Midjaar. Dit is vandag die 2e Julie, die 183e dag van 2017. Ons het dus presies die middelpunt van hierdie jaar bereik. Baie het gebeur gedurende die eerste 182 dae, veel daarvan nogal op groot skaal. Op alle vlakke van regering het grootskaalse wanbestuur, korrupsie en selfverryking voorgekom. Ek het meer water uit ons reënmeter gegooi as in enige van my vorige 68 lewensjare. Damme in die binneland het begin oorloop, terwyl groot watertekorte steeds in die Wes-Kaap voortgeduur het. En toe hulle winterreën kom was dit in die vorm van geweldige storms wat groot verwoesting gesaai het. Daar was ook groot bosbrande by Knysna en omgewing, waar net so baie skade aangerig is.  Op 22 April het die grootste SA saamtrek van gelowiges buite Bloemfontein plaasgevind, op ‘n dag van verootmoediging voor God. Van ons vriende het lang oorsese reise onderneem, en daardeur het ook ek dele van die wêreld waar ek nog nooit voorheen was nie, leer ken. Die mooiste landskapfotos het via WhatsApp by my uitgekom. Ek het fotos van ou-ou geboue in pragtig bewaarde toestand, van silwerskoon strande op daaglikse basis ontvang. Met genoeg vertellings en staaltjies om my te laat voel asof ek saam op reis is! Die oorvloedige seëninge het egter soms ook gepaard gegaan met groot hartseer. Plaasaanvalle duur steeds voort, en raak al meer barbaars. Van ons familie en vriende het sedert Nuwejaar geliefdes aan die dood afgestaan, deur siekte of ongelukke. Môre begin die laaste skof van hierdie jaar. As dit so bestem is in ons Skepper se volmaakte plan, sal ons ná nog 182 dae hierdie jaar groet. Niemand weet wat op ons wag nie. Dalk nog erger gebeure as in die eerste halfjaar. Nog groter droogtes, gevolg deur oorstromings en vloede? Bos- en veldbrande wat alles voor dit vernietig? Die Vader behoed ons van nog meer wanbestuur en korrupsie! Mag daar nuwe babas gebore word. Mag ons vriende se oorsese reise voorspoedig afloop en selfsugtige ek nuwe horisonne daardeur ontdek!  Hier is die laaste skof van 2017. Vat hom! Leef hom voluit! Elke oomblik van elke dag, met liefde en respek vir jou naaste. Doen dit asof elke uur, elke asemteug jou laaste is. Want niemand weet hoe lank ons mekaar nog sal sien nie. HvR 2 Jul 2017

Advertisements