Ek ry vroegoggend werk toe, elke keer slaan die mooi sonsopkomste my asem weg en in stilte dink ek by myself… nog ‘n dag, nog ‘n kans. 

In die middae as ek die pad terugvat huistoe kyk ek weer met dieselfde oë – maar skielik laat dit wat my oë my laat sien aan die boek “Animal Farm” dink. Lug- en mens besoedeling maak die prentjie half tragies lyk. Die wereld lyk soos een van hierdie hedendaagse wetenskapfiksie films, waar als so half swart en wit is, waar als lyk asof dit net ter wille van oorlewing gaan, ongeag die letsels wat jy laat.

Ek sê juis Dinsdag vir my seun, ek verstaan nie die alewige lig in hul huis nie – dit is ongesond, mens moet in donkerte gehul wees om goed uit te rus, anders skakel jou brein nooit heeltemal af nie. Ek verstaan ook glad nie die vrees wat mense vir die nag het nie – want dit is sy verskoning, hy het gewoond geraak van die alewige lig wat moet brand, vir die slag as sy vriendin op ‘n naweek oorslaap want sy is bang vir die donker? Rerig? ‘n Ma, ‘n volwasse vrou wat bang is vir die donker? Ek is banger vir die dag want dan begeef jy jouself tussen meer bose mense as in die nag… jy mag dalk koffie sit en drink met ‘n psigopaat reglangs jou… nee wat, die nag maak my nie bang nie, ek is nie in die nag blootgestel aan leuens, immoraliteit, venyn, jaloesie ens nie – ek kan in die stikdonkerte slaap en vergeet van die dinge om my. Maar ja, gaan doen asb bietjie navorsing oor waarom dit donker moet wees as jy slaap. 

Terug na “Animal Farm”  wonder ek weer oor die impak van die mens op die planeet. Hierdie lieflike lewendige planeet wat asemhaal en elke oggend, vroegoggend vir ons nog ‘n kans gee, net om in die middae met die terugry te besef “die mens” het alweer verbrou. Kyk hoe lyk die aarde om my, vuil, vol anargie, leuens en selfvoldane mense wat om ons rondloop en hulself bemagtig ten koste van ‘n ander. 

Die wereld lyk soveel anders op plekke waar daar nie ‘n spul mense saam baklei vir oorlewing nie – en die voetspore van die mens by uitstek in die minderheid is. Jy kan enige tyd daar inbeweeg en weet dat die natuur en die diere in perfekte harmonie lewe. Die een bevark nie die ander nie – niks konkel nie, als vul mekaar net aan, sonder dat daar enige geskrewe wette of reëls is waaraan gehoorsaam moet word. Wette en reëls is deel van die natuur, en ‘n ingebore eienskap waar die “een” weet die ander kan nie sonder die ander nie, en daarom word als met heilige respek benut en hanteer, solank “die mens” net nie in die meerderheid daar heers nie.

Ons leef in die tye van ‘n  “Animal Farm” era met geen waardesisteme, geen integriteit, geen karakter als gaan net wat jy vir jouself uit ‘n gegewe oomblik kan neem, maak nie saak of dit ten koste van jou naaste of selfs die planeet is nie. Ek kan nie anders as om te wonder oor wat God dink as Hy in al Sy glorie neerkyk op hierdie aarde nie – geen wonder Hy moes Homself as Lam kom offer het sodat Hy ons kom red het van onsself… want waaragtag as God ‘n mens was, was hierdie aarde se bestaan alreeds eeue gelede iets van die verlede gewees…. uitgewis tot die stof wat dit was aan die begin van die skepping, en voor Hy vir “die mens” die wil tot eie keuse gegee het, omdat Hy ons so vertrou het met Sy beeld.

Advertisements