Die laaste paar weke spook my skoonma byna daagliks by my – dit is asof die besef nou eers insink dat sy nie meer is nie.

Ek vang myself kort-kort  aan haar dink en sommer net verlang. Ek sien haar in my geestesoog, ek sien waar sy met trane in die oë afskeid neem na van ons kuiers. Met ‘n altyd ietsie in die die hand, veral vir my man, vir wie sy rerig, glo ek, ‘n baie sagte plek in haar hart gekoester het. Ek sien haar blydskap as ons “arrive” na ‘n lang tyd wat ons hulle nie gesien het nie, opgewonde en bly. Ek hoor haar, ek sien haar en ek ruik haar in haar kombuis.

Die laaste paar jaar van haar lewe was vreemd, ek dink sy het haar wil om te lewe verloor, sy het haar dae omgeslaap, selfs die kere wat ek by my man aangedring het om net ‘n dag of twee vir hulle te gaan kuier, het hy elke keer ontsteld vir my vertel dat sy verskriklik baie slaap – dit lyk vir hom asof sy depressief is. Ek het sy stiefpa kwalik geneem omdat hy nie daadwerklik plan gemaak het om agter te kom waarom sy so slaap nie – hy het haar  toegelaat om haar dae om te slaap. Die keer of wat, wat ek vir hom gesê het ek dink nie dit is gesond nie, het hy vir my gesê sy is seker oud genoeg om te besluit wat sy wil doen, as sy wil slaap mag sy seker? En ek het dit gelos. Intussen het ek haar weekliks gebel net om te hoor hoe dit gaan.

Toe gaan my eie ma dood en ek kon myself net nie sover gekry het om met my skoonma te praat nie – dit het gevoel of ek my eie ma verraai juis omdat ek baiekeer na my skoonma gekyk het en gedink het sy is meer as my eie ma. Skuldgevoelens het my opgevreet, my ma was ‘n goeie mens volgens wereldstandaarde, ek was lief vir haar maar ek het haar nooit ooit met ‘n Bybel op haar skoot gesien nie, alhoewel ek weet sy het geweet by wie haar verlossing was en glo ek sy het wel op haar manier Bybelstudie gedoen, seker ook baiekeer in totale desperaatheid na antwoorde oor haar eie doel hierop aarde – ek het wel as kind male sonder tal gesien hoe sy voor haar bed kniel en bid. Vandag wonder ek baie oor daai bid van haar – ek is oortuig haar gebed was altyd, maar altyd, Here verlos my asb van die bose – want ja, die bose het beslis vir groot tye in haar lewe geseëvier. Hier waar ek skryf pyn my vingerpunte vir my ma, vir die leemtes wat sy in haar lewe ervaar het. Ek dink sy het so baie gedink dat haar lewe so anders kon wees, maar sy was vasgevang in ‘n net van mishandeling, verslawing en dan leë beloftes nadat als uitgerafel het, net sodat die proses van stukkend wees weer ditself herhaal, male sonder tal.  MAW my ma was ‘n goeie ma wat ons, haar kinders beslis baie liefgehad het, maar haar GEES was gebreek en dus het ek my lewe lank na hierdie ma van my met die stukkende GEES gekyk, en vir haar jammer gevoel, jammer en magteloos oor haar situasie waarin sy haarself bevind.

My skoonma was volgens my ‘n sterk vrou, wat self ook deur baie was in haar lewe, maar sy het altyd aan die woord van die Here vasgehou en dit het haar staande gehou. Maar die laaste paar jaar het als uitgerafel – ek is hartseer omdat ek verhoed was om met haar kontak te maak na “die brief” aan my skoonpa, as ek gebel het was sy nooit beskikbaar nie. Selfs tydens haar skielike heengaan was ek net ‘n terloops, ek het by my man aangedring dat hy en sy suster eerder moet afgaan Kaap toe, ek het besef as ek afgaan mag daar dalk ander gevoelens wees met die dat ek en my skoonpa rerig nie op ‘n goeie plek met mekaar was nie. Dus voel dit op die beste van tye vir my dat ek het toe nooit rerig afskeid geneem nie. Sy is sekerlik op ‘n daaglikse basis in my gedagtes, sy en my ma, maar sy beslis baie meer die laaste tyd. Ek wonder oor my eie verganklikheid, ek wonder oor die hiernamaals, ek wonder of dit rerig is soos wat ek dit probeer dink- dan is daar ‘n stem binne my wat my die versekering wil gee dat dit veel meer is as wat my gedagtes dit kan dink.

En vroegoggend droom ek van my rol in my skoonma se afsterwe, ek is daar, almal is om haar bed en ek beweeg in en uit die kamer waar almal is – dit is rerig ‘n rustige vreedsame kamer. Ek ervaar die leemte wat sy laat, veral in my skoonpa se lewe, ongeag my eie dinge met hom, sien ek sy eensame figuur gehurkend kort na haar afsterwe, ek  gaan staan agter sy rug en sit my arms om sy skouers en ek begin bid, ek bid vir hom en vir sy pyn, en ek bid, Here, dankie dat U vrede bring wat alle verstand te bowe gaan, Here ek weet sy het ons vooruitgegaan na dit wat ons verstand ons nie kan indink nie. Dankie dat U God is. AMEN Ek kyk na my skoonpa, en ek sê weer vir hom, sy het ons vooruitgegaan – na ‘n beter plek.

Toe ek wakker word is ek oorval met hartseer, verwyt  en hope vrae, ek staan vroeg in my kombuis met trane wat net wil kom en ek besef ek was uitgesonder en afgesonder van haar dood deur haar man, my man en sy suster, dalk nie bewustelik nie, maar wel, my rol in haar lewe was as void en nill in die laaste paar dae van haar lewe gemaak, en ek sal moet besluit of ek gaan vergewe, en of ek daaraan gaan vashou – ek verkies vrymaak, maar met dit hoop ek ook dat die leemte wat sy in my lewe laat nie meer op ‘n daaglikse basis gevoel sal word nie – dat dit sal vervaag, en dat ek sal vashou aan my droom waar ek vanoggend my arms om my skoonpa kon sit en sê: sy het ons vooruitgegaan, na ‘n beter plek – ongeag dit waaraan ek hom skuldig bevind.

Advertisements