​Dankie vir die, jy weet wie jy is wat my dag behoorlik kom maak het… ha, ha, ha, ha

Pasop vir die nuwe jeukerige sestigers

 Netwerk24Source: Netwerk24

Hoe gebruik deesdae se speelse 60-jariges hul nuutgevonde jeug en dink hulle ooit aan hul slagoffers? wonder Erla Diedericks.

Erla Diedericks

Daar is ’n nuwe manlike spesie in die dating-wêreld. 60 en speels. Bevry van verantwoordelikhede en aangevuur deur Viagra, is dié nuwe generasie rokjagters iets om mee rekening te hou.

Die kinders sorg nou vir hulself. Die huis is afbetaal. Die egskeiding het gewoonlik al ’n dekade gelede gebeur en hy is weer geldelik op sy voete en gevestig. Hy het reeds sy middeljarekrisis agter die rug en is nou in sy seksuele swanesang. En bewaar al die visse in sy rivier.

’n Paar dekades gelede was mans bo 60, baie soos die destydse vroue bo 50, as oor die muur bestempel. Botoks en sexy baanbrekers, soos Madonna en Sharon Stone, het egter die speelveld vir die ouer vrou verbreed.

Nou is dit die mans se beurt.

Viva Viagra!

Met seksuele opkikkers soos Cialis en Viagra is die seile weer gebol. Daarby kan mans deesdae vir hormooninspuitings gaan wat die testosteroonvlakke hoog hou – wat al die ouer omies op Harley Davidsons en in die gim verduidelik.

Dis natuurlik wonderlike nuus vir ouer mans en ek is baie bly vir hul part. Dis net . . .

Wat hulle dikwels kry, is ’n bejaarde Casanova wat kyk hoeveel jong stukkies vleis hy op sy sosatiestokkie kan inryg.

Ek wonder hoe wys hulle hul nuutgevonde jeug gebruik? Aan die een kant kan ek dit verstaan. Dis menslik. Vroue doen dit, mans doen dit. Meteens is jy weer jonk en jeukerig en jy vry in die bondel. En vir wat nie? Jy was jare in ’n huwelik en was iemand se ma of pa.

Maar wat van die slagoffers? Vroue word al hoe meer met ’n stywe riem deur die sestigerspelers gevang. Hul harte word gebreek. Hulle verwag ’n ouer, wyser man wat die lewe rustig wil vat. Wat hulle dikwels kry, is ’n bejaarde Casanova wat kyk hoeveel jong stukkies vleis hy op sy sosatiestokkie kan inryg.

Donovan is 65. Hy het ’n pragtige huis teen die berg met sy eie bergstroom wat deel van sy verleidingstegniek is. Hy versamel sensuele ervarings (sy woorde). Hy is poligamies. Ouer mans is lief om fênsie woorde te gebruik om ou streke mee te verbloem.

Poligamie beteken hy het meer as een maat. In plein taal? Donovan neuk rond.

Volgens hom sal hy nooit weer trou nie. Maar nou die dag het ek hom weer raakgeloop. Dis nie so maklik nie, sê hy. Die vroue los hom sodra hulle agterkom hy wil hom nie verbind nie. Die paleis van poligamie is besig om leeg te loop van prinsesse.

Bertus is amper 70, maar bemark homself as 59. Hy besit ’n wildplaas en nooi graag vroue soontoe vir ’n naweek. Vroue wat ’n lekker tyd soek, sal dit by Bertus kry. Soek jy liefde, sal jy met leë hande huis toe gaan.

Nie almal is poligamiese pappenfoese wat al wat vrou is met hul sosatiestokkies wil steek nie.

Francois huur ’n huis en kla van leënessindroom. Volgens hom is hy eensaam. Hy soek ’n lewensmaat. Vra jy hom ’n bietjie uit, kom jy agter hy soek al 19 jaar lank. Sy verleidingstegniek? Simpatie.

Almal is natuurlik nie so nie. Wyse, volwasse ouer mans wat liefde soek, bestaan wel. Nie almal is poligamiese pappenfoese wat al wat vrou is met hul sosatiestokkies wil steek nie.

So ontmoet ek Armand. ’n Suksesvolle sakeman in sy 60’s. Sjarmant. Stylvol. Intelligent en innig. Armand soek ’n lewensmaat. Armand glo in romanse en om dinge stadig te vat. Ek kry rose en komplimente. Ons kook saam, gaan restaurante toe, deel ons verlede en toekoms.

Hy draai my kop, hy laat klop my hart vinniger. En dan een aand, vat ons verhouding vlam. Viagra-vlam. Armand ry daardie aand huis toe, want hy het vroeg die volgende oggend ’n vergadering gehad.

Ek sien hom nooit weer nie. Volgens hom het hy meteens besef dat dit nie tussen ons sal werk nie. Hy is seker ek verstaan.

’n Paar maande later praat ek met ’n vriend. Hy ken Armand.

“Armand? Hy val net vir jong bokkies in hul 40’s. Hy sê hulle is desperaat, maar nog jonk en mooi genoeg. Ek sien hy het nou vir hom ’n Harley gekoop. Hy het die ding nogals ’n weird naam gedoop.”

“Wat is die naam?” wil ek weet.

“Poligamia.”

Advertisements