Ma, kom help my gou asb, hier is ‘n simpel duif wat haar eiers op die boomvaring se blaar gelê het, en nou is die blaar besig om te val, nes en al. Daar is 2 babaduifies wat uit die nes in hierdie koue gaan val.

Man, laat die natuur sy gang gaan en kry klaar. Ek is so moeg vir als wat hiernatoe kom om grootgemaak te word en dan sommer ook op die einde menigte kere huiskry by my aan huis.

Bg is ongeveer ‘n maand gelede se gebeurlikhede op my erf. Ek, Gracie en dan natuurlik sy het die leer nader getrek om die babaduifies te red van hul onafwendbare lot, as daar nie ‘n jong veearts was wat als gaande geslaan het vandat die eerste takkie vir nesmaak neergelê is nie, met my wat al kermend sê, ek wil niks weet van hulle nie, ek voer nie, ek “babysit” nie, ek doen niks behalwe om jou hier te help om die goed te red – hulle gaan saam met jou praktyk toe, hulle bly uit my direkte omgewing. TerwylGracie alles in doodse stilte meemaak en help leer vashou, en met net ‘n, Alta-Mari, djy moet nou nie val nie. Ja Gracie dink ek, vandag los ek als en almal wat van daai leer af val.

Wel sy het haar woord gestand gehou, sy het so tweekeer probeer deur hulle in die garage te los met my wat die man opdrag gee, vat asb die goed na Alta-Mari se plek, ek wil geen band met hulle smee nie, vat weg, vat weg en sit hulle sommer in die stort, sodat Fiela die kat hulle nie in die hande kry nie.

(So bietjie sonbak op ‘n koelerige wintersdag)

Vandag roep sy my, kom kyk hoe groot het hulle geword – hulle wil net nie pik nie – ek moet aanhoudend voer – hulle is hardewerk – as hulle my sien skree hulle – hulle gryp sommer na my gesig as ek hulle nie gou genoeg voer nie. En Fiela, wat doen Fiela? Sy kyk net vir hulle, sy is baie slim, sy weet hulle is nie kos nie.

Al wat ek in my kop dink… soveel, moeite vir ‘n ander kat se kos…

Hierdie veearts bring gedurig die een of ander asempie huistoe, dan word hulle hand grootgemaak met ‘n intense hartseer as die goedjies weer vrygelaat word… ek hou haar so baiekeer dop as sy die goed so versorg en grootmaak, en ek wonder oor hierdie kind van my, en saggies bid ek vir haar toekomstige man wat sy nog gaan ontmoet, en ek wonder of hy haar ook eendag so sal koester, soos sy hierdie weggooidiertjies koester totdat hulle gesond, slim en sterk genoeg is om die lewe vierkantig in die oë te kyk.

Advertisements