Ek is nou moeg, meer as moeg. Die niersteen is nou in die blaas, en hopelik doen die natuur sy ding. Hulle wou die ouman hospitaliseer, maar noudat die ding deur sy pynlikste fase is, dring hy aan dat dit by die huis sy gang moet  gaan.

“Kidney stones are a common cause of blood in the urine and pain in the abdomen, flank, or groin. … The development of the stones is related to decreased urine volume or increased excretion of stone-forming components such as calcium, oxalate, urate, cystine, xanthine, and phosphate”

So nou hou ek styf duim vas dat ek nie deur die nag terug gaan jaag nie – my woorde aan die baie vriendelike dokters en verpleegpersoneel was as volg, as  hy vannag terug moet kom sal ek eers sy mond “duck tape” voor hy sy voete in my kar sit – maar die gegil sal ek nie nog ‘n slag in 24 uur kan deurmaak nie.

Nou ja, so is ons in die middernagtelike ure terug by die huis en al wat ek wil doen is bad en slaap. Na ‘n baie laaaaannnnggg nag by die ongevalle, en uiteindelik terug by die huis, sit ek die halfgekookte ete van vroeër bymekaar en sweer by myself dat dit die volgende aand se ete gaan wees. Ongeag…

Vanoggend toe die wekker afgaan dog ek eers ek hoor verkeerd, maar nee, ek hoor reg dit is 4:30 en ek moet opstaan – in die badkamer hoor ek oooegh, oooegh iemand wil opgooi – ag vader, dit klink nie na ‘n mens se oooegh, oooegh nie, dit klink soos ‘n brak sin, Bella!!!!… ek vlieg uit die badkamer uit ek hoop nie sy maak daai klank as sy op my bed is nie… BELLA- wat het jy nou weer gevreet, jou “bloody brak”… dankie tog jy oooegh, oooegh op die teëlvloer.

Ek gryp na die toiletpapier en kruip daar in die donkerte rond om skoon te maak. Hierby die 3de lot braaksel trek ek los, hoor en sien kan maar vergaan. Ek knoop, die een na die ander vloekwoord stroom hier vroegoggend uit my mond – ongeag dat ek die siekeboeg in die bed het… ek skree, ek verwyt en ek maak skoon. Die “niersteen’ klim uit die bed en gryp die brak, staan met haar eers oor die wasbak… sy kan nie so kots nie, en rerig in die flippen wasbak? Waar ek tande moet borsel?sy kan kots, terwyl ek haar vashou en hy skuif na die toilet, so hang die ouman en die brak oor die toilet, hy wat net my arme brak vryf en troos.

Ek wonder wat het die hond gevreet – sy het tissues gevreet, hoor ek in die agtergrond…. jou tissues! Vieslike hond, wat als moet vreet!!!

In die kombuis staan die ouman met die niersteen in sy blaas, brak in die arms, by my – Jitte, jy sê ek praat lelik, maar  jy het darem uitgehaal en gewys – ek was skoon bang!  Man ek is moeg, moeg ge-als, moeg vir pestelensie, moeg vir SA-politiek, moeg gewerk en bo-als moeg gehoor, dat jy wil pensioeneer, asof jy nooit in jou lewe dit gaan kan doen nie! As ek nog eenkeer in ‘n geselskap sit en moet hoor hoe jy elke “freak” wat jou vra wanneer gaan jy op pensioen, as volg antwoord: Seker as ek 83 is! gaan ek malraak. Ek is moeg om dit te hoor, veral omdat jy weet jy gaan nie vir altyd werk nie – ons het dit al tot vervelens bespreek – ons werk mos nou aan jou “pensioen”. Tog het jy altyd dieselfde “crap” antwoord, seker as ek 83 is. En dan geniet jy die, ag, hoe jammer voel ons nie vir arme jy nie.     Ek is moeg daarvoor, PUNT!!!!

En hier hoor ek netso voor 6:30 oooegh, oooegh, met die bewys regonder ons neuse lê Bella-Brak se braaksel, net om ons terug te bring na die hede… met my wat so na die bewysse kyk en ek wat doodeenvoudig antwoord:

Ek ry, ek is reeds laat, die kots op die grond  en die kotsende hond is jou probleem – ek gaan werk… hoop jou niersteen kom uit, maar ek ry…

En so is ek vanmore uit my huis, ‘n siek man wat hunker na pensioen, ‘n kotsende Bella-Brak, en ek wat “repent” (ag Here, ek is so swak) oor ek so vieslik gevloek het vanmore douvoordag… en ek het nie eens ‘n niersteen nie!

Advertisements