… die jaar is byna verby.

‘n Grondpad jaar, ‘n jaar van vele erkennings aan “dieself”.

Daar was dae waar ek die mooiste uitsigte gehad het, en dan was daar dae wat ek kaalvoet oor rowwe paaie moes hardloop om net op ‘n beter plek te kom as gister.
Soms het ek hard op my knieë geval omdat ek net nie kans gesien het om verder te loop nie. Dan was daar dae waar ek rustig kon loop sonder omkyk of omdraai. Ek het wel die mooiste veldblomme gepluk, sommige het ek oppad verloor, maar dis okay. Daar was dorings wat my vele kere gesteek het sodat ek vir dae net nie meer kon loop nie… maar dis ook okay.
Dit was n lang harde pad,
soms droog,
soms eensaam en alleen,
soms met stukkende skoene maar dit was n goeie pad…

Iets geleer?

Verseker!

* Dat niemand die pad vir jou kan stap nie, maar wel net saam jou en net as hulle gewillig is!

* Dat niemand jou gelukkig kan maak as jy nie self gelukkig is nie, dit is nie hulle opdrag nie – geluk is ongelukkig nie tasbaar nie, dit het nie rand en sent waarde nie, alhoewel meeste van ons dit soek in die tasbare – GELUK is ‘n innerlike gevoel van vrede met “dieself”.

* Dat niemand jou lewens-tas vir- of namens jou sal uitsorteer nie.

* Dat min of geen persone jou enduit gaan, of wil of kan help.

* Dat beloftes soms leë woorde is, dit is somtyds ongelukkig net ‘n skewe manier van “conversation” maak.

* Dat opgee nooit ‘n opsie is nie, soos Paulus gesê het, die lewe is ‘n wedloop teen jouself na ‘n doelwit wat net God die Vader kan vervul.

* Dat mens soms net moet sit en rustig word en dankie sê, want soms is dit die enigste woord wat sin het in daai oomblik.

* Dat daar altyd iemand sal wees, selfs diegene naaste aan jou, wat in die middel van jou reis sal staan omdat hulle dit nie vir jou gun nie – ongelukkig is dit deel van die mens se natuur en het dit reeds in die paradys begin met ‘n eenvoudige vrug soos die appel.

* Dat mens net die beste weergawe van jouself kan wees, moet nooit jou moed verloor in iets wat jy as mens regtig wil bereik nie, wees net versigtig sommige mense droom die lewe by hulself verby. Ons moet die werklike oomblikke/geleenthede aangryp, voor dit dalk net te laat is.

Waarom?

Want “AS” ek net… is verbrande hout, met drome wat die lug ingaan

Ja, daar was goed én sleg maar ek sien uit na die nuwe pad wat voorlê vir 2019.

Hier waar ek nou sit is ek glad nie bewus van hoe die paadjie se kronkel-kronkel gaan loop nie – maar een ding wat ek weet is loop gaan ek dit loop, nes al my vorige lewensjare, want my Vader het my hand in Sy greep en juis daarom sal ek nie bangwees nie – Hy ken reeds die pad! Hy het alreeds lank gelede self die pad gestap.

Kom maar 2019, jy is net nog ‘n getal!

Advertisements