Vanoggend vroeg, voor 7 daag een van ons kliente, wat hopeloos te vroeg is, by ons op om haar werker te kom oplaai. Ons haat dit as ons kliente te vroeg is, want ons het vroegoggend so baie goed wat gedoen moet word en dit is ongemaklik as daar kliente in die kantoor sit en ons doen en late gade slaan.

Beeldskone pop, boonop is sy slim en, en. Sy kom sit by my en begin gesels oor als. OA haar eerste werk as onderwyseres wat sy toe nie kon doen nie, omdat sy hopeloos te emosioneel betrokke by die kinders geraak het, haar loopbaan in die onderwys was ‘n volle 4 maande. Sy besluit toe om te bedank die oomblik wat die hoof haar ingeroep het, en vir haar genoem het dat hy van vandag af ‘n pad met haar gaan loop, hy gaan van haar ‘n klip maak want dit is al hoe sy dit in die onderwys gaan maak.

Tussen die gepratery kom dit uit dat sy geskei is en dat sy in haar 2de huwelik is. Sy is nou ‘n IT-spesialis en baie gelukkig getroud met ‘n jong seuntjie.

Sy vertel my dat sy getroud was met haar eerste man, nadat sy vir 4 jaar saam met hom gebly het, hy was letterlik als wat ‘n vrou kon begeer, ryk, aantreklik, het haar op die hande gedra, gekook en, en, en. Sy het haarself oortuig dat sy die JACKPOT met die man geslaan het en toe na 4jr besluit om te trou.

Sy sê, sy het die “o-fok” besef gekry, op die 2de dag na haar wittebrood, toe sy by die huis kom, vra sy vir hom, wat eet ons vanaand, omrede hulle altyd saam kosgemaak het in al die jare voor hulle troue. Waarop hy teruglê in sy stoel, sy hande agter sy kop invou en vir haar sê: Die reëls het verander – van nou af kook sy, as hy in die aande van die werk afkom moet die kos op die tafel wees, die gereg wat hy soek sal hy vroeër die dag aan haar sms, en dat die kos presies op ‘n spesifieke tyd op die tafel moet wees, en behoede haar as dit nie die geval is nie. Skielik moes sy verslag doen van haar tyd, sy mag nie later as ‘n sekere tyd by die huis gekom het nie, die kos moes reg wees en die huis altyd volgens sy smaak. Hy het al die kruideniersware gekoop en ook als anders in die huis, en selfs haar beheer tot op die letter t. 

Die man se werkgewer het haar ingeroep en vir haar gesê dat hy wil hê sy moet bewus wees dat haar man rondneuk, sy moet uit die huwelik, hy het selfs vir haar die adresse gegee van die vrouens waarmee hy haar verneuk, sy het sover gegaan om na die huise te gaan en ondersoek in te stel, hy was daar by die vrouens, maar sy kon haarself nie sover gekry het om in te gaan of om hom te los nie.

Op ‘n stadium het sy gedink sy is swanger, en sy het hom die aand ingewag en vertel dat sy dink sy is swanger, hy het haar na hul kamer gevat, ‘n tassie uitgehaal, vir haar klere daarin gepak en vir haar as volg gesê: Nou vat jy die tassie, jy gaan maak seker wat is aan die gang en indien jy wel swanger is, maak jy plan daarmee en jy kom nie terug as “dit” nog daar is nie!! Gelukkig was sy nie swanger nie.

Sy vertel my die vreemdste van als is dat sy mettertyd besef het al die vroue in sy familie is soos ‘n “blueprint” van mekaar, haarstyle, klerestyl, die hele works – hy het haar verbaal mishandel en selfs vir haar gesê dat sy moet ‘n egskeiding begin want hy gaan dit nie doen nie, maar hy haat haar en wil nie met haar getroud wees nie. Sy het geweier, sy het aan haar trouring gevat en vir hom gesê, hierdie ring sê, forever. Al wat hy aanhoudend gesê het, was om ‘n egskeiding te begin, want hy haat haar en hy gaan nie verantwoordelik wees vir wat hy haar gaan aandoen as hulle nie gaan skei nie, selfs op sy knieë neergeval en huilend gesmeek.

Sy het aangedring op huweliksberading – selfs die huweliksberader het vir haar in die man se teenwoordigheid gesê sy moet die wetter los – hy is nie lief vir haar nie, hy het nie die vermoë om iemand behalwe homself lief te hê nie. Tog het als op dowe ore geval en het sy nog vir ‘n ruk aangesukkel.

Sy het een aand besef sy moet uit en het haar suster gebel om haar te kom haal, haar suster het haar kom help pak en sy is daaruit. ‘n Rukkie later het dit aan die lig gekom dat hy ‘n buite egtelike verhouding met die einste suster gehad het wat kom help pak het en dat die suster sak en pak haar plek in haar huis ingeneem het. Nodeloos om te sê, sy en haar suster het nooit weer met mekaar gepraat nie, nie gegaan waar die ander een by ‘n familiebyeenkoms was nie, en dit is nou 8jr later. Sy sê haar suster kan haar nie in die oë kyk nie, sy vermy haar ten alle koste, en sy sê al wat sy eintlik vir haar suster wil sê is, dankie, jy het my ‘n moerse guns gedoen.

Is jou suster en die vent nog bymekaar? Sy lag en sê, Nee, hy het haar met ‘n ander, ook getroude vrou, wat reeds ‘n kind het, verneuk, wat hy toe ook swanger gemaak het met ‘n 3ling en hulle is nou getroud! Beslis nie gelukkig nie, want hy wou NIE kinders gehad het nie, en hy stuur nou nog boodskappe aan my, in so mate dat ek hom oral moes blok.

Sy sê vir my, die ergste van als is almal het haar gewaarsku – maar sy wou nie hoor nie, sy moes eers gevoel het, en het sy nie gevoel nie. Sy sê sy en haar suster sal nooit weer susters wees nie – maar sy het nou ‘n fantastiese man wat haar liefhet vir die mens wat sy is, hy is ‘n saggeaarde beer en saam het hulle ‘n seuntjie… maar ai, die draaie wat haar lewe moes loop voordat sy wou luister.

Tussen my en julle – sy is rerig ‘n beauty queen, lank, slank als waaroor mans droom – maar ongelukkig moes haar pad kruis met die van ‘n psigopaat/narsis wat haar moes laat besef het wat werklik saakmaak in hierdie lewe, sy wou nie luister, hoor of sien nie tot sy die prys moes betaal, ‘n ietwat duur prys as mens in ag neem sy het ‘n suster in die proses verloor….

EN ‘N GRUWELIKE HARTSEER OORVAL MY – “SY” MOES EERS VOEL VOORDAT SY RERIG GELEER HET…

 

Advertisements