Ek het hierdie engel so paar jaar terug vir my dogter gekoop. In die tyd wat my en haar verhouding so half en half uitgerafel het en ongemaklikheid plek in ons monde vir en met mekaar kom maak het.

Ek is ongelooflik lief vir die kind van my wat op die beste van tye sukkel om haar onvergenoegdheid met my weg te steek.

Vandag toe ek in haar huis gaan, soos my gewoonte vroegaand, net om gou al haar blinders toe te trek voor donker, sien ek die engel lê plat op haar klavier – dadelik sê my kop vir my dit moet my dierbare Gracie wees, sy is juis in die gewoonte daarvan om goed wat sy breek netso te los sonder ‘n woord.

My eerste gedagte is dat my dogter baie vies vir haar gaan wees, want ek glo sy het ‘n sentiment daaraan.

Die tyd toe ek die engel vir haar gekoop het het ek juis vir haar gesê, “Bokkie, ek gee die engel aan jou as ‘n simbool van my ❤ – ek dra my ❤ oop en blootgestel as dit by jou kom, op die beste van tye kan ek nie verwoord hoe ek op ‘n stadium voel nie, maar weet jy net my ❤ is altyd net vol liefde vir jou”.

En weer ‘n slag dink ek so by myself sy gaan verseker die vieste in wees vir Gracie – dit is so kosbare beeld, nie in geldwaarde nie, maar ek glo in die simboliek waarmee ek dit aan haar gegee het.

Ek vat die engel na my huis want ek wil kyk of ek nie die afvlerk kan lap nie. Terwyl dit oop en bloot afvlerk op my eetkamertafel lê stap sy na werk by my in – non chalant sê sy vir my – o, ek sien ma het gesien die ding is gebreek, ek dink Fiela het dit gebreek.

Stomgeslaan en effe gekrenk sê ek vir haar ek het gedink dit is Gracie se werk, ek wil kyk of ek dit nie kan red nie – dit is so mooi vir my, dit is jammer dit is nou gebreek. En uit is sy sonder ‘n enkele woord van enige iets rondom die engel.

Na ete dra my man als aan wat Gracie die afgelope jaar in my huis gebreek het en sê, aangesien ek nou besig is om als te hospitaliseer en heel te maak kan ek nou maar die groepie ook probeer red.

Dit is af-vingers, af-tone, ls. af-vlerk, en stil stil sit ek en lek en plak als wat stukkend is. “Kaggelkakkies” wat my kinders toentertyd vir my gegee het op moederdag-dae en ander spesiale dae, goed wat ek met die beste wil in die wêreld net nooit kon wegsmyt nie, juis oor ek iewers diep binne my ‘n stukkie sentiment wegbêre wat ek baie goed vir die wêreld kan wegsteek.

Die engel lyk nog mooi na my poging, ek sal more die stukkende naatjie met ‘n goue stukkie gomwerk mooimaak, amper soos daai keramiek goed wat die Chinese so met goudstof regmaak en dan skielik is dit kuns, van ‘n heel ander aard en is dit miljuisende rande werd – ek voel trots op my handewerk!

En weer stap my vreemde kind in, en vra watse geluide maak haar pa dan nou – ek sê vir haar, verseker niks, ek dink sy hoor haar buurman want haar pa sit nog heeltyd doodstil en speel skaak hierby my, en hy is nie juis iemand wat vreemde geluide maak nie.

O, sê sy, en stap netso vinnig uit. Ek kyk na die engel met die hart in haar hande en ek wonder oor die kind van my – ek moes iets vreesliks aan haar gedoen het met die dat sy nie eers amper iets stukkend rakende die simpel engel uiter nie, ek besef die engel sal vir eers ‘n staanplek iewers in my huis kry, en daarna sal ek dit met mooi sagte tissuepapier toedraai en haar saggies gaan bêre in die onthou-boks wat ek deur die jare vir haar goedjies/briewe/juwele van my en haar oumas, mooi boeke ens gaan neerlê, en miskien eendag sal sy die boks oopmaak en my woorde rondom die geskenk onthou en hopenlik besef dat ongeag als wat ek iewers in haar lewe verkeerd gedoen het, ek haar verskriklik baie liefgehad het… EN IEWERS LANGS HAAR LEWENSPAD SAL SY DIT DALK KAN OPROEP EN DEEL VAN HAAR ONTHOU MAAK!

Advertisements