Wat doen mens om tyd om te kry as jy vir die hoeveelste keer in ‘n hospitaal sit en wag. 

Jy blog maar.

Ek het lekker kos op die stoof, die ouman is later as gewoonlik,  hulle het een of ander krisis by die werk en hy laat weet my dat hy laat gaan wees.

Lekker… gee my so stukkie asemskep. Ek, die brakke en die kat. Saligheid op note… te lekker vir woorde dink ek. 

Hierby 18:30 “hoor” ek die ouman is tuis – dit vloek, dit skree en als en almal koes. Lovie,  vandag vrek ek, ek het amper my kar gerol op die highway. Ek en die brakke en die kat spat elkeen in ons eie rigting, met die dat hy in allerhande vieslike tale skreeu.

Vat my hospitaal toe! 

Wel daar is in my valley ‘n splinternuwe hospitaal, so 3 km van my huis af. Hy spring deur die stort en skree maak tee, wat hy nooit gedrink het nie.

Toemaar,  toemaar ek vat jou na die Mediclinic, dit is om die draai. Dankie tog ek hoef nie weer Unitas toe te jaag die slag nie. Surprise, miskien splinternuut, maar ongevalle is nie ongevalle soos in my dae nie. Die pasiënte sit hul sit en wag hul beurt af met een suster wat hul almal se vitals moet neem, 1st come, 1st serve. En die ouman krul en vloek onderlangs.

Ek sê nee wat, hier gaan ek nie regkom nie, kom ek vat jou Unitas toe. Ja, asb vat my,  hulle “ken” my daar, (asof) vandag vrek ek, ek sê jou vrek ek!

Nou ja, nodeloos om te sê, word my kar se noodligte aangesit, en is ek skielik op ambulansdiens met ‘n ouman langs my wat lostrek met die vieslikste taal, omdat ek vlg hom ‘n k#k kar ry, ek moet oor rooiligte jaag, ek moet oor karre jaag, Centurion het nogal verkeer daai tyd van die aand, en die +-8km rit voel soos ure.

Die ouman praat in tale en skree vieslike woorde,  en hoe pateties my arme Honda is. Jy ry soos jou gat, vanaand vrek ek, ag asb liewe Jesus help my!! En dan trek hy weer los….

Ek kry so de-ja-vu oomblik van so 12jr gelede toe dieselfde pyn hom beetgepak, al verskil was,  dit was in die oggend, ook spitsverkeer. Daai taal als is dieselfde, ek en my kar ontgeld dit. Ek moet voet in die hoek sit en f#k die res, sies,  dit is lelik vir my ore.

Wel,  nou lê hy onder verdowing mak soos ‘n lam in die oorvol ongevalle eenheid by die hospitaal wat hom “ken“. Met ‘n vorige hospitaal rekening wat nog uitstaande is van omtrent R60.000-00 en skielik is ek dankbaar vir hierdie vrek dure mediese fonds waaraan ons behoort. 

Vrek dankbaar, vir personeel wat net die “matroos” met als in hulle wil verwyder tussen die ander pasiënte – al beteken dit dat hulle hom opneem in die ambulanse se ongevalle. Hy is stil en ek skep asem by my gunsteling groep mense – my veilige plek, hierby julle. En probeer om die laaste uur en half se drogbeelde hier weg te tik op my kleine skermpie.

Hierdie lewe gebeur in fast forward en as ‘n man nierstene het ontaard hy in ‘n regte egte baba – in so mate dat ‘n mooie jongmeisie wat ‘n sist het,  wat hulle aangesien het as ‘n blindederm selfs sê, he can have my bed. Want sy wag net vir ‘n siekbriefie dan gaan sy huistoe. Nodeloos om te sê die gewone ongevalle sal nie ‘n matroos kan inneem nie.

Terwyl ek in die hospitaalgang op en af loop kom die einste Engelse meisie aangestap na my. I just want to give you a hug before I go, if I may? AG IS DIE HERE SE ENGELE NIE KOSBAAR NIE – ek ken die kind van nerens, mooie blonde gr12 dogter – sy het natuurlik die hele petalje gade geslaan, en gehoor hoe ek vir die ouman sê, kalmeer, kalmeer ons is mos nou by die hospitaal, gee die mense net kans dat hulle ‘n bed vir jou kry.

Hoe maak jy ‘n man met nierstene stil? Jy gee hom een moerawiese inspuiting vol “morfien”

Die oomblik wat ek gou mag inloer sê hy vir my die pyn is weg, daar is niks…. ek voel beter… jammer ek het so geskree en gevloek, kry net vir jou ‘n Porsche asb.

Advertisements