My voorbeeld, my woorde

Half en half uit my normale roetine vat ek Elaine hierdie week skooltoe. Haar pa is  met studieverlof en begin redelik vroeg te leer, nou help ek hom sommer om haar vir hom af te laai.

Soos gesê is dit nie deel van die normale roetine nie en vergeet ek dus dat sy by my in die kar is, die ene ore.
Vanoggend is ek my “normale haastig” en waar ons bly gebruik die sekuriteit ‘n biometriese sisteem om mense se in en uit te monitor. 
Met die dat ek by die hek kom wil die ding net nie vanoggend my vingerafdruk lees nie en bly  die “boom” dus toe vir die uwe. Nou raak ek ietwat ongeduldig en die sekuriteit sien my ongeduld en begin om die sisteem van onder te klap, hoe meer ek wil uit, hoe minder kan ek en hy bly die ding klap en klop en te kere gaan. 

Met my irritasie vlak wat nou in die rooi is, sê ek vir hom: “Ek wil nog vandag gaan werk! Ek het nie verdomp heeldag tyd hiervoor nie – maak net die ding oop! Ek is reeds laat!” en toe die woord wat dalk te kras is vir die platform. Hy gebruik sy kaart en maak die hek toe maar oop vir my, omrede hy sien hier kom nou moeilikheid.
Met een hengse skok besef ek Elaine is besig om my hele “tantrum” gade te slaan want sy is by my in die kar, wat nie die norm is nie.

Nou sit ek rooigesig en wonder hoe gaan ek my uit die een kry. Ek sê verleë vir haar: “Jammer Lainey, dit was seker nou nie baie mooi nie?  Sy antwoord: “Daai woord wat ouma gesê het was nie mooi nie.”

Wat sê ek nou, al wat ek uitkry is: Lainey, ek het vandag glad nie die vrugte van die Gees in my nie, ek is jammer. Ken jy die vrugte van die Gees? 

Ja, nogal, “Lainey ken jy die vrugte van die Gees?” Wat ouma klaarblyklik glad nie vandag het nie, dink ek by myself.
Ek begin deur dit rooigesig af te rammel, en sê by dit, ek sal dit vir jou by die werk “print” en huistoe bring, sodat jy dit kan lees en dan sal ek dit mooi aan jou verduidelik.
 Wat antwoord sy my? “dan sal ek hulle vir ouma weer leer, want ek sien ouma het dit vergeet!!!!”

Nou ja, wys jou net, hoe jy jou elke dag se lewe leef, spreek veel meer as jou geykte woorde – en moet asb nie vergeet as jy klein passasiers met groot ore in jou kar het nie! 
Sies vir my, ek is sommer kwaad vir myself oor die groot glips en dit voor my kosbare Lainey!!!

Advertisements