Opgedra aan Andorize – wie ek weet hierdie ma is – al is dit net in gees. 

Niemand maar NIEMAND mors met ‘n mamma nie. Het jy al gesien hoe jaag ‘n ma wat laat is om haar kind op te laai/af te laai? Gruella deVille is ‘n mooi een. Daar is iets primitief wat manifesteer wanneer ‘n ma in belang van haar kind optree. Sy tel nie haar woorde nie. Sy dink nie aan haar waardigheid nie. Sy fokus net. Op. Haar. Kind. ‘n Mamma wat hul kind te hulp snel is geen muurblommetjie of madeliefie nie. Veel eerder is sy ‘n beneukte swartrenoster wat storm sodat daar net ‘n rooi stofwolk oorbly. Jy kyk verbaas na jou stil vriendin wat skielik blaas en naels wys. En iemand anders wat ‘n harde neut is om te kraak raak sommer vir niks tranerig van bekommernis oor haar oudste bloedjie. Mammas is enig in hul soort. Hulle koop die sweetpakbaadjie en loop maar verby die mooi skoene. Hulle is eerste op terwyl die huis nog stil is. Hulle maak kosblikke en ontbyt en soek tekkies en oefenklere vir vanmiddag se landloop nog voor die son opkom. Mammas hunker na drentel afsprake met vriendinne terwyl hulle heelmiddag op en af ry tussen skool en aktiwiteite. Hulle troos en kyk in jou oë en vra baie vrae en gesels – al het hulle baie ander goed wat wag om gedoen te word. Mammas raas ook maar word gou weer goed. Hulle bid met oop oë hardop agter die stuurwiel omdat jy dit nodig het. Mammas dra jou heeldag in hulle harte al stap jy met jou boeksak deur die hek. Hulle lag vir jou lawwigheid. Mammas weet wat dit is om minder te word- nederigheid en diensbaarheid is nie net vir hulle woorde in ‘n preek nie.

(Mis my ma vandag ekstra baie, ek weet ma se tuin is lieflik daar waar mamma nou is – geniet dit en weet dat ma geliefd is)

Advertisements