My oupa was die rerige pa-figuur in my lewe. Hy was ‘n smart stylvolle oompie, oom Nols, Nollie of Wessie – vir my was hy Oupie.

Ek vang my self sekerlik op ‘n daaglikse basis waar ek aan hom dink, en na hom verlang.

Ek sal nooit vergeet dat daar altyd ‘n bakkie met pick-a-mix was waar hy ookal gebly het vir sy ou kleinkindertjies nie. In die “ou dae” het elke supermark sulke bakke met groot hoeveelhede sjokolades binne gehad, wat mens dan in ‘n bakkie kon gooi, meng  en dan betaal jy volgens gewig. Oegh, dit was elke oumens en kind se dood, daai rakke vol bakke en bakke sjokolade. En my Oupie het altyd dit in sy huis gehad. Ag Oupie, ek hoop ons ontmoet mekaar weer in die hemel, ek wil jou net liefhê….

Ook as ons saam met oupa in sy fancy kar gery het was daar altyd musiek, Min Shaw en kie, maar sy groot gunsteling was “Niel Diamant” soos hy altyd vir ons gesê het – ons het dit saam met hom geëet, gedrink, gedans en geluister na, I’M A BELIEVER, HELLO AGAIN, SONG SUNG BLUE, SHILO,  SEAGULL ens…. een van sy latere gunsteling was LOVE ON THE ROCKS, oe-eee. Oupie ek mis jou, met ‘n mis en verlange wat niks kan vul nie…

Oupa het my pa, sy broer en sy stiefdogter alleen grootgemaak, na die afsterwe van my ouma, ‘n oud klavieronderwyseres, my pa was nog ‘n jongseun en sy broer ‘n pr jaar ouer as my pa. Watter rolmodel, ‘n man van integriteit en ‘n intense liefde vir die mooi dinge in die lewe. Hy was ‘n perfeksionis in alle fasette van sy lewe – iets wat ek seker in ‘n mate geërf het. Sy kar was altyd silwerskoon van hoek tot kant. Hy het sy kinders man alleen met soveel trots grootgemaak, en nooit weer in ‘n verhouding gewees, behalwe vir die eenkeer wat beide my pa en sy broer so te kere gegaan het oor dit geblyk het hy hou van ‘n vrou, dat hy daarna die lewe as enkeling geloop het.  Sonder dat enige een van hulle twee dit kon regkry om na hom te kyk toe hy die weerbaarste in sy lewe was. Nie een het kans gesien vir “PAPPIE” nie, iets wat my nogal bitter maak aangesien hulle aangedring het dat hy sy huisie in Menlopark moet verkoop, die geld verdeel onder my pa, sy broer en homself en dan sal hulle na “PAPPIE” kyk – wat toe net vir ‘n rukkie ‘n werklikheid was, omdat hulle nie een kans gesien het vir die “oumens dimentia” wat ingetree het nie – miskien was dit danksy hul vrouens die geval dat hulle nie na hom wou kyk nie, ek sal nooit die waarheid weet nie.

Ek onthou vir Oupie, waar hy met sy koerant sit, waar hy in diepte sy dagstukkies lees, en dan daarna sy Bybel studie doen, maar dit wat ek tot vandag nog die duidelikste sien is waar hy knielend in sy oumenslyf voor sy enkelbedjie kniel en vir als en almal bid.

Ag Here, as ek maar net ‘n druppel kan wees soos hy was  wat betref sy verhouding met ons Allerhoogste… Ek mis hom en vandag mis ek hom veral omdat ek die nuutste lied van “NIEL DIAMANT” so terloops raakgeluister het, en die trane rol oor my wange, mag ek hom rerig weer sien, Here asb, die hiernamaals moet die reine waarheid wees, hoofsaaklik omdat U dit vir ons sê dat die net die begin hier is, en o.a omdat ons asb weer ons geliefdes by U voete wil gaan ontmoet.

Advertisements