Ek stop gou-gou by Dischem vir verkoue goed, my hele kantoor hoes en proes en ekself sukkel sekerlik nou al amper ‘n maand lank met ‘n hardnekkige verkoue, wat net nie finaal die pad wil vat sodat ek weer kan draf nie.

Ek dink dit is omdat my kantoor op die beste van tye na ‘n siekeboeg ipv werksplek lyk.

So met die uitklim sien ek nie die motorwag nie, ek ruik hom. Ek ruik weke gelede se ordentelike was – toeneus die lot.

Ek dink ek moet die ou net vermy, want daai stank gaan voorwaar in my kar kleef as hy naby my karruit kom vir sy oppasgeld.

Ek sluip van die Dischem na my kar sit gou die pr goedjies in die kar om dadelik na ‘n ander winkel te gaan. Weereens ruik ek die karwag, maar sien hom nie. Phew... dankie tog hy sien my nie.

Terug by die kar, spring ek vinnig in my kar, want ek ruik hom en wil nie die reuk in my kar hê nie.

Met die uittrek sien ek die wag wat wys hoe ek moet uittrek, asof ek nie kan nie. Nes my man,  wat gedurig my voorskryf oor wanneer ek verby mag steek, wanneer ek moet of moes stop, my spoed aan my noem ens. Verdomp, ek kan mos myself help. Maar ek volg maar sy instruksies – dit is tog deel van jou job description, as jy karwag is.

En toe ek weer kyk is hy by my voorruit – o jitte, ek kan nie die ruit oopdraai nie, my kar gaan beslis vrot stink. Ek probeer sy blik vermy, maar dit is nie in my nie, oogkontak is deel van mense waardigheid gee… en daar kyk ek deur die toe ruit na hom, en die mooiste, maar mooiste glimlag met die witste tande ooit, in sy bruin gesig tref my.

Ek weet ek kan nie, nie die karruit oopmaak vir daai glimlag nie – ek is in ‘n tweestryd, maar die glimlag wen, af is dit met die ruit en ek wat my asem inhou… ek sit die muntstuk in sy hand en sê dankie vir die kar oppas… met die altyd GOD BLESS daarby (wat snaaks genoeg altyd in eers verbasing, en daarna as dit insink, met ‘n groot glimlag gepaardgaan)

In die wegry draai ek al die vensters af vir vars lug en in my kop wonder ek oor die geriewe by sy huis, dit wat ek in myne as so vanselfsprekend aanvaar. En ek weet, dankie tog, die Vader ruik ons nie – maar Hy sien ons harte en somtyds is sommige se harte veel mooier as dit wat die oog, of in die geval, die neus, waarneem…

Advertisements