Elke nou en dan oorval die gevoel van totale hopeloosheid my, dan wil ek uitbreek tussen hierdie mure van totale perfektheid om my – perfekte pa’s, perfekte ma’s, perfekte verhoudings, met elke persoon wat weet waar sy plek in die verhouding is, met net sulke perfekte kinders, wonderlike “Kristene” ai… 

Hoe is dit dan as ek na my prentjie kyk sien ek hierdie gelapte spulletjie om my, afwesigheid van ‘n pa en ‘n ma in sekere kritiese tye van kinders grootmaak, die ma wat van tyd tot tyd na die broek/geweer gryp, die pa wat wens die rok was weer syne omdat dit dalk meer gesag dra, soos die “slimmense” sou sê, oorbetrokkenheid waar daar distansie moes wees, wat dankie sê vir oortrokke fasiliteite, die ewige stryd van “kristenskap”, van reg en verkeerd, begrotings wat net nie klop nie al is die sg. “rekenmeester” in my oortuig dit moes net klop as ek streng volgens (daardie) begroting gehou het, wil dit nou maar net nie klop nie – want is hierdie lewe dan om my nie juis ‘n gebroke spul wat gered moes word van hulself nie?

Die syfers gaan tog nooit klop nie, want kankers, hartsiektes, emosionele pyn, onvoorsiene hospitaalrekeninge blah, blah, blah kom oor “mense” se pad, en dan kan hierdie aarde se rekenkunde niks aan die situasie kom doen nie, behalwe om te wys “perfek” is ‘n woord in die woordeboek, en nie deel van my verwysingsraamwerk nie.

Waar val al hierdie perfektheid om my dan uit – waarom wil ek losbreek en rebeleer teen als en almal met hul perfektheid om my, perfekte pa’s en ma’s, perfekte verantwoordelike kinders, sonder die alewige emosionele pyn wat terugverwys kan word na die onperfekte ouers, perfekte “Kristene”… is dit omdat ek diep in my binneste weet dat dit bestaan nie, en ek gaan my losmaak van (daardie) illusie – ek rebeleer, my eie rewolusie teen sg perfektheid en ek om-arm my eie gelapte spulletjie wat die rewolusie sal voortsit – in die naam van “genade alleen”…

En ter nagedagte aan (wie ookal): 

I have learnt that the only thing to be gained from the past wrongs is the wisdom not to travel the same route again….

En dus dan ook opgedra aan die mense van my hart, leer uit my onperfektheid en soek jul eie deur nie vasgevang te raak in myne x

Advertisements