Donderdag sê ek vir die man ek wil gou WW toe gaan om so bietjie vrugte ens. te koop. Uit die bloute sê hy, hy ry saam.

Nou ja, nodeloos om te sê, toe ontaard my WW “gou inkopietog” in ‘n familie-event. 

Ons ry met my kar want ek hou van my kar, al my goed is in my kar en die reëling in ons huis is elkeen bestuur sy eie kar en niemand stel aan ‘n ander se radio nie. In my kar is my kar radio op twee stasies ingestel, of Kansel- Radio,  of Impact-Radio en dan met hope en hope van my gunsteling musiek, as ek nie radio wil luister nie, op my USB-stokkie. Die man luister altyd na Jakaranda,  dit gaan natuurlik my verstand te bowe. Tot onlangs in elk geval, toe Riaan vertel hoeveel beter hy op tv in een of ander sepie sou wees, waar twee homoseksuele mans wat mekaar veronderstel is om diep en innig te soen, sou kon speel, hy wat Riaan was sou die rol baie meer oortuigend kon speel!!!  Hy het hom so vererg, nie oor die rol nie, maar oor hy so aangegaan het, en omdat ons geensins enige sepie kyk nie en hy dus clueless is wat daarop aangaan. Ons beide se motto is leef en laat leef, maar vandaar af weier hy om Jakaranda te luister, en is hy ingestel op die, o so polities korrekte RSG, of hy sê Bosveld radio. Dit is agv RSG dat ek en hy nou die bitter kankerbossie daagliks moet gebruik! Kamtig vir alle skete onder die son en hope energie.

Maar nou ja, terug by WW met die instap besef ek, ek is sonder bril, die bril lê in my kar, maar die man is mos hier. Nou loop ons deur die winkel en ek vra hom, wat is dit, wat is dat, hoeveel is die per kg ens. Hy antwoord mooi op elke vragie en net dit wat ek vra. Netso voor ons by die betaalpunt kom is daar goed wat vir moedersdag op die rakke is, ek sien blikbekers met iets daarop geskrywe en ek sien daar is iets binne die bekers. Wat is dit die??? En wat sal die man ten aanhore van ander my antwoord? Dit is R60-00, ‘n volle flippen R60-00! Verergd sê ek vir hom, dit is nie wat ek jou gevra het nie, jy gaan nie jou pa se streke op my uithaal nie. Ek wil weet wat is daarbinne, ek soek nie ‘n blikbeker nie! Dit is R60-00 vir hot chocolate, ek sal vir jou so beker vir R20-00 maak. Nodeloos om te sê,  is my bloed besig om te kook – luister jy ek soek nie die verdomde beker nie,  ek is blind ek wil weet waarvoor verkoop WW blikbekers en wat daarbinne is! Daar is ‘n jongerige man wat ons gadeslaan, ek sien hierdie man se simpatie lê by my. Maar ek weet ook wat hy dink.

Toe ons in die kar klim na ons aankope kondig ek dit duidelik af, jy doen dit nie weer nie, hoor jy my! Ek sal nie daarvoor staan nie. Jy laat dit klink of jy my kooplus moet beheer – jy weet jy hoef nie. Het jy daai man gesien wat na ons gestaan en kyk en luister het? Weet jy wat dink hy, hy dink: ja jou stupid vrou, julle “jongvrouens” dink mos as julle met oumans trou is dit moonshine and roses… ek sou nie mind om die ou bekertjie vir jou te koop sodat jy mooi by die huis kan sien wat daarbinne is nie, maar nee, julle soek oumans

Verstom se hy vir my,  ja ek is maar ‘n poephol, maar het jy gesien wat kos daai beker? Ek vererg my weer en sê vir hom wat die hel verstaan jy nie, ek soek nie die bleddie beker nie, ek wil weet wat is daarbinne???? Weer,  jy trek nie jou pa op my nie, as ek iets wil hê sal ek dit koop, as ek R60-00 vir ‘n blikbeker met wat ek nie weet wat daarbinne is nie, koop, sal ek dit koop! Maar jy dit doen nie!

En so ry ons huistoe.

Vanoggend sê ek vir die man, ek kan nie wag dat ons in die Kaap is nie, jy gaan my so 3 keer week sê dat jy “kook” en dan vat jy my uit na die een of ander lekker eetplek. Dan Hermanus, dan die Weskus, dan die Waterfront ens….. oegh, ek kan nie wag nie, dit gaan lekker wees, net ek, jy, Ben en Bella, die Kaap is baie hondevriendelik! Maar laat ek jou nou eending sê, as jy dit waag om vir my te sê, het jy gesien wat kos dit is of dat, gaan ek so groot scene gooi, ek gaan net daar en dan opstaan en loop, dan kan jy maar rooigesig sit en ‘n glasie kraanwater geniet!!! Jy sal nie maak of ek nie kan lees nie, verstaan jy? Maar ek sal mos nooit so iets doen nie…

FLUIT-FLUIT

Advertisements