Baie, baie jare gelede het iemand waaroor ek baie omgegee het my voor ‘n voorwaarde gestel, die voorwaarde was of jy doen dit nou of ek “delete” jou vir altyd uit my lewe, nodeloos om te sê my persoonlikheid is van so aard dat ek glad nie in ‘n blik gedruk wil word nie, veral as dit by belangrike goed kom nie. Dus, ek was oral “delete” waar ek ookal “delete” kon word, en ek het nooit weer tot op hede met die persoon gepraat of gesien nie. 

Ek stap ook nie terug op paaie lankal reeds geloop nie. Ek hoor van so baie mense wat net gou weer na hul ou huis, ou skool ens wil gaan kyk – ek doen nie dit nie, dit is nie meer myne nie, waarom teruggaan?Dit gaan my verstand te bowe.

Reünies NEE, NEE, NEE as ek jou in my lewe soek, sal jy nou deel wees daarvan, en het ek nie ‘n 20jr herdenking nodig om jou te sien nie.

Ek besoek ook glad nie grafte nie, ek gaan eenkeer, ook net as ek verplig voel, maak die ter aarde lê storie mee, en dan is dit die laaste sien van die “blikkantien”. Wat is die sin daarvan? – dit bring net herinneringe van pyn mee, en baiekeer ook hopeloos te veel skuldgevoelens jeens die afgestorwene. Ek hou beslis nie van selfpyniging nie.

Daar is wel een graf wat ek graag sal wil besoek en dit is die graf van Jesus Christus, want daai graf is die enigste graf wat leeg is omdat ‘n gebroke, stukkende liggaam daaruit opgestaan het vir my en jou, en daarom sal ek met ‘n dankbare hart daai roete wel wil stap, al is dit net eenkeer in my lewe.

Ek verstaan ook nie die hunkering na ou liefdes nie, dit het so onnodige greep op jou “nou” kosbare huidige lewe. As dit eenkeer, okay, selfs ‘n tweede keer nie gewerk het nie, waarom sal dit enigsins ‘n volgende keer werk? Hoekom is hy/sy dan nie aan jou sy nie, daar moet tog ‘n rede wees waarom hulle ‘n vervaldatum gehad het, dink ek.

Ek hou niks van verwerping nie, en sal als in my vermoë doen om verwerping te keer, maar verwerp my eenkeer dan is dit eenkeer te veel. Ek sal nooit weer veilig voel in so persoon se geselskap nie.

En dan….

dan kry jy mense wat so in die verlede lewe dat hulle heeltemal die greep op realiteit verloor, hulle oordeel hulself oor hul verlede en het geen insig in die nuwe mens wat hunker om uit die verlede te ontsnap nie, om sodan ‘n nuwe avontuur aan te gryp en die mooi van huidige mense, nuwe huise, nuwe plekke te ervaar nie, of selfs net die goedheid van die huidige “nou mense” in hul lewens te waardeer. En as die “nou mense/dinge” skielik nie meer in hul lewens is nie staan hulle by oop grafte,  en word daai “nou dinge” skielik “daai was dinge” en skielik is daar die hunkering van toe dit nog so was, of hulle was so en so en saam met dit kom hopeloos te veel selfvergelding…. omdat jy vergeet het om in die oomblik te lewe en te veel teruggestap het in die verlede se verlange na dit wat toe nooit meant to be was nie.

Ek loop nie onnodiglik terug nie! Behalwe as ek “die nou” gesond moet maak ter wille van dit wat “nou” is, en dan alleen sal ek dalk teruggaan om los drade vas te maak,  sodat ek die “nou” optimaal kan geniet… dus ek verstaan terugloop slegs as dit genesing moet bring.

Maar dit is ek, en ek is nie jy nie, ek probeer net verstaan wat is dit dat so baie van ons vasgeboei is aan dit wat verby is?

Advertisements