‘n Belaglike tender op ‘n Harley ingesit… net omdat ek lus gehad het. Ek behoort more-aand teen die tyd te weet of dit aanvaar is.

Nou sal julle vra waarom? Wel soos julle weet let ek op na dit wat om my aan die gebeure is.

En die laaste tyd merk ek al hoe meer op my ouman, wat sy gat af werk om liggaam en siel aanmekaar te hou (ja, ja dan tender mens juis nie) loer al hoe meer na motorfietse, nie vrouens nie, maar motorfietse – hy sê hy kan die goed ry, ek twyfel sterk. Ek weet nie of dit soos fietsry is nie – as jy mos toentertyd kon fietsry kan jy vir altyd fietsry – dit gaan mos maar oor balans… dink ek. Ek weet hy het toentertyd, voor my tyd, wel hier en daar sy vriende sin gery, maar beslis nooit sy eie besit nie.

Nou ja, die ou fietsie se tender dokument het sommer so terloops voor my geland, en skielik sien ek in my geestesoog die ouman wat leep-oog na die tipe goed kyk, en ek dink by myself – dit kan seker nie kwaaddoen nie… hoop ek. Hy word hoeka vlg maand 60, aftershave vir so groot jaartal sal seker nie goed afgaan as geskenk vd jaar nie…dink ek.
En nou ja, as dit ‘n boo-boo is kan mens dit mos maar altyd weer herverkoop en dalk ‘n rand of twee daaruit maak…as my tender nie dalk bo die ding se huidige markwaarde is nie… want ek weet net mooi niks van motorfietse en hul pryse af nie. Behalwe dat my pa een van my seunsvriende se splinternuwe fiets tydens eksamentyd, toe ek nog op skool was, aan die brand gesteek het laataand omdat ek nie “booifrênds” kon entertain in eksamentyd nie. Iets waaroor ek nog tot op hede woedend vir hom is, omdat ek weet hy was “gin” niks nugter toe hy die bevlieging gekry het nie – net fris en sterk met ‘n baie dierbare skoolvriend, ene Walter soos in engels, want Walter was ‘n geniune soutie van wie ek baie gehou het.

Advertisements