My dogtertjie,  die doktertjie, verjaar vandag sy is ‘n volle 29jr. Ek weet almal werk en ons het oor die naweek verby mekaar gepraat rondom haar verjaarsdag, dus was dit ook net nog ‘n naweek.

Dit is baie moeilik om vir haar geskenke te koop – nie omdat sy reeds als het nie, wat seker ook in ‘n sin die waarheid is, maar sy is glad nie ‘n juwele mense nie, sy dra slegs haar polshorlosie en verkies sommer goedkoop horlosies omdat sy volgens haarself agterlosig is – Parfuum dit kan ek beslis nie vir haar koop nie, sy nies maklik van parfuum en wys ook gou as sy nie van iets hou nie. Musiek dit het sy baie, en ek is nie juis op datum wat haar huidige musieksmaak betref nie. Boeke, ek het al ‘n hele biblioteek vir haar gegee. Kameragoed vir haar geliefde Nikon, ek is nie so up to date met dit nie

Gewoonlik het ek al lank terug haar geskenk gekoop en gebêre – maar die jaar met al die krisisse van die afgelope pr maande is niks meer soos “gewoonlik” nie.

Dus sleep ek die man saam en vra hom wat kan ons vir haar koop – ek is nie lus vir die winkels nie, juis omdat ek nog piep het, en deesdae voel ek nogal taamlik vuisvoos. En ek voel dis op die beste van tye self soos ‘n dobbertjie in ‘n onstuimige oseaan.

Maar terug by die geskenk – ek sê vir my man miskien moet ek haar “baas” vra watter tipe boor gebruik hulle vir hul ortopediese-operasies, so gesê, so gedaan. Die boodskap wat ek terugkry is dat die bore kos vanaf so R30.000-00,  Nope dit is uit, ons het reeds betaal dat sy ‘n Veearts kan wees en vir al die ekstras wat daarmee gepaardgaan. Ek betaal nie soveel nie, ek wil net ‘n verjaarsdag geskenk koop waaraan sy waarde sal heg.  Die “baas” sê darem dat hy sommer net ‘n gewone koordlose boor gebruik met die regte mediese boorpunte ens. So kry sy dus ‘n boor, met ‘n paar ander lekker goedjies daarby, vir as sy nie van die boor idee hou nie.

Nou-ja, so loop ons en soek na ‘n bekostigbare boor wat darem effe kwaliteit daarby bied. Gekry, gekoop en nou nog net die toedraai. Tussendeur het ek sommer sulke paar kleinighede bygekoop net vir die wis en die onwis. Sy doen altyd baie moeite met my/ons spesiale dae, ongeag of ons nou die vorige dae hare gekloof het, of ons midde in ‘n “haar geklowery” is – en dan ek wat elke keer vir myself tydens so episode sê,  ek soek niks nie, net mooi niks. Lekker pity party op sy beste. Ek hou nie daarvan as ons baklei nie, eintlik hou ek nie van baklei nie, PUNT

Vroegoggend verander ek my W/A profiel foto ook na iets waarin ek haar erkenning gee – waarom? Want sy verjaar, en dit is lekker om te sien mense van jou hart wil die dag saam met jou geniet. Ek kry ‘n mooi foto van haar waar sy met een van haar kliente se troeteldiertjies op haar skoot sit – en ek vra haar pa in ‘n bs, ag sit die so rukkie op jou W/A dit sal baie spesiaal vir jou dogtertjie wees. Hy doen nie, al wat hy my laat weet is dat hy klr vir haar ‘n boodskap gestuur het. (en tussen die lyne lees ek, basta met die res) In stilte vervies ek my vir hom, hy gee nooit op die manier erkenning aan iemand nie, nie eens aan ons nie. Dan kom die Satan en fluister in my oor, wonder wat steek die ouman weg? Hoekom wil hy nie hê mense moet weet van julle nie? En al wat ek terug antwoord is, HY IS NET SO en niks meer of niks minder nie.

Maar ai, hoe wens ek hy wou net so dan en wan sy “comfort zone” verlaat, en ietsie doen wat veral sy kinders erkenning gee, (sonder dat ek hom vra) ekself voel rerig ‘n veer oor waar ek wys, maar ai, die kinders, wys netso nou en dan, nie altyd nie, 3 daggies van ‘n volle 365 dae van die jaar vir die wereld dat jy nie rerig ‘n enkeling is nie,  show bietjie af met jou seun, sy kind of jou dogter se verjaarsdag… dit sal soveel waarde dra – nie net vir my nie nie, maar veral vir hulle wat altyd wonder of hy tevrede is met hul doen en late in hierdie lewe. Maar ja, elke mens gee om op sy eie manier – mens kan maar net hoop die mense in jou lewe weet en ervaar dan ook jou soort omgee as iets mooi.

Happy, happy my Bok, lekker verjaar. Ek weet dit wat vir jou uitgelê is, is lieflik mooi, en juis daarom sal ek saam met jou myself in hierdie dag verbly. Liefde Mamma xxx

 

 

 

Advertisements