Toe ek ‘n jongvrou was het ek PMS op steroids gehad. Als en almal om my het dit ontgeld. Ja, ek is een van “daai” vrouens. Vir my was dit nie net omdat ek ‘n vrou is en daarom moet ek dit hê nie. (Vandag se mode woord is mos bipolere depressie – so te sê almal het dit, intussen het hulle nie die vaagste benul watter gru-siekte dit in die werklikheid is nie. Baie vrouens/mense diagnoseer hulself sommer met die wrede siekte) Maar terug by my PMS, dit was mal verby. 

Ek was klank sensitief, lig sensitief, mens sensitief en wou letterlik die berge in vlug. Tot my vel was sensitief, niemand moes aan my raak nie – ek jok nie. Ek is erg trots op myself dat ek nie in daai tyd iemand te lyf gegaan het, of selfs vermoor het nie.

Toe het ek boonop ‘n histerektomie op die jeugdige ouderdom van 36 gehad, ek dink dit het darem gehelp dat ek min of meer oor die PMS ding gekom het. In ‘n mate, want steeds het ek ge-ovuleer – maar dit was darem nie meer die uiterste van “nie toerekeningsvatbaar” vir die gevolge wat sou volg nie.

Met die jare het ek min of meer in beheer van myself geraak, of die ding het “homself” dalk uitgewoed. Ek noem dit ‘n manlike emosie, want dit is net ‘n man-ding wat jou so stapelgek kan maak.

Deesdae wonder ek, is dit terug… of gaan ek nou in my menopause? My bloede sê die vroulike hormone is nog lieflik in my lyf, maar ai… ek is terug hier waar selfs stilte raas…

Ek bly vir my man sê die huis raas, daar is die heeltyd ‘n hummmm klank, ook manlik 🤔 maar hy is fabrieksdoof, en hoor dus niks. As ek in die nagte wakker word hummmm die huis – dit maak my mal. En dan wonder ek is die hummm in my kop of is dit real. Wel, ek hoor dit nerens anders as by die huis nie, so dit moet real wees.

Maar Saterdae is die ergste, dit is kinders, honde, voëls, die tuinier en als is net nog harder hierin my wereld. En dit help nie juis dat my man nou so te sê permanent op siekverlof is agv sy hart nie – want nou voel dit asof ek net nooit meer alleentyd het nie – iets wat soos suurstof vir my tipe persoonlikheid is – dit is al wanneer ek rerig herlaai en weer mens kan voel as ek heeltemal aan my eie geselskap oorgelaat is vir ‘n wyle – dan kan ek nog die huis se hummmm en als wat daarmee gepaardgaan hanteer.

Maar met die dat ek nooit ooit meer net in my eie geselskap is nie, kom bekruip daai sensitiwiteit my soos ‘n dief in die nag. En al hoe ek uiting daaraan kan gee is om verbaal van my eie frustrasie ontslae te raak – soos om driftig aan die skree te gaan vir die geringste trigger, oehee ek hou nie van daai gevoel nie, dit herinner my te veel aan daai tyd toe ek aan PMS gely het. 

Nou wonder ek weer, is ek besig om ouvrou-tyd in te gaan of is ek sommer maar net vanself stapelgek? 

Ek skree vanoggend op top volume, ek wil in die Kaap bly, (Here, voor ek in die Kaap is,  gee asb reën vir die Kaap, U weet ek hou van bad, tuinmaak en ‘n skoon Honda, en die mense daar het dit broodnodig)  terug oor waarom ek in die Kaap wil bly, ek gaan almal wat so raas elke naweek vir ‘n moewiese braai nooi, net omdat ek weet hulle sal na my toe moet vlieg vir my moewiese braai – en ek sal not te dem daai vliegtuigkaartjies koop nie, hoor my lied, ek sal nie!!! 

Advertisements