê,

BS… ek is als behalwe ‘n sonstraal 😉😉

Advertisements