Die laaste 12 jr of so het ek waaragtig deurgeloop onder mense se venyn. Ek weet nie of venyn maar iets is wat tydig en ontydig aan almal van ons se deur kom klop nie?

Maar die ergste #venyn was van mense wat ek ongelooflik liefhet en sommige, in die verlede tyd liefgehad het. Ja, want sommige mense kan mens, dank ons Liewe Vader, uit ons binnekring werp sonder om skuldig te voel, juis omdat op ‘n gegewe oomblik dalk die beste vir jou as mens was. En dan was daar die wat jy wel weer toegelaat het, maar die keer met groot versigtigheid en agterdog en nie heeltemal so na aan jou hart as voorheen nie. Dit is met diegene wat jy jou woorde bietjie meer tel voor jy dit uiter, en somtyds selfs half vals is net om jouself te beskerm vir die slag wat dit dalk nodig mog wees.

Met tye het ek selfs gedink ek sal doodgaan van die pyn, danksy venyn. My hart het letterlik gepyn, en ek is oortuig daarvan dat daar selfs fisieke skade oorgebly het aan my hart agv dit.

Dan was daar diegene wat ek noodgedwonge moes toelaat en vertrou in my binnekring – ter wille van my direkte gesin vir wie ek onsettend lief is. Ek moes myself dwing om hulle onvoorwaardelik te aanvaar, sonder voorbehoud.

Maar ai, elke dan en wan skemer daai sagte subtiele stukkie venyn deur. En dan is my hele wese “ge-rattle” daaroor, want vir konfrontasie sien ek nie kans nie. Al wat ek doen as ek “daai besef” van die persone se venyn ervaar, sal ek myself vir ‘n wyle distansieër of doodeenvoudig my stem verloor. Myself oor en oor die versekering probeer gee dat ek nie skuld daaraan het nie, terwyl die scenario wat aanleiding tot dit gegee het oor en oor afspeel in my geestesoog, want miskien, net miskien het ek dit die slag verdien.

Soos die afgelope naweek wat my nuwe skoondogter my tuinier kom oplaai het om hulle in hul tuin te kom help. Haar en my seun se karre is altyd maar vuil agv min was, buite parkering by beide se werke, en dan danksy twee jongkinders wat altyd iets saam moet sleep en dit dan sommer ook net in die kar sal los. Ek EN my man spot hulle gedurig daaroor, en dan is hul verskonings legio. En daar word altyd gelag daaroor. Die Saterdag toe sy my tuinier kom oplaai was ek alleen. Ons het gelag en gepraat en die luim was lig vrolik, Lainey was vir die naweek by my dus het ek behoorlike vreugde in my siel gehad. Toe ek die skoondogter afsien terg ek haar deur oa vir die tuinier grappenderwys te sê, “G, you see why the kids need you this weekend, they want you to wash the cars and clean it on the inside… You better help them with that.”

Die skoondogter het saam met my gelag, en saam gespot en nog gesê dit is agv die biljetstrooiers by die robotte dat haar kar so lyk, sy “MOET” altyd hulle ondersteun deur te vat, dit wat hulle ookal op ‘n gegewe oomblik uitdeel. Lekker lag ons, Lainey sê nogal, ja, ouma vat dit ook altyd want sy voel jammer dat hulle so in die son staan. Ek groet nogal met ‘n soentjie wat ek blaas toe die skoondogter en my tuinier die pad vat, en almal lag en is volgens my vrolik.

Die Sondag kom drink hulle koffie na kerk by ons, soos dit hulle gewoonte is. Ek sit net lekker om my koppie koffie te drink toe my seun my aanvat. Ja, ek hoor ma het nou weer gister vir skoondogter aangegluur oor haar kar kamtig so vuil is? Dit voor die tuinier??

Verboureerd stotter ek oor hy my so onkant vang, weer voel dit of iemand my hart druk, daai ou pyn wat ek al so gereeld voorheen gevoel het. Ek voel of ek net daar kan neersak en aan die grens gaan. Maar ek ruk myself reg… en sê reguit vir hom, dat dit geensins die geval is nie, ek het haar nie eenkeer aangegluur nie en sy het nog saam met my en tuinier daaroor gespot toe ek vir hom sê hy moet karre gaan was. Maar aangegluur? Verseker nie. Gegrap beslis, en saam met skoondogter. My hart pyn…. en ek sien haar ongemak en al wat sy uitkry is dat hulle moet ry, want sy het ‘n klomp goed om te doen.

Verder het ek nie ‘n enkele woord gesê nie, ek het gegroet asof ek glad nie my seun se aanname/aanval gehoor of gevoel het nie.

Ek het na my Lainey gekyk en binnekant het ek vir my kind gehuil want sy het al ‘n paar keer haar seer hart met my kom bespreek, en ek kan hier sonder enige gewetenswroeging sê, dat ek haar altyd gerustel en dat ek skoondogter nog nooit sleggemaak het nie, altyd reg met die een of ander verskoning oor waarom ek dink skoondogter doen/sê iets soos sy dit doen/sê. Maw ek regverdig dit, maar ek besef ook nes ek, ervaar my Laan dan en wan ‘n stukkie venyn in, “ag man, jy is groot gee dit vir Lianè. Nee Lianè, Lainey dink nie sy is jou baas nie, vir die slag wat Lianè vir haar ma roep en sê dat Lainey weer dink sy is haar baas, sy dink sommer sy is jou ma, onthou ek is jou ma, en sê dit vir haar as sy dink sy is jou baas! Ens.

My antwoord op lg was doodeenvoudig, dat Lainey moet onthou ‘n mens se jongste kind is maar altyd die baba in die huis, en ma’s en pa’s dink maar altyd in hul domheid hulle moet altyd opkom vir die baba of haar beskerm, en dat sy wat Lainey is dit glad nie moet ervaar dat hulle haar minder liefhet nie, maar ai… my hart pyn, daai soort pyn wat ‘n blywende letsel gaan laat, want ek sien, ruik en hoor die tasbare venyn in die stellings, en ek is heeltemal magteloos rondom dit ter wille van my liefste klein pieringoog.

En ek weet ‘n simpel ding soos ‘n gespottery en gelaggery oor ‘n vuilkar, gaan nou weer vir ‘n maand of drie kom nesmaak in my kop/hart en niks wat enige persone gaan sê gaan dit beter maak nie, behalwe tyd.

En elke keer is dit asof ek bietjie versigtiger met skoondogter raak, ek verloor my vrypostigheid elke keer ‘n bietjie meer, want ek weet nie wat haar agenda is nie, en ek wil ook nie weet nie. Al wat ek wel weet is dat ter wille van pieringoog en my kind sal ek my inhou en op my eie wroeg, want ek weet die Here weet, en dit moet maar genoeg wees vir my.

Oorsensitief is ek nie, maar oorversigtig is ek wel… want dit het die verlede my geleer meeste mense het maar ‘n agenda, maar dit moet maar tussen hulle en die Here wees, ek weier om betrokke te raak, want vir boomerang is ek nie lus nie…

Ek leen aan jou “my sondaarsgebed”

Advertisements