En hier kom Lainey hierop ‘n Sondagaand en laat val die bom.

Ouma, ek en my pappa en tannie Melissa-hulle gaan ons eie huis kry. Pappa weet nie hoe om dit te sê nie, daarom sê ek vir jou. Ten aanhore van haar pa en die einste tannie Melissa. Die ene selfvoldaandheid.

Ek sit lam van skok, en doen als binne myself om nie my hart op hierdie oomblik aan haar te wys nie. Soveel gedagtes gaan deur my kop teen die spoed van lig, ek is skoon naar. Maar ek durf nie wys nie. Dit is goed so Lainey, solank pappa net weet ek en oupa dra nie ‘n sent by tot hierdie venture nie. Hy moet sy somme behoorlik gaan maak en dan moet hy daarvolgens besluit, die oomblik wat julle uit is, betaal hy vir ALS self. Dit is goed so.

Ek wil huil hierbinne my. Hierdie agterstevoor om doen van dinge werk nie vir my nie – ek is te oud. 

Ek het nog altyd geweet dit gaan die een of ander tyd kom – maar nie so nie. Ek het Elaine grootgemaak alhoewel dit saam met haar pa was, en vir ‘n rukkie saam met haar ma, sy is as pap baba in en om my huis – vir haar is dit reg om die skuif te maak, sy wik of weeg nie, sê dit nes dit is. 

Ek is rerig bang vir hierdie nuwe onbekende pad van haar pa, ek is bang vir my eie al hoe leër erf, ek is bang vir my kind wat te bang is vir die huwelik,  en dat hy ‘n gewillige vrou het wat bereid is om haar en haar kind aan ‘n saamblyery bloot te stel. 

Ek wonder oor die vb wat dit vir twee dogtertjies beteken, dit gee vir hulle ammunisie vir die toekoms in hul eie lewe. Wat sal enige persone kan sê as een van die dogtertjies saam met iemand wil bly sonder dat God se seëning oor hulle is? NIKS…. net mooi niks,  want dit is hoe hulle rolmodelle dit gedoen het. 

Ek begin werk, skoonmaak hierop die heilige Sondag, dit is al wat help as my kop die slag so bitter hard raas en my hart so stukkend voel. My Lainey se wegtrek van my is net mooi niks vir haar nie…. sy trek en sy is nie te bang om dit vir my te sê nie. Sy sien nie wat haar gemaklik omgaan van haar woorde aan my hart doen nie – en ek weet dit is seker maar hoe die lewe rol. Ek is ouma, ongeag…

Ek sien in my geestesoog hoe my lewenspad vorentoe lyk, min wasgoed, die sirkel om my eetkamertafel heelwat kleiner, handevat voor ete minder, kleiner hoeveelhede kos, van 5 na 3 en dan seker ook nie meer ‘n leeftyd verder nie, van 3 na 2 en dan is daar die onafwendbare – 1 wat oorbly, wie weet ek nie, dankie tog daarvoor.

Maar vanaand is die aand wat my hart huil – my Lainey wil met oorgawe vlieg na ‘n ander nessie… ek gaan oorbly met ‘n oupa wat weier om sy lelike baard af te skeer, want die baard gee hom klaarblyklik gesag en ek is nie juis ‘n baardmens nie. Die baard laat my aan my man se pa dink, en julle weet die dinamiek tussen ons is nou nie juis fantasties nie. Ek het nou al geskimp, reguit gewees, selfs gesê dit laat “jou” oud lyk sonder dat daar gehoor gegee word. Vanmiddag het ek selfs erken, damn, hierdie baard laat jou nes jou pa lyk, and it doesn’t do it for me…. en al wat hy doen is, hy lig sy wenkbrou en baard voort. 

Nou ja, dit is waarmee ek gaan opeindig, ‘n skaakspelende-baardman. En ‘n diep gat wat Lainey en haar pa se stilte in my huis gaan laat as die laaste vraggie van hul aardse besittings op ‘n trokkie gelaai word om in sg “sonde” met ‘n ander te gaan leef. Maar ek sal nogsteeds bid, Here seën asb hul “huisie” waar dit ookal mag wees, seën dit – want hulle wil nie van beter weet nie. En ek wil my kind nooit weer in dieselfde pyn sien as die pyn wat ‘n egskeiding oor sy pad gebring het nie – en ja, Here ek weet als is net tydelik, ja Here, ek weet dit is U kinders en daarom sal ek elke dag vir U sê kyk asb na U kinders… en as dit kan, laat die man asb tog net ontslae raak van die gesaghebbende baard… ek hou nie van al die hare nie!!

Advertisements