Hierdie siekte wat so stil-stil kom nesmaak in ‘n mens se hart laat my wonder oor die rerige pyn van ons hart.

Ek dink rerig daar is menigte ma’s in hierdie wereld wat daaraan ly, dalk nie in die ergste graad wat tot onmiddelike dood ly nie, maar wel in ‘n sekere mate en wat deur die jare vererger en as mens nie halt roep nie, kan dit dalk tot jou onverklaarbare dood ly.

Miskien was ek ook verantwoordelik vir daai pyn by my eie ma – maar ek kan nie dink aan iets wat ek gedoen het wat haar so seer sou kon maak nie. Maar ja, kinders pynig ouers, dikwels heeltemal onbewustelik en dit is deel van die ouerskap proses en kinders wat grootword.  Ons sien nie altyd eye to eye met mekaar nie, en daar is niks daarmee verkeerd nie.

Maar ai, ‘n mens se kind se eie seerkry kan jy maar gerus met 10x as jy sien wat dit aan ‘n ouer doen, okay ek veralgemeen alweer, dit is hoe dit met my is. As my kinders seerkry pyn ek tot in my vingerpunte, ek wil dit met alle mag in myself net regmaak vir hulle – maar nou is hulle grootmense en kan ek nie juis iets doen daaromtrent nie, ek word forseer om terug te staan, sodat hulle self hulle pyn kan definieer en deurwerk sonder my inmenging.

Dan is dit daai pyn wat kom as jy staan en toekyk hoe jou kinders oor die afgrond hel agv van hul eie keuses,  en jy weet as jy nou keer gaan jy hulle eiehandig oorstoot. Daai pyn is waaragtag die ergste van alle pyne, die pyn wat jy tydens geboorte ervaar het, kom nie eens naastenby daarby nie. Dit is die tipe pyn wat jy in jou hart en siel ervaar voor jy gaan slaap, en dan staan jy op en dan is daai pyn nogsteeds deel van jou menswees – jy weet dit gaan die heeldag soos ‘n skadu saam met jou deur die dag stap – maar jy is magteloos want daar is geen pil wat daarvoor gaan werk nie.

Jy  werk  net om besig te bly en te hoop dat die pyn sal weggaan – maar jy  bly so bewus daarvan, die fisiese pyn wat vanuit jou hart regdeur jou arms na jou vingers loop – jy voel die pyn in jou, jy is die heeltyd bewus daarvan, jou mond praat sy prate soos normaalweg, maar as die persoon oorkant jou net vir ‘n wyle tyd maak om jou in die oë te kyk, sal hulle sien jou mond en jou oë praat nie dieselfde taal nie. Die oë is nie verniet die vensters na die siel van die mens nie, die oë van ‘n mens lieg nooit nie – maar jy moet ingestel wees op “oë” om die pyn van ‘n ander daarin te kan raak te kyk.

En daarom dink ek dat daar moet talle ma’s wees wat in ‘n mate aan gebrokehartsindroom ly, want hoe anders kan dit dan nou wees as jy kinders in hierdie wereld gebring het? Stuk vir stuk breek jou hart vir hulle tot op die dag wat dit nie meer klop nie…

 

 

Advertisements