Dit voel of my voete darem min of meer besig is om die aarde te raak – ek voel darem nie meer soos die een of ander tolbos nie.

Skoonma se gedenkdiens is verby en ek het dit oorleef. Was mooi gepaste preek en toe die toesprake. Waarop ek nie gaan ingaan nie, mens mag dink dat ek “hoog” raak op selfbejammering. Al wat saak gemaak het is my man se erkenning vroeg Sondagoggend met sy woorde wat sê – hulle het nie mooigemaak met jou nie, ek is jammer. Dit het die laaste twee en halwe weke se pyn in my hart uitgevee, want hy, wat my anderhelfte is, het erkenning gegee aan dit wat ek deur is, en dat dit nie net my brose ego was wat gedink en gereageer het nie, maar dat dit realiteit was… want hy het dit gesien.

Ek is bly ek kan sê “was”, want dit is oor en verby ek kan nou weer fokus op dit wat saakmaak in my lewe. 

Na die gedenkdiens se koffie en tee drinkery,  vra my dogter en pieringoog gelyktydig,  kan ons nie net vir oulaas by die klippiestrand stop nie? Nie rerig aangetrek vir die strand nie alhoewel sommige van ons effe gemakliker na die gedenkdiens aangetrek het vir die pad terug Kaap toe en dan huistoe. Draai my man in by ons geliefde strand, by ons huisie by die see, wat nie meer ons huisie by die see is nie.

Elkeen het vlugtig strand toe gehardloop, sekerlik met hul eie gedagtes, spyt, verlange en weemoed… behalwe Lainey, Lainey is nog onaangetas deur die kwaad wat mense inmekaar se lewens kom deponeer.

Ek wens ek was in my kop waar sy is, net op die strand besig om ‘n paar skulpies vir oulaas op te tel. Ek bid saggies vir goeie mense in haar lewe asb Vader, almal in my gesin is die laaste pr jaar deur erge trauma en in die meeste gevalle kan ons dit terugverwys na ‘n spesifieke individue. Mag dit asb nie gou met haar gebeur nie, want ek weet niemand,  maar niemand is kwytgeskeld van die lewe se pyn nie.

Toe onthou ek, Lainey jy is daardeur op die skamele ouderdom van 4jr oud, toe jou ma ‘n ander gekies het, bo dit wat jy en jou pa was. Ek sien jou in my geestesoog waar jy op jou swaai sit en heen en weer wieg terwyl jy weeklaag oor jou mamma. EK SOEK MY MAMMA, EK SOEK MY MAMMA, EK SOEK MY MAMMA…..

Ek onthou my eie magteloosheid by die aanhoor van jou pyn en die wete dat ek jou net vir ‘n wyle daar MOET los sodat jy jou soeke en verlange self kan uithuil sonder my,  met die alewige pleister wat ek oor dit wil kom plak… en ek ween in stilte omdat ek besef ons is nie gevrywaar van pyn nie, ongeag die ouderdom.

Maar ek is vandag ook dankbaar en lewenswys genoeg om te weet dat more is ‘n nuwe dag met allerhande mooi beloftes daarin en dat niemand, maar niemand deur hierdie lewe gaan sonder om darem ten minste 80% van hul lewe op aarde relatief gelukkig te wees nie! Want dit is hoe die lewe is… bietjie hartseer met ‘n groot stuk geluk daarby… veral as jy in ‘n man wat jou liefhet se oë kan kyk en dit wat jy daarin raakkyk die naaste aan opregte liefde is wat jy ooit op hierdie aarde sal kry…. 

ok… behalwe as ek in my brakke se oë kyk,  want daarin is daar 24/7 liefde ongeag my emosie op ‘n gegewe tydstip. 

Advertisements