My liefste Laan,

hemel op aarde vir my is die slag wat ek jou vir langer as ‘n dag of twee kan hê. Iets wat deesdae selde gebeur. Jou pappa is maar suinig met jou deel. Ek meng nie te veel in nie want ek verloor altyd.

Maar ja, jy het gisteraand vir die laaste paar aande van jou skoolvakansie by my ingetrek. Dit is lekker vir my.

Maar as ek in die stilligheid na jou loer besef ek dat jy ontsettend vinnig grootword. Selfs jou kleresmaak wys dit, die dae is verby waar ouma jou sommer in regte egte dogtertjie klere kan aantrek. Jy verkies ook om jou eie klere te kies die slag wat daar klere gekoop word. Rooi kousrokkies met piepklein polka dots, af die skouers – ouma dit was die mooiste rok ooit en toe gooi tannie Frieda dit in die verkeerde hopie, nou droom jy dag en nag oor die mooi rooi kousrokkie met sy polka dots en af die skouer moue. Jy kon nie ophou praat oor die rok en die ontnugtering daarna omdat die rok toe nooit in die inkopiesak beland het nie. Maar ouma sal daai rok spesiaal vir jou gaan soek, want niemand, maar niemand mag net droom oor hulle eerste rooi polka dot af die skouers kousrokkie nie, veral as jy al ‘n volle 10 jaartjies is.

Grd 5 is jou voorland, waarheen het die tyd gevlieg my liefste peiringoog? Ek raak benoud want jou oupa se kop staan al die pad op “weg se paaie”, ver weg, verkieslik oor die oseaan en as DIT nie kan nie, dan heeltemal uit die provinsie, in daai besluit het jou ouma nou nie juis ‘n keuse in haar stem nie… ouma sal maar net agterna.

Maar ai, jy is dan my skootkind, oor jou het ek al ‘n hele oseaan se trane gestort, op jou en jou selfvertroue is ek absoluut versot – al sien ek dat jy ook maar ‘n enkeling op hierdie aarde is, wat jou eie geselskap waardeer solank jy van tyd tot tyd Zoë se heelbeste este maat kan wees, soos vele ander dogtertjies graag wil hê jy moet wees, Carla, Shizelle sê jy is hulle beste este maatjie maar Zoë wys dit in die mooie vriendskap-hangertjie wat sy vir jou en haar gekoop het. Jy dra die helfte van haar hart terwyl sy die ander helfte dra want julle is beste este…

Dit is lekker vir my om te weet dat jy meer as geliefd is onder jou maatjies, dat elkeen van hulle ‘n stukkie van jou soek. Ouma lag as jy vir Zoë sê jou nickname is Lainey, en dan om te hoor hoe klink jou nickname uit jou beste este maatjie se mond. Sy sê jy is nou nie meer vir haar Elaine nie, jy is nou haar Lainey, ek sien jy hou daarvan.

Ouma hoor jou verlange na mamma as jy my begin vertel van haar. Ouma, jy weet mamma het my geleer van kougomborrels blaas. In my stilligheid wonder ek daaroor want jy was nog nie eens 5 toe sy uit jou lewe is, maar as dit is wat jy glo is dit okay met my.

Ek onthou hoe jy gehuil het oor mamma, ek onthou hoe ek vir jou gesê het, net om jou aandag weg van mamma te kry, as jy saam met ouma ry dan kan ons oopmond kougom kou sodat dit klik klak in ons monde. Ek onthou hoe ek gesê het ek sal jou wys hoe om kougomborrels te blaas tot dit met ‘n harde klapgeluid in ons gesigte bars. Oomblikke wat jy dan uit jou maag gelag het omdat ek vir jou gesê het ons mag maar oopmond kou, maar net as ons in ouma se Honda alleen is, ander kere spoeg ons kougom uit as ons in ander mense se geselskap kom en ons mag dit nie net enige plek uitspoeg nie, want die arme voëltjies dink dit is ‘n saad, en dan pik hulle dit dan kan dit in die voëltjies se snawel vassit. Ons spoeg dit altyd in ‘n papiertjie en gooi dit dan in die asblik sodat niks dit in die hande kan kry nie. Dit is hoe ouma dit onthou, maar as jy dit onthou met mamma wat dit gedoen het is dit altyd okay – elke kindjie is geregtig op mamma oomblikke en mamma onthou’s.

Ouma, my pa sê as ek weet waar mamma bly kan ek vir haar gaan kuier, maar sy is missing in action. Sy het my lank terug gebel en gesê ek moet vir haar kom kuier, maar sy het nie my haar adres gegee nie, en pappa het gesê sy moet eers vir my by sy huis kom kuier, dan mag ek miskien vir haar gaan kuier as ons haar adres het. Maar ja, sy is nou eers missing in action.

Ag my Laan, mamma het goed wat sy eers moet uitsorteer, maar ouma is doodseker as jy ouer is sal sy kom sodat jy ook vir haar kan kuier want sy het jou baie lief. Ek weet ouma, ek weet.

Dan wonder ek my selfsugtige wonders, wat was my rol in jou lewe? Weet jy hoe lief ek jou het? Weet jy hoe vinnig is die laaste dekade verby in my lewe? As ek terugdink is dit met geweldige dankbaarheid teenoor die Here, wat my deur sulke moeilike oomblikke gedra het – ek bid gedurig dat jy vir altyd geliefd sal voel, ongeag wat die wêreld na jou kant toe gooi, mense wat nie bemoeienis met jou maak is die groot verloorder, want jy is voorwaar ‘n baie unieke mens wat baie waarde tot enige mens se lewe bied.

My liefling mag jou 2019 vol mooi herinneringe van jou grd 5 jr wees, mag jy sommer nou al lewenslange vriendskappe vorm, mag jou drome waar word en mag jy vir solank jy lewe onthou hierdie ouma het jou opreg liefgehad met ‘n hart wat enige storm nms jou sou stormloop, net om jou eie seer minder te kon maak.

Onthou jy is geliefd, nou en vir altyd want jy is die appel van SY oog!

Lief jou

Ouma xx

Advertisements