Vanmore oppad terug huistoe van die winkels af gaan my gedagtes na my vriendinne en ma’s.

Ek verlang vandag nogal erg na my eie, en verwens myself weereens dat ek haar nie genoeg waardeer het nie,  en baie keer haar input in my lewe nie altyd na waarde geag het nie. 

Ek dink aan my gesprek met my niggie gister – sy en haar jong volwasse dogter wat ‘n onderwyseres is, was die afgelope skoolvakansie Ierland toe – sy het betaal vir haar en haar dogter. Ek sê, jitte dit lyk of jy en jou dogtertjie ‘n fees gehad het. FACEBOOK sê so, en dus het ek dit aangeneem. 

Sy is stil vir ‘n wyle – ag dit was ok, die eerste 4 dae van die 7 dae lange vakansie was klaarblyklik ‘n agony, niks was volgens die dogter se smaak nie, die laaste 3 dae was ook maar net okay. Sy sê sy doen dit nooit weer nie. (Klink nogal soos die vakansies met my eie) haar en haar dogter se verhouding is maar kompleks, sy sê haar dogter sien haar net oor naweke, en het laat val dat Pta eintlik te klein is vir beide van hulle en dat volgens die dogter sien hulle mekaar te veel en wil sy uit Pta.

Jy weet ek en my dogter het nie so goeie verhouding soos jy en jou dogter nie sê sy – ek sien mos op FACEBOOK, gmf dink ek, goeie verhouding se voet. Ek en my dogter se verhouding is op die beste van tye volatile, om die minste te sê.  Ek loop maar op eiers om haar, is ek vriendelik met haar vriende is ek te vriendelik, is ek normaal is ek suur. Dus weet ek net mooi nooit hoe om te reageer rondom haar mense nie. Myne wat elke nou en dan op die toppunt van haar stem my duidelik laat verstaan sy is ‘n grootmens, en ek moet haar uitlos, sy kies self, maar elke keer as sy in flarde val dan moet ek met als in my troos? Ek wil nie meer nie, ek wil net skree, I told you so!!!! Maar jy wil nie hoor nie, LOS MY UIT! Ek wil nie troos nie, los my uit. Ek is op die beste van tye heeltemal uit my diepte rondom haar en smag altyd na ‘n glas wyn in haar geselskap net om myself te kan handhaaf, ongeag die tyd van die dag.

FACEBOOK, jou liegbek, ons wys vir almal om ons die oe’s en die a’s, net om ‘n ander te laat wonder oor die dinamiek van hul eie verhoudings. 

Ek dink aan my ander vriendin  wie se jong volwasse dogter so jaar terug met HPV gediagnoseer is – my vriendin bel my en is baie hartseer oor haar dogter wat “servikale kanker” het. Dadelik dink ek aan die dr’s en verwens hulle omdat hulle nie dit net doodeenvoudig by die naam noem nie – “kanker” is ‘n vreeslike woord. Ek moet asb vir haar bid – ek sê vir haar dat dit rerig in die vroeë stadium baie behandelbaar is en sy moenie te veel worry nie, sy moet ook nie vir almal dit vertel nie. My vriendin is maar naief en glo dat haar 30 jarige dogter “ongeskonde” is omdat sy nie getroud is nie. Maar ja, die dogter is rerig anders – hippie’rig anders, en het al met als en nog wat getoets, is mal oor kunstefeeste, haar vriendekring is ook so effe aweregs. Maar ek hou baie van haar dogter, ongeag haar vreemdheid. 

‘n Paar dae later bel sy my en baie angstig vra sy my,  om asb nie vir haar dogter te sê dat ek vir haar bid vir die “kanker” nie.  Want sy en haar dogter het die allervreeslikste geveg gehad, en sy wou net met alle mag weet vir wie het sy almal van haar “kanker” vertel? Sy was woedend vir haar ma. Ma irriteer my, dit is net ma wat dink dit is “kanker” almal weet wat dit is, behalwe ma, wat uit,  ek weet nie watter era kom nie. Ek het te veel mans “gesoen” en een van hulle het dit vir my gegee, moenie vir mense vra om vir my te bid nie! Ek voel so jammer vir my kosbare maat, maar wonder self oor haar naiwiteit met tye. Maar ja, ma’s wil glo hulle vrouekinders sal wag vir die regte man, vir die huwelik en al daai mooi goed rondom die birds and the bees….

Skielik voel ek jammer vir ons  as ma’s, en ek wonder oor ons trane en ek ek dink so in die ry oppad huistoe aan die see… dit is seker danksy al die ma’s in die wereld se trane dat die see die ene sout is… moet wees, want ma’s huil in baie gevalle so vreeslik oor hulle kinders se onmoontlike keuses, hulle weet dit is met vuur speel,  maar tog wil ons kinders so graag die vuur toets en wil hulle ons nie glo wat reeds deur daai selfde vuur beproef is nie… hulle glo ons nie as ons sê dit hou niks goed in vir jou nie. 

En dan kom daar ‘n dag wanneer ‘n ma se trane op is, en wat sy doodeenvoudig sê, Here ek gee oor, dit is jou kinders en as hulle deur vuur moet gaan dan is dit maar so… en net so elke nou en dan sal ‘n ma huil omdat sy weet dit was en is so onnodig, die vuurspelery – en die wereld se oseane sal nooit opdroog nie juis oor ma’s wat huil oor hul kinders se keuses.

Gaan proe maar,  jy sal jou ma se trane in die seewater proe… trane van sout en pyn! 

Advertisements