Ek en my seun praat vroeër oor die slagoffer mentaliteit waaraan menigte vrouens deesdae ly. 

Ek sê vir hom, my gat se deksel is dat vrouens deesdae hulself “define” oor die man wat aan haar sy is. 

Vrouens het so hard baklei om as haar eie mens raakgesien te word in soveel fasette van die samelewing, net sodat ons wat rerig ‘n punt daarvan gemaak het om vroueregte die lig te laat sien, verstom moet staan oor die sg “millennieurs” van vandag. Veral vrouens.

Baie vrouens kan net nie ‘n lewe vir hulself maak sonder die teenwoordigheid van ‘n man in haar lewe nie, ongeag in watter hoedanigheid,  en ongeag of hy gesond is vir haar vrouwees. Maar “man” soek hulle.

Ja, ek praat seker maklik ek is al 33jr getroud, nogal met dieselfde man. Maar waaragtig as hy nie gesond was vir my nie, was hy beslis geskiedenis. Ek het hopeloos te veel selfrespek om opgeskeep te wees met ‘n man wat dink ek is sy vloerlap of hy is my brein. En hoor my lied, ek vat ook NOOIT weer ‘n ander een nie, as myne dalk ‘n gier kry of as dit tyd vir hom is om HUISTOE te gaan. Ek sal hom daar kry 😉 en verder liefwees vir hom.

Hoe is dit dat baie vrouens nogsteeds niks vir hulself kan doen nie, hulle weet nie hoe werk ‘n begroting nie, hulle stel nie belang in dit wat buite hul huis se grense aangaan nie, het geen spaarplan vir die toekoms nie,  en is doodtevrede om uitgelewer te wees aan ‘n man.

Ek is ‘n voorstaander van ‘n geheime spaarrekening vir as die dag wat ‘n man dalk ‘n bevlieging kry en jou inruil vir sy 25jarige sekretaresse, want sy verstaan hom en sy behoeftes soveel beter as jy, wat dekades met hom getroud is. 

Ek het nou al met menigte jongvrouens gepraat en gevra of hulle hul eie noodfonds het – dan kry hulle hierdie uitdrukking, outannie waar val jy uit? Ek het ‘n man en hy is my spaarplan! Ongeag hoeveel keer hy rondneuk, ongeag of jy sy vloerlap is, ongeag of hy jou verneder in die teenwoordigheid van ander, is hy haar spaarplan. 

En ja, baie huwelike word deesdae op ‘n baie berugte fondasie gebou, so moet asb nie vir my sê jy is veilig nie, ek hoor al hoe meer van mense wat na ‘n huwelik van 35+jr die handdoek ingooi, net sodat die arme vrou se spaarplan haar kaalgat uit die huwelik laat stap, net omdat hy kan, want hy was mos nog altyd sy vrou se spaarplan!!!

Nee wat, ek is siek vir vrouens wat dink hulle is niks of niemand sonder ‘n man nie,  en as sy wel ‘n man het is sy tog so afhanklik van hom dat sy nie eens in haar eie kar kan klim, waarvoor syself betaal, met haar eie geld vir haar ‘n koppie koffie kan gaan koop, waar sy stoksielalleen net sit en dit geniet nie. Sonder die alewige verwagting van die mense by die huis!!!

Of flippen helle, nie haar eie bottel duur parfuum kan koop nie want wat gaan haar spaarplan daarvan sê?

Dit is vrouemaand ons het geveg vir ons eie regte, hou asb op dat ‘n man (baiekeer ‘n boks, jou define) Ons wil nie aan jou hele menswees sien dat daar onmin tuis tussen jou en jou spaarplan is nie, daar is niks so lelik soos ‘n vrou wat deur haar voorkoms aan die wereld wil wys dat dinge nie “honkie dory” by die huis is nie. Hê selfrespek – sit daai rooi lipstiffie aan en geniet vrouwees vir ‘n slag sonder jou “spaarplan“, want jy kan…. en die wereld hoef nie in jou droefgeestige self vas te kyk omdat jy jou man jou noodfonds gemaak het nie! SPAAR ASB DIE MENSE OM JOU VAN DIT!

Advertisements