Ek stap by my huis in – dadelik is my moermeter in die rooi, my huis wat net so bo-langs skoongemaak word, maak my stapelgek. As ek nie self met tye invlieg nie sal ek seker in ‘n woestyn lewe met al die stof en vuil om my.

Ek is sommer suur en groet skaars my GRACIE, sy bespring my dadelik en vra dat  ek die wasgoed moet uitsorteer sodat sy my kinders se wasgoed na hul onderskeie huise kan neem. Weer vererg ek my stil-stil, en sê absoluut niks. Ek is bietjie OCD en kyk baie goed oor, maar so elke nou en dan is daar iets binne my wat weier om als oor te sien. GISTER WAS SO DAG.

Ek sit en verwens myself oor EPHENIA, sy was beslis self ook OCD en jy kon letterlik enige iets wegtrek en onder dit van die vloer af eet, so ook met die res van die huis – SILWERSKOON is nie die woord nie, sy het goed afgeskroef om skoon te maak. Ek mis Ephenia – ek het Ephinia verloor omdat ek myself gewip het omdat sy elke dan en wan net weggebly het van die werk, en nou betaal ek “big time” vir die impulsiewe wip van my stert.

Gracie kom al ‘n langpad saam met my, sy het by haar ma kom kuier wat vir my gewerk het toe syself nog jonk was, en het toe na Ephinia, gevra of sy nie asb vir my kan werk nie. Sy werk nou reeds so 4 jaar vir my, menigte male tot my frustrasie.

Gracie se skoonmaak vernuf is rerig beperk net tot dit wat die oog sien, onder goed is nie deel van skoonmaak nie. Inisiatief is daar nie – vensters was is beslis nie haar werk nie, en trappe klim doen sy slegs eenkeer in 6 maande.

Maar elke middag as ek instap hoor ek haar met my brakke praat, in Afrikaans soms, maar die meeste van die tyd in Sotho – sy praat met hulle asof hulle kinders is – kosbaar verby.

Dan vra ek Gracie, soek jy koffie? Ja, ek soek koffie. Was Bella soet? Ja, hy was soet, hy het nie die kussing geëet nie. Jy het haar nie pak gegee nie? Nee, maar ek raas en raas, hy wil nie buite gaan om te piepie nie, ek moet saamloop vir die piepie, ai Bella, hy is die stoute hond. Onthou jy mag nie my kinders slaan nie, jy mag hulle nie met die besem stoot nie, jy mag nie, jy mag nie, jy mag nie…. SY LAG. Ek weet hy is jou kind die honde, ek weet jy like jou honde, want jy sê hulle baklei nooit met jou nie,  en hulle is bly as hulle oog joune sien.

Netso Gracie, netso… en skielik sê sy vir my dat sy fotos van haar kleinkinders en kinders op haar nuwe selfoon wat fotos kan neem, wat ons vir haar gegee het, het – sy wil my wys. Trots wys sy my elke kind, haar dogter wat laasjr oorlede is. Blinkgevryfde kindertjies, blinker as die blinkste gevryfde nugget skoene,  die een mooier as die ander, waar hulle pose in haar nederige RDP huisie – kyk hier staan my mooi yskas wat jy vir my gegee het, een wat ons nie plek voor het nie, na ons verkoop van ons huisie by die see. Ek is lief vir my yskas soos jy vir jou honde is.

En ek weet, Gracie is hier om te bly ongeag die voorlangs en bo-langs skoonmaak, sy gaan nerens heen nie, want sy weet hoe lief ek vir my brakke is… en vandag weet ek hoe lief sy vir haar yskas is.

Advertisements