Deur Dave Willis – my “moet deel” aangesien my tyd om self te blog huidiglik baie beperk is.

In my persoonlike en aanlyn interaksie met duisende getroude paartjies het ek ʼn klompie slegte goed opgemerk wat baie mans doen wat hul huwelike saboteer.

Natuurlik vertoon baie vrouens ook swak gedrag, maar in hierdie bepaalde boodskap gaan ek fokus op sommige van die algemeenste en mees destruktiewe gewoontes van getroude mans. Dit is nie as ʼn aanval op my broers daar buite bedoel nie. Ek sukkel ook met goed op hierdie lys. Dit is bedoel as ʼn oproep vir almal van ons om wakker te word en vir ons huwelike en gesinne se onthalwe ’n paar radikale verstellings te maak.

Dit is nie ʼn omvattende lys nie, maar is ʼn paar van die algemeenste swak gewoontes van baie getroude mans

Kyk na pornografie 

Hier gaan op ʼn klomp tone getrap word want miljoene mense (waarvan die meerderheid mans is) kyk gereeld na pornografie en sien niks verkeerd daarmee nie. Pornografie desensitiseer ons teen egte intimiteit. Dis ʼn vorm van virtuele ontrouheid en is ʼn “ingangsdwelm” na ander huweliksvernietigende gedrag. Die huwelik vereis monogamie op ʼn geestelike en fisiese vlak. Werk daaraan om ʼn sterker seksuele intimiteit in jou eie huwelik te bewerkstellig eerder as om in die fantasiewêreld van pornografie te leef.

Luister nie as jou vrou met jou praat nie

Mans en vrouens verwerk kommunikasie op verskillende maniere, maar albei gades moet doelbewuste pogings aanwend om met mekaar kontak te maak. Mans, ons is geneigd om “weg te raak” tydens gesprekke, maar ons vrouens het ons onverdeelde aandag nodig en verdien dit. Laat ons nie gesprekke soos slaapwandelaars benader nie. Laat ons heeltemal aanwesig wees. Onthou, jou vrou se behoefte aan betekenisvolle kommunikasie is enige tyd net so sterk as jou behoefte aan seks. Dit behoort dinge in perspektief te stel.

Word kwaad vir jou kinders oor goed wat jy ook doen

Hier betrap ek myself die heel tyd. Dis maklik om te sê “maak soos ek sê” in plaas van “maak soos ek maak”, maar ons kinders het ons voorbeeld baie meer nodig as ons opdragte. Ons kan nie vir hulle sê om nie te vloek as ons self voor hulle vloek nie. Ons kan nie vir hulle sê om hul humeur te beteuel as ons self die heel tyd in woede uitbars nie. Ons moet self maak soos ons sê as ons enige langtermyn-geloofwaardigheid wil hê.

Bekyk ander vrouens

Hierdie een het baie ooreenkomste met #2 (kyk na pornografie) maar dit skep ʼn paar ander kwessies ook. As ons in die openbaar ander vrouens bekyk, minag ons ons vrouens in die openbaar en maak terselfdertyd objekte van ander vrouens. Pasop waarheen jy jou oë draai. Moenie elke vrou in jogaklere agternastaar nie. Jy moet meer respek vir jou vrou hê.

Dra nie ʼn trouring nie

Hierdie een is kontroversieel, maar ek glo sterk daaraan dat mens ʼn trouring moet dra. Een van die eerste goed wat vrouens aan jou sal opmerk, is of jy ʼn trouring dra of nie en hulle sal aannames oor jou “beskikbaarheid” en selfs jou verbintenis tot jou huwelik maak op grond van die aanwesigheid of afwesigheid van ʼn ring. Dra dit so dikwels as jy kan.

Jou loopbaan en jou stokperdjies kom eerste, jou vrou suig aan die agterspeen

Ons was al almal (by tye) daaraan skuldig dat ons baie moeite doen met ander mense en belangstellings en dan dié wat die meeste saak maak, afskeep. Laat ons ons bes doen om al ons energie aan ons gesinne te bestee.

Staar meer na jou telefoon as wat jy oogkontak met jou gesin maak

Ek wil nie hê my kinders se blywende nagedagtenis aan my moet die bokant van my kop wees soos ek na my telefoon of skootrekenaar gestaar het nie. Dit is ʼn probleem waarmee baie mans (ek inkluis) sukkel omdat ons gedruk voel om konstant met die wêreld verbind te wees en soms, terwyl ons werk om ons gesinne te onderhou, voel dit selfs soos ʼn noodsaaklikheid. Nogtans moet ons duidelike riglyne stel om die elektronika so dikwels as moontlik af te skakel sodat ons ten volle by die huis aanwesig en betrokke kan wees.

Verwag van jou vrou om alles rondom die huis te doen

Statistiek toon dat selfs in huise waar die die man en vrou albei voltyds buite die huis werk, die vrou steeds die oorgrote deel van die huishoudelike take rondom die huis doen. Manne, ons moet wakker word (en ek praat van myself ook). Jou vrou is nie jou bediende nie. Gee haar die respek en steun wat sy nodig het deur haar in en om die huis (en op alle ander gebiede ook) te help.

Mans, of hierdie bepaalde kwessies nou op jou betrekking het of nie, laat ons saam besluit om die mans en pa’s te wees wat ons gesinne verdien. Laat ons hulle na die beste van ons vermoëns liefhê, beskerm, versorg en dien. Laat ons verseker dat ons optrede en woorde ons ewige liefde en verbintenis oordra. Hulle het ons allerbeste nodig en verdien dit!

 

Advertisements