Sonder om name te noem, maar diegene van julle wat my blog volg, sal sommer weet van wie ek hier praat.

Een ding wat ek rerig haat is as mense my onderskat, veral my intelligensie.

Maar ja, die week is dit nou weereens gedoen en ek ervaar dit met absolute weersin. Sondag kry ek ‘n oproep van “iemand” af, wat my land en sand vertel van vleispryse wat opgaan en dat ek nou moet vleis koop, al moet ek ‘n bank gaan roof, beveel hy aan dat ek vleis moet koop. Hy kan vir my vleis teen bekostigbare pryse kry. Diegene wat my rerig ken weet ek is nie vreeslik hoog op vleis nie. As ons die slag wel vleis, vleis ons in lam, wat ek darem meesal in die vrieskas het. En dan natuurlik wildsbiltong, wat ek in die vleiseters se kosblikke pak vir die wis en die onwis, van een of ander te korte.

Ag shame, hy gee om oor ons, sê ek vir my man, hy sê beesvleis gaan net so duur soos goud raak ons moet koop, al roof ons ‘n bank, dit is nou ‘n verrassing dat hy bel hierop die Sondagaand. My man antwoord my en sê, moet nou asb nie ‘n bank gaan roof om vleis te koop nie, want ons vrieskaste is semi-vol met wat? Ek antwoord hom, ja, met suurlemoen wiggies en groente, bietjie vleis/biltong en baie brood. Maar nogsteeds dink ek by my selwers, dit is oulik van hom wat my nou wil vertel van vleispryse.

BOOM, net so voor ek my kantoor sluit gistermiddag kom die opdrag, Ag Lana kan jy my dalk help, ek brand so bietjie vas (soos altyd dink ek) met R900-00 net totdat ek Vrydag geld terugkry. Bemoerd, sê ek ja ek sal, maar ek betaal my voorlopige belasting aan die einde van die maand en moet ook nou elke sent omdraai, maar ek sal…. vroeg more-oggend. Ag JIRRE, jy moet dit net baie vroeg more oggend doen,ek sweer ek sal dit teruggee.

Ek het al lankal geleer ek leen eerder nie geld nie, want dan skep dit by my ‘n verwagting van, ek gaan dit terugkry, so ek gee dit maar en as ek dit terugkry is dit ‘n bonus.

Dadelik is my moermeter dieprooi, want waaragtag die slag het ek gedink hy wil net gesels, en vertel van die duur vleispryse – toe nou nie, hy was besig om my te softsoap want hy het geweet hy soek ‘n “lening”.

En vanoggend is die eerste oproep van die dag in my kantoor hy, ek sê vir my assistent sê vir hom ek is besig, ek sal hom terugbel. Toe die sms, het jy my bankbesonderhede?

DUH, dink ek, nee, waarom sal ek dit hê? Maar natuurlik het ek dit want ek weet daar sal vir altyd die een of ander dringende lening wees, en ja, ek doen dit nie met ‘n vrygewige hand nie, en dus sal dit sekerlik niks vir my in die hiernamaals beteken nie – want ek weet dit is eintlik nie hoe die gelenery hoort nie!!! Die gelenery omdat mens vrotsig beplan het in jou jongdae, en nie gedink het aan die dag van more nie, en dan nog boonop te moet hoor, ag ek weet nie hoe om dankie te sê nie… jy is so goed. Ek wil nie goed wees nie, want my man werk nog sy hele lewe lank soos ‘n slaaf, van vroegoggend tot laataand, ekself werk my gat af en is nie in Februarie en Augustus lus om vir enige mens geld te leen/gee nie, want ek het ‘n emmer vol geld, wat ek aan my voorlopige belasting moet betaal. Ek is nie goed nie, want ek is rooi en ek vloek dus het die soort lening geen ewigheidswaarde nie.

VANDAG IS EK NIE GOED NIE – EK SAL DALK WEER LUS WEES OM MORE GOED TE VOEL!!!! 

(en net vir fun sit ek die prentjie by van wat FB-sê van my, en die slag is FB tot op die letter-t reg)

Advertisements