So jaar en 1/2 gelede, kort voor winter,  rys ek uit my bad – voor my is daar ‘n spieël, elke vrou het mos maar ‘n spieël nodig by die bad vir al die vroue dinge van vrouwees ens.

Ek ignoreer die spieël, vir my was dit net daar omdat ek my gesig in die bad was dat die skuimbolle so staan, en daarvoor het ek die spieël nodig.

Maar toe vang my oog my lyf met die rys uit die bad… en so waar as waaragtig ek sien nie my naeltjie in my eens strykplank plat maag nie… ek sweer daar is net mooi niks behalwe ‘n rol wat ek nooit gehad het nie.

Angs het my beetgepak, en gewalg wonder ek tussen watter tyd en nou het ek my naeltjie verloor?

Laat daai aand terwyl ek en die man in die bed lê vra ek hom ewe, of sal ek sê vertel ek hom, my naeltjie is weg!!! Van wat die hel praat jy nou? Ek sê jou my naeltjie is  gone, soos in heeltemal weg!

Hierdie gehardloop doen boggerol aan my middellyf, dit laat my net meer gryp na die brood en nou is my naeltjie weg, moer toe, sê ek hom. Hoekom sê jy nie vir my ek word vet nie? Baklei ek met hom – ek gaan nooit weer my naeltjie sien nie!!! Hy antwoord my soos volg: MAN, ek het agtergekom jy is nie meer so seningrig soos voorheen nie, maar ek het maar gedink jy word ook maar ouer nes alle vroumense so als verander mos maar?

Jy weet ek is bang vir vet word, jy weet ek het nie genoeg selfdissipline vir dieëte en daai  crap nie, nou sal ek iets moet doen om net weet my naeltjie te sien.

En so begin my weeklikse marteling met Bodytech, ‘n skamele 20 minute se intense oefening met die een of ander martelingspak en allerhande elektrodes aan my gekoppel, jy oefen jou hele lyf in 20 min met jou eie weerstand. Ek doen dit nou van Nov 2015 weekliks, ek is gewoonlik vir 3 dae daarna seer, die ene spierpyne ens.

My wintersklere sit losser en ek voel sommer net weer effe beter oor myself. Ek vra my man so 2 dae terug, sien jy ek lyk beter, my wintersklere is losser aan my, ek voel sterk en gesond, maar ek is tjoepstil oor die naeltjie.

Ek waag dit wel om vir my dogter later die aand te sê dat my naeltjie is terug… en wat sal sy my antwoord… Ja, ma het ook nie meer die outannie figuur nie, ma is weer regop! VERBAAS DINK EK IN STILTE, en ek het net gedink my naeltjie is weg… maar hy is terug en ek hoef gelukkig nie my liefdesverhouding met allerhande brode in te boet nie… wat is 3 dae lank se seer per week, as jy darem nog brood kan eet!!!

Advertisements