Die eerste een was toe sy vroegoggend vir my sê, ouma weet jy, ek is nie die enigste kind wat saam met ‘n pappa, ‘n oupa en ouma bly nie?

Nê, hoe so, vertel my.

My maaitjie van die skool, Rosanne, sy bly ook saam met haar pappa, oupa en ouma. Maar ek het ‘n bonus, ek het ook ‘n tan-tan (my dogter). Ek sê vir Rosanne ons het 3 huise op ons erf. Sy dink ons is baie ryk omdat ons in die “Middelstroom Estate” bly, en sy sê omdat pappa altyd smart lyk as hy my aflaai. Is ons ryk?

(Jitte, nou hoe antwoord ek haar – my gesonde verstand sê ons is skatryk wat wereld se standaarde betref, ons het alles wat ons nodig het, almal werk, ons hou vakansie – maar die bottom line is, ons moet werk, ieder en elk van ons) Ja, Lainey ons is seker ryk want ons het ‘n huis, kos, klere en als wat ons nodig het, met ‘n ekstra vir ‘n lekker ding doen elke nou en dan. Ons moet elke dag vir Jesus dankie sê vir dit, en bid vir die mense wat nie dit het nie, maar ek dink Rosanne-hulle het ook dit, so hulle is ook ryk. Tevrede met die antwoord gaan ons voort met ons normale vroegoggend gejaag.

Vanoggend net voor ons amper klaar is, sê Elaine vir my, Ouma hoe lank leef mens se ouma, gaan sy nog leef as mens groot is? Lainey oumas lewe gewoonlik lank, (veral as oumas jonk, onbeplan, onverwags en baie onwillig ouma geword het – dit sê ek nie hardop nie) kyk na tannie Melissa, sy is al 33, en haar ouma lewe nog, haar ouma is al 84jr oud en sy lewe nog, en speel lekker met jou en Lianè as julle vir haar gaan kuier, so oumas lewe gewoonlik baie lank.

Ek is bly, want ek wil nie hê ouma moet doodgaan nie, ek wil hê ouma moet eendag met my kinders ook speel. Ai Lainey, ouma is nie van plan om nou-al dood te gaan nie, en moet asb nooit vergeet nie, jou ouma luuuuvvvvv you toooooo the mooooon and back, vir altyd en altyd, jy mag dit nooit vergeet nie, vir ALLLLLTYD sal jou ouma jou liefhê! Weet jy dit? Natuurlik weet ek dit ouma, en ek luuuuvvvvv ouma terug, to the mooooooon and back!!

Elke nou en dan besef ek, ongeag al die wroeging, ongeag dat ek my seun en sy kind se snooze button op hul wekker vroegoggend is, net sodat ek haar kan ontbyt gee en help met hare vasmaak voor skool. En al moet ek haar sonder ophou aanjaag omdat ek al 7:00 by die werk moet wees, omdat ek ‘n sg “jong ouma”  is  wat nog moet werk en nie die konvensionele koekbakkende, voltydse, mosbolletjie-agtige ouma is nie, is ek rerig bevoorreg om haar so naby my te kan hê, dit kon soveel anders gewees het!

Advertisements