Asb verduur my “afpak blogs” tot en met einde April, ek belowe na April is dit back to normal

Gister: Ek gaan more ‘n “met simpatie” kaartjie koop, dan gaan ek dat elkeen van ons ‘n boodskap vir pa/oupa/oupagrootjie daarin laat skryf. Net dat hy weet ons is saam met hom hartseer oor die afsterwe van ma/sy vrou. Ek sal skryf: pa, ek is jammer oor die brief waarin ek pa aangevat het, (seker vir die 4de keer wat ek jammer vra, die 1ste keer direk na die brief, toe bel, en toe nog tweekeer daarna, met uitnodigings om te kom kuier ens, sonder enige resultate) Dankie vir mooi herinneringe wat pa-hulle aan my kinders as jong kinders gegee het, dankie vir pa-hulle se liefde en ons gaan rerig vir ma mis. My man en kinders sal hul eie boodskappies daarin skryf, en ek sal Lainey se laaste skoolfoto vir hom daarin sit.

Toe: Laat gisteraand toe Roelof by die huis kom vra ek, het jy verlof ingesit vir Vrydag? Ja, ons vlieg 4 uur nê? Nee man ons vlieg vroegoggend die diens is 12:00. Ek kyk na my man-kind en sien daar is ‘n skaduwee oor hom. Hoe lyk dit of jy nie wil gaan nie, ons moet gaan, hoe gaan dit lyk as ons nie gaan nie? Ma weet, toe ek vir oupa bel om te simpatiseer was hy baie snaaks met my, ek het vir hom gesê ek is jammer oor ouma se skielike heengaan, ek gaan haar mis, jammer dat  ek nie gereeld kon kuier nie, maar oupa weet mos dit is maar duur. Toe sê hy kortaf vir my: Jy weet dit is nie so nie, als is nie skielik nie dit het 4 jaar gelede oor Desember begin.

Ek kyk na my kind met ‘n vraagteken op my gesig, wat bedoel hy? Nee ek weet nie, ek verstaan nie, maar hy was kortaf met my. Ag Roelof, moenie worry nie – ons gaan om pappa te ondersteun, en ons laaste eerbetoon aan ouma te gee, moenie worry nie. Maar julle moet asb saamkom vir pappa. Maar ja, ons vlieg baie vroeg Vrydag en kom laataand terug.

ANGS oorweldig my, en ek begin dink aan sy (skoonpa) se opmerking aan my kind – hy weet, raak aan my kinders dan raak jy aan my, en hy het sopas my kind geraak om my by te kom!!! My gedagtes gaan terug na die brief, en ek besef hy weet hy praat nonsens. Ons krapperigheid met mekaar het juis met die einste kind se egskeiding begin, toe hulle hulself by my skoondogter geskaar het, en als wat sy kwytgeraak het direk na my verwys het en my die blaam gegee het.  Alhoewel ek ten hemele die feite uitgeskree het, sy was in verhouding met  ‘n ouman, ouer as haar pa, terwyl sy getroud was met my kind, naweke weggegaan het saam met hom, terwyl my kind hul kind opgepas het omdat hy dink sy kuier saam met haar vriendin. Dat hy dit als agtergekom het op hul 5de huweliksherdenking, dat ek haar gesmeek het om asb te werk aan haar huwelik, ons sal niks vir niemand sê nie, ons sal vir berading als betaal, maar asseblief, het ek op my knieë huilend gesmeek, moenie hom los nie. MOENIE – dat sy 2 dae later, waar haar kind by my op die mat gesit en speel het, ingekom het en doodeenvoudig vir my gesê het sy kies die (grillerige) ouman en dat ons Elaine kan kry (asof sy ‘n klein hondjie is) Ek het gesmeek, geskree, gehuil, gesoebat… op my knieë. Sy het nie eens haar kind opgetel om te groet nie, ek moes haar roep en vra, kom sê asb net tata vir Lainey, sy gaan wonder waar jy is. Sy het haar gegroet, vir haar gesê sy gaan bietjie na oupa Nicky toe, en toe in die nag van haar pa-hulle se huis weggeloop na die ouman se huis!!! Als is geskiedenis daarna. Maar ja, my skoonfamilie van 29jr toe, het besluit dat als my skuld was, iets wat hulle tot vandag toe nie aan my kon verduidelik nie. Maar dit is verby.

Ma is nou dood en nogsteeds is ek die culprit, wil hy dit laat klink asof my brief ma se agteruitgang beteken het? Die brief was net op hom van toepassing, nerens het ek my skoonma iets toegesnou nie, vir 33jr lank het ek hierdie geduld.

Gister was ek reg om aan te beweeg met ‘n “innige simpatie” kaartjie – maar dit was gistermiddag voor ek my kind se gesig gisteraand gesien het. Ek gaan Kaap toe ter wille van my man en as ‘n laaste eerbetoon aan my skoonma, ek weet hy gaan op ‘n manier ‘n stekie inkry in die teenwoordigheid van ander mense, maar dit sal die laaste keer wees – ek sal stilwees en verduur, maar as ek daar ry skud ek dit als af van my en lewe vir myself en my gesin vorentoe, sonder enige “regrets” want hy laat my met ‘n wrang smaak tov sg christenskap – HY OORDEEL, VEROORDEEL EN BEOORDEEL MET SY EIE MAAT, hy sê hy is ‘n kind van GOD, maar hy het ook vir my gesê gelukkig aanbid ons nie dieselfde GOD nie. Ek het al telkemale gesê ek is jammer,  sonder dat dit nodig was vir ‘n verskoning, want niks wat ek gedoen het was sonder rede nie, maar ek het besluit om die minste te wees. Sy GOD leer hom nie van vergewe sodat jy ook vergewe kan word nie, voorwaar ons aanbid nie dieselfde GOD nie!

Vandag is ek siek van spanning en ek bid, Here gee asb my die krag om stil te wees – vir my man wat ek  ook weet  als sal doen  om konfrontasie te vermy – al is dit dan nou om NIE vir my te moet opkom nie! Maar dit is okay – wat nie okay is nie, is dat hierdie skoonpa van my, my deur my kind probeer bykom en dan wil maak of ek stapelgek is as ek sy agenda sien! MAAR WEET DIE SLAG GAAN EK VIR ‘N LAASTE KEER  siek van spanning wees, EN EK SAL NET STILWEES, en weet dat ek is klaar met dit wat agter my is, geen verdere verduidelikings, geen soebat, geen smeek – leef die lewe soos julle goed dink, ek is nie deel daarvan nie…..                 en dit is okay vir my sielemens en diegene om my!

Advertisements