Hoofstuk 1:

Carien Grobler het haar biologiese familie opgespoor toe sy 35 jaar oud was. Met ’n ma wat haar lyf aan mans verkoop het en nog sewe anders kinders só in die wêreld gebring het, was dit allesbehalwe ’n sprokiesontmoeting. Wat voorgelê het, was ’n lang pad van vergifnis en aanvaarding. 

Sewe jaar gelede het die grootste verjaardaggeskenk in twee pienk strepies op ’n stokkie vir my gewag. Ek het weer gekyk, en weer, en dit uiteindelik geglo. Nege maande later het ek my eie blouoog-mensie in my arms vasgehou. Toe ek sy asem die eerste keer in my nek voel, het ek geweet dat ek my lewe vir hom sou gee. Ek sou ook tot die dood baklei as iemand hom by my wou wegneem.

Sonder ’n ID-nommer kan ons haar nie opspoor nie.

Van my biologiese ma kan ek nie dieselfde sê nie, inteendeel. Sy het my aangebied. Op dieselfde manier wat ’n mens jou vriende laat weet jou hond het kleintjies gekry, sou hulle dalk een wou hê.

My besef van ma-wees het iets in my laat breek. Soos ’n vloedwal wat skielik meegee. Hoe jy nege maande lank ’n baba in jou binneste kan ronddra en haar dan weggee, het my ontwyk. Elke poging om hieruit sin te maak, het die onsekerheid verder laat opdam. Soos stortreën wat in ’n emmer val totdat daar later nie meer plek is nie en die water die wêreld vol loop.

Toe bel ek. Die bel wat ek al duisende male wou bel, maar waarvoor ek nooit die moed gehad het nie. “Sy het net ’n persoonsnommer gehad,” het die maatskaplike werkster half gevoelloos oor die telefoon gesê. “Sonder ’n ID-nommer kan ons haar nie opspoor nie.”

Sy het ’n bruin koevert vir my aangestuur. Een wat my hande nie wou oopmaak nie. Toe doen my man dit en hy lees: Cornelia Johanna Susanna Reyneke. Cora. Wat op 14 al haar eerste kind gehad het. In ’n verbeteringskool, van alle plekke. ’n Jaar later nog een. Drie jaar later nog een en vyf jaar later vir my. Almal dogtertjies, almal weggegee.

’n Jaar voor my was daar ’n seuntjie. Hy kon bly. Ek het die verslag by my man gevat, maar kon nie die rede vind in die swart letters wat voor my oë begin swem het nie. Die enigste logiese verduideliking waaraan ek kon dink, was dat hy manlik was. Die dogtertjies is soos weggooibrakkies in die hospitaal gelos. Letterlik.

Ek kon nooit met haar baklei nie.

Want Cora het nie in die nege maande tydens haar swangerskappe tyd gemaak om iemand te laat weet sy wil nie die babas hê nie. Dit was te veel moeite. Sy het eenvoudig haar tassie gepak en geloop.

In die dae wat daarop gevolg het, het ek die verslag oor en oor gelees. Sodat die papier later in donkie-ore omgekrul het en die vingermerke in die wit spasies gaan sit het.

“Die aftekening van die baba het sy beslis nie as traumaties ervaar nie. Sy het geen emosie rondom die babas wat sy opgegee het nie. Dit blyk of sy ook nie veel diskresie aan die dag lê met betrekking tot seksuele verhoudings nie. Dit het reeds patologies begin raak. Die moontlikheid dat sy nog kinders kan hê, is skynbaar ook nie uitgesluit nie.”

En sy het. Toe ek haar sewe jaar later opspoor, was daar nog drie dogtertjies. Dus agt altesame. Die laaste een het sy gehou, maar net omdat die pa bereid was om met haar te trou. Die sussie net voor my is dood. Geriefsonthalwe?

Ongeag hoe kwaad ek my lewe lank vir haar was, het ek altyd die gedagte gekoester dat sy spyt is oor die besluit wat sy moes neem. Dat sy selfs met ’n bietjie skaamte en selfverwyt rondloop.

Maar nie Cora nie. Tussen die dwelm- en alkoholmisbruik het sy en Hantie, haar tweelingsuster, op die koop toe hul liggame verkoop. Terwyl ek vir my kinders vertel dat hulle uit liefde gebore is, het sy babas verwek uit haar vieslike verhoudings met ’n magdom mans.

Ek is nie jou ma nie.

‘Ek sou alles weer so oordoen’

Toe sussie ’82 haar ses jaar gelede opspoor, het Cora dit duidelik gemaak: “Ek is nie jou ma nie.” Haar eerste woorde aan die mooi mens met die piepklein hartjie wat nou deel is van my lewe. Later het Cora ook laat val dat sy alles weer so sou oordoen. Een ding is seker: Cora het geen spyt of selfverwyt met haar saamgedra nie.

Ek kon nooit met haar hieroor baklei nie. Ook nie oor die feit dat my jongste sussie onthou hoe sy vreemde mans se kinders moes besig hou terwyl Cora met die pa’s kamer toe verdwyn het nie. Ek kon nooit vir haar sê hoe kwaad ek vir haar is nie, want kort nadat sy haar ouerskap ’n tweede keer ontken het, is sy dood. Op my verjaardag, mý dag, wat nooit weer myne sal wees nie.

’n Magiese oomblik

Die oomblik wat ’n mens die eerste keer iemand van jou bloed sien, is amper magies. As jy 35 jaar moes wag om iemand vas te druk wat ’n bietjie na jou lyk, soos jy is en met wie jy uit die staanspoor oor die weg kom asof julle nooit geskei was nie, is dit heilig.

Ek was dadelik vir my jonger sussie lief. Omdat sy ’n ding sê soos dit is en ook my humeur, my empatie met ander mense, my sin vir humor en my liefde vir die lewe deel. Maar ook net omdat sy sy is. ’n Mens wat die lewe vir my gegee het en wat ek vir geen geld sal teruggee nie.

Ek het my aan haar verkyk, maar ook aan ons drie seuntjies wat soos ’n drieling lyk as hulle slaap. Wat al drie ongetwyfeld hul ma’s se hardegat-gene geërf het, maar ook net so gou weer goed raak.

Cora het gekies om nooit deel te wees van hierdie mense se lewens nie. Ongeag hoe hard ek dit probeer verstaan het, kon ek nooit ’n plek in my kop vind om dit weg te pak nie. Hoe minder ek verstaan het, hoe meer het ek besef dat sommige dinge nie bedoel is om sin te maak nie.

Sink en swem

Terwyl ek wou wegsink tussen alles waarmee ek binne die bestek van ’n week gekonfronteer is, moes ek weer begin swem. Want dít is wat ’n ma doen. Sy swem vir haar kinders, ongeag of die warboel in haar binneste haar ondertoe trek. Sy swem, selfs wanneer sy sommige dae wens dat sy net ’n paar oomblikke op die bodem kan agterbly.

Al het dit hoe diep getref, was Cora se woorde die waarheid. Sy was nie ons ma nie, maar bloot ’n vaartuig waarmee ons in hierdie wêreld ingekom het. Sy sou nooit vir ons swem nie. Punt.

Die sink-dae kom nog gereeld en sal dalk nooit verbygaan nie, maar minstens sink ek nie meer alleen nie. Sommige dae is dit my beurt en dan is my sus se hande daar om my boontoe te trek. Ander dae is dit weer my beurt om haar op te trek.

Tussendeur lag ons, want geen mens se deel in die lewe is totaal van humor ontneem nie. Midde-in die seer van verwerping wat soms so naby aan die oppervlak lê, kon ons nog altyd iets in ons verhaal vind waaroor ons kon glimlag of kliphard kon lag.

Wanneer my arms te moeg raak om my bo te hou, verwonder ek my aan die twee blondekoppies wat ek my eie kan noem. Dan kry ek vir Cora jammer.

Oor sy haarself nooit toegelaat het om daardie soort liefde te ervaar nie. Bowenal voel ek dankbaar. Oor ek van beter weet en die warm vreugde ken wanneer twee klein lyfies hulle bo-op my kom tuismaak omdat hulle graag naby my wil wees.


Die begin van die storie

“Om ná baie jare jou biologiese familie te ontmoet, is nie die einde van die storie nie, maar slegs die begin,” sê Elizma van der Smit, ’n kliniese sielkundige van Klerksdorp. “Die verhoudings wat tydens die eerste ontmoeting gevorm word, is dikwels ’n intense emosionele ervaring en dit is nooit ’n reguit pad nie.”

Volgens Van der Smit kan ’n mens dié soort hereniging in fases verdeel:

Fantasie
Aangenome kinders fantaseer oor hul biologiese ouers en moontlike broers en susters, verduidelik sy. “Hulle maak hul eie storie op oor waarom hulle opgegee is vir aanneming en skep mense met sekere eienskappe in hul verbeelding.”

Eerste kontak
Volgens Van Der Smit beveel kenners aan dat die eerste kontak met behulp van ’n tussenganger plaasvind. “Dit is beter om met briewe of e-posse te begin en later oor te gaan na telefoongesprekke voordat die uiteindelike ontmoeting plaasvind. Sodoende kry albei partye genoeg ruimte en tyd om al die nuwe inligting en gevoelens te verwerk.”

Die eerste ontmoeting
“Die eerste ontmoeting is dikwels baie emosioneel en daarom is dit beter om dit in ’n private plek soos ’n huis te doen,” sê Van der Smit. “Broer en susters is dikwels beïndruk met die ooreenkomste tussen hulle.”

Die wittebroodsfase
“Tydens dié fase kan aangenome kinders nie genoeg van hul nuutgevonde familie kry nie en kan alles so wonderlik voel dat dit ’n mens se gedagtes en jou lewe oorneem,” sê sy.

Terug na die werklikheid
“Wanneer al die opgewondenheid verby is, kan die nuwe familie soos vreemdelinge voel met wie jy steeds ’n verhouding moet bou,” sê Van Der Smit. “Gevoelens van kwaad en seer kan in dié fase na vore kom en baie verwarrend wees. Dit gebeur ook dat mense terugtrek om die verandering en nuwe inligting te verwerk. Die verskil tussen die aanvanklike fantasie en die werklikheid begin nou duidelik word.”

Alleentyd

Wanneer een party terugtrek om die emosies te verwerk wat met dié prosegepaardgaan, kan dit voel asof ’n mens hulle weer verloor en kan dit gevoelens van vrees, seer en woede veroorsaak, verduidelik sy. “Dit is egter belangrik om te verstaan dat dié fase normaal is. Dit is natuurlik dit tyd neem om dinge te verwerk. In dié fase moet ’n mens verantwoordelikheid neem vir jou gevoelens en dit hanteer, moontlik met die hulp van ’n professionele persoon.”

Aanpassing

Hoewel ’n mens graag ’n goeie verhouding met jou nuwe familie wil hê, is dit belangrik om te onthou dat konflik in enige verhouding voorkom. “Wanneer dit hanteer word, kan die verhouding groei en ontwikkel. Dit neem tyd om verhoudings te vorm.”

Nog dinge om te onthou

  • Waak daarteen om te verwag dat ’n nuwe familielid skielik ’n rol moet speel wat hulle nog nooit gespeel het nie. Moenie onmoontlike verwagtinge koester nie.
  • Onthou dat julle ’n genetiese band het, maar steeds vreemdelinge is wat ’n nuwe verhouding moet bou.
  • Dit is ’n marathon en nie ’n naelloop nie. Wees baie geduldig en laat die verhouding natuurlik ontwikkel.
  • Angstigheid en woede wat na die oppervlak kom, is normaal. Angstigheid word dikwels deur verwagtings en die moontlikheid van verdere verwerping veroorsaak. Woede en hartseer oor die omstandighede rondom die aanneming word ook dikwels deur die ontmoeting na die oppervlak gebring en moet met groot sorg hanteer word.

My antwoord op haar skrywe:-

1: hoed af vir almal wat dit kan regkry om ‘n ander se kind groot te maak asof dit hul eie is, ek sê dit is baie, baie unieke mense wat die weg oop te sien om die onselfsugtige daad te doen.

2: Genade – dit is hartseer wat ek in my eie hart ken. My seun se vrou het hom en hulle dogtertjie van 4, vier jaar gelede so verlaat vir ‘n lewe besmet met onsekerheid.
Elke dan en wan vang ek myself waar ek aan haar, my skoondogter, dink en dan wonder of sy besef watse kosbare mensie het sy haar rug opgedraai – ‘n beeldskone slim dogtertjie met baie lag in haar ogies, wat slim en bekkig is – wat die dag toe haar ma vir ons gesê het, “julle kan haar kry ek gaan agter ‘n man aan, ouer as my pa” gestaan en histeries gehuil het oor haar mamma, dit het ‘n goeie 2jr geneem vir haar om oor die trauma van verwerping te kom.
Nou is sy 8 jr oud en ‘n pragkind met ‘n groot mammaboks waarin sy goedjies wat saakmaak vir mamma bere as mamma dalk sou terugkom, miskien lieg ouma, maar ouma sê mamma sal nog na jou te kom en dan sal die boksie wys dat jy haar nooit ooit vergeet het nie. Want waar ouma vandaan kom los mamma’s nooit ooit hulle kosbare kindertjies vir niks op aarde nie!!!

Hoofstuk 2:

Die soeke na my ma – ‘n blik wurms wat ek nie kan toedruk

’n Jaar gelede het ek ’n storie neergepen. My storie, maar ook die storie van sewe ander kinders wat hulself in ’n soortgelyke bootjie bevind. My bloed – een broer en ses sussies. Genoeg vir ’n netbalspan met ’n reserwe.

Carien Grobler het haar biologiese familie opgespoor toe sy 35 jaar oud was. Met ’n ma wat haar lyf aan mans verkoop het en nog sewe anders kinders só in die wêreld gebring het, was dit alles behalwe ’n sprokiesontmoeting. Wat voorgelê het, was ’n lang pad van vergifnis en aanvaarding.

Só het die inleiding van my destyds storie gelei. Dit is wat dit is. My biologiese ma was ’n prostituut. Een wat die kinders wat uit haar vieslike dade verwek is, net so in die hospitaal gelos het.

As ek nou die tyd kon terugdraai, sou ek soveel dinge anders wou hê. Sou ek nooit gesoek het nie, sou ek nie een keer daardie wens gewens het nie: Om te sien hoe sy lyk en te vra hoekom. Dis al wat ek wou hê.

Ek het egter heelwat meer gekry. Die nuus dat sy dood is, op my verjaardag ses jaar gelede. Al wat ek van haar te sien gekry het, was ’n dowwe foto wat vir ewig in my geheue afgeprent sal wees. Ek het ook familie bygekry, want die vrou wat net my ma moes opspoor, het ook twee mense laat weet dat hulle ’n suster het. Deur die genade kon ek haar keer voordat sy die hele netbalspan deurgebel het.

Nadat die soektog wat soveel keer in ’n doodloopstraat geëindig het in my 35ste jaar verby was, wou ek die blik wurms wat voor my oopgespring het weer toedruk, die kante seël en op die rak terugplaas.

Wat ek nou weet, is dat water soms dikker is as bloed. Dat die mense wat werklik my familie is, nie geneties aan my verbind is nie.

Want die pad van vergifnis en aanvaarding stap ek nog elke dag. Die vergifnis word al beter, maar die aanvaar sukkel sommige dae. Daardie dae wat ek my dapper gesig by die werk opsit, diep asemhaal en ’n uur lank fokus om dan vyf minute in ’n toilethokkie te huil. Sonder snikke, net ’n ruk-huil oor ’n hoerma en ’n broer wat my ’n hoerkind noem. Elke huil is soos om ’n klein bietjie gif op te gooi en mettertyd word die gif al hoe minder. Teen die growwe, goedkoop toiletpapier word my gesig weer droog voordat ek die volgende tydgleuf aanpak.

Die kort en die lank is dat ’n mens nooit weet wat jy gaan kry wanneer jy begin soek nie. Dat jy nooit op enige vlak voorbereid kan wees om te hanteer wat jy gaan kry nie. Want ongeag of jy op ’n engelekoor afkom, begin elke aangenome kind die lewe met ’n fundamentele wond. Die feit dat die vrou wat jou nege maande in haar buik moes koester, jou weggewens het die oomblik toe sy weet dat daar lewe in haar groei.

En selfs al was sy opgewonde, bly oor die klein mensie in haar binneste en het sy daarvan gedroom om hom te hou, sal die wond bly sit. Op ’n stuk papier waar sy jou afgeteken het, maar ook op die plek waar sy haar losgeskeur het. Of sy wou of nie, die skeur bly sit.

Die ouers wat my grootgemaak het, is al ouers wat ek ooit sal ken. Korreksie: Die ouers wat my grootgemaak het, is al ouers wat ek ooit WIL ken. Dat ek ’n stuk van my legkaart wou voltooi, is ’n feit waarvan ek nie kan wegkom nie. Dat my lewenslegkaart in die proses gelig en die stukke uitmekaargespat het, is die werklikheid.

Die stukke is ontelbaar baie, maar elke dag gom ’n mens ’n stukkie vas. Ander dae sommer drie. Dan weer net ’n hoekie. Stelselmatig sal hulle vaskom, elkeen op sy plek. Tog sou ’n onvoltooide legkaart soveel beter gewees het.

Wat ek nou weet, is dat water soms dikker is as bloed. Dat die mense wat werklik my familie is, nie geneties aan my verbind is nie. ’n Man en twee seuntjies wat my liefhet, is beter as ’n broer. Die twee vriendinne met wie ek my hart deel, is nader as wat enige sussie ooit sal wees.

Destyds het ek geskryf oor die magiese gevoel as ’n mens ná 35 jaar iemand van jou eie bloed ontmoet. Iemand wat ’n bietjie na jou lyk, ’n bietjie soos jy is. Vir iemand wat dit sy lewe lank gewoond was, mag dit belaglik klink. As jy egter drie dekades lank gewonder het hoe dit voel as iemand selfs net een ooreenkoms met jou het, is dit magies. So was daardie eerste foto van my sussie en so sal dit altyd wees.

Sommige dinge is bedoel om ongeweet te bly. Terwyl jy nog wonder, kan jy fantaseer. Kan jy in jou kop ’n prentjie skep oor die rede vir jou eie werklikheid.

Dat alles nie ’n magiese einde gehad het nie, is ’n ander saak. Maar bloed maak nie dat mense mekaar ná jare en jare vind, dieselfde verwysingsraamwerk deel en dieselfde oor goed dink nie. Ons het weggestap, bloot omdat ons nie dieselfde lewensuitkyk het nie. Nie omdat hulle slegte mense is nie, inteendeel. Hulle is great! Maar bloed het ons nie gebind nie.

Die uiteinde is as volg: Bloed bind niemand. Dis ’n persepsie. Saam grootword, saam ervarings deel, saam bang wees, saam bly wees en saam die grootmenslewe aanpak – dít is was mense bind. ’n Vreemdeling met dieselfde ma is net dit, ’n vreemdeling. En ongeag hoe hard ’n mens probeer, kan dit hoogstens ’n vriend of vriendin word.

Mense sonder enige bande het ook die manier om mekaar op ’n dag te vind en familie te word. Soos die gesin hier aan die Wes-Rand wat ons met die eerste kuier liefgekry het, later gevra het of hulle ons jongste se peetouers sou wees en wat vir ons daar is, elke dag, meer as enige broer of suster wat ek ooit geken het. Saam met wie ons die afgelope Kersfees deurgebring het, terwyl hul kinders se oupas en oumas myne soos hul eie hanteer.

Sommige dinge is bedoel om ongeweet te bly. Terwyl jy nog wonder, kan jy fantaseer. Kan jy in jou kop ’n prentjie skep oor die rede vir jou eie werklikheid. As ek nou kon kies, sou ek die fantasie 1 000 keer oor kies.

My antwoord op haar 2de skrywe:-

Ek volg hierdie storie van jou eerste skrywe af – en elke keer het my hart in stukke gebreek vir my kleindogter wat deur my seun grootgemaak word. Haar ma het “hulle”, ja my seun ook wat saam met sy kind gehuil het,  verruil vir ‘n man ouer as haar eie pa, toe sy amper 4jr oud was en sy het geen lus om betrokke te wees by haar lewe nie.
Ek sal nooit die prentjie van my kleinkind wat op haar swaai sit en huil, ek soek my mamma, uit my geestesoog kan vee nie.
Terwyl ek jou skrywe lees bid ek ook terselfdertyd vir my pieringoog en vra, Here, asb moet dat sy nooit die soort leemte ervaar nie, gee ook dat sy nie dit nodig ag om te gaan grou nie, want sy mog dalk ook net op ‘n bose blik wurms afkom wat ek haar graag wil spaar. Asb Here, gaan met die Carien kinders van hierdie wereld, hou hulle styf vas en vul elke leemte met U liefde en U lig.

Advertisements