Dit is ongeveer 7 jaar terug wat ek die oproep van O afkry – M is dood, sy het selfdood gepleeg. O huil ontroosbbaar en sê vir my sy kan nie ophou huil nie, haar man en kinders verstaan dit glad nie.

En sy voel skuldig oor M se dood want op die dag van haar selfdood het M onophoudelik na O se foon gebel. O was oppad van die Kaap af terug na GP, en sy het die foon elke keer doodgedruk want sy was nie lus om met haar te praat nie. Die ding was M het altyd by O afgepak, en sy het nogals so bietjie diep in die bottel gekyk en dan alte graag by O afgepak oor als wat pla, behalwe die een ding wat mens seker na selfdood kan dryf.

Maar nou ja, dit is jare gelede – O het my male sonder tal vertel dit was regtig een van haar heel beste vriendinne, hulle het altyd die een of ander diertjiekouse vir mekaar gegee as daar iets te gee was – sy mis haar vriendin vreeslik baie, en het vir lank gesukkel na die skielike selfdood van haar vriendin, en boonop met die dat sy haar so vermy het op die dag van haar dood – miskien kon sy dit verhoed het. Ek twyfel natuurlik, ek dink dit was ‘n afskeidsoproep gewees – en dat M niks sou laat blyk het van haar plan nie, want M het klaar besluit dit is hoe sy aan haar einde wil kom.

Saterdagaand het ons saam gaan uiteet – en so terloops vertel sy my die volgende: M se man, wat ook groot vriende met O is het haar onlangs vertel van M se jarelange “affair”, wat hy gedink het O weet van, want M het dan als met O gedeel en hy was vas onder die indruk O sal weet van die “affair”. Daar word selfs vertel dat M se dogter het haar ma en die man met wie sy die “affair” gehad het in die bed gevang. Die man was op die einde aangekeer vir bedrog en het ook selfdood gepleeg toe die bedrog op die lappe kom. En M se man dink dit was die rede waarom M ook selfdood gepleeg het, oor hierdie man met wie sy ‘n affair gehad het se heengaan.

O belowe aan M se man dat sy nooit ooit enige iets geweet het van ‘n “affair” nie – want hy ken mos vir O, sy is ‘n reg en verkeerd mens, sy sou beslis ‘n ultimatum aan M gestel het deur vir haar te sê, jy stop hierdie “ding” of ek vertel jou man.

Ja, ek ken O baie goed, sy sal beslis so iets in die lig bring – sy sal dit nie versteek deur haar vriendin in haar kwaad aan te help nie. Dit is hoe sy is, en dit is wat ek van haar waardeer.

In die terugry is ek geskok oor die onthulling, ek dink aan my eie geraamtes wat ek beslis ook nie met enige vriendin sal bespreek nie, my man ken ten minste myne, maar ek wonder nou, sal hy my geraamtes ook een vir een mooitjies uitpak, blinkpoets, en onder die aandag van my vriendinne bring onder die dekmantel van: ek dog julle weet als van haar, ek wou maar net daaroor praat???

Ek weet nie hoe om dit te stel nie, maar ek dink dit was onnodige inligting wat O se oorlede vriendin se beeld by haar vir altyd geskaad het – as ons teenoor diegene wat ons skuldig staan erkentenis gegee het, en die Here se vergifenis gevra het – moet mens selfs na die dood deur diegene wat agterbly gestraf word??

Is dit rerig nodig, wie baat daarby? Ek dink net die een wat in die steek gelaat voel – maar hier waar ek na binne kyk, dink ek dit was net om ‘n laaste stekie in te kry oor hy in die steek gelaat voel oor sy vrou wat so voortydig haar lewe geneem het… al is dit jare gelede se dinge.

En weer sê ek vir myself, hierdie lewe is nie vir sissies nie, hierdie lewe is nie vir loop sonder die Here nie, dit is iets wat ek in my baie jare se loop hierop aarde beslis besef, glo en aan vashou… Mag my nalatenskap asb tog net nooit op so gru manier van my weggevat word as ek die dag nie meer is nie.. want ek weet my stem sal doodstil wees en elkeen sal my storie verander in hul storie, en soos ek die mens ken sal dit als behalwe ‘n mooi storie wees! Want ja, ek het ook geraamtes waaroor ek BESLIS NIE met enige vriendin sal praat nie…

 

Advertisements