Ons moet asb na pa gaan, vroeg Maandagoggend – dit sal die 1ste keer wees wat ek aan huis gaan van my ouers na my ma se dood, sedert Feb 2015. Ek het altyd gesorg dat ek my pa op ander plekke te siene kry. Ek kon myself net nie sover kry om na my “ma se huis” te gaan na haar dood nie.
Ek was baie bang om gekonfronteer te word met haar leë stoel – haar nie daar wees nie. Ek het seker iewers in my agterkop gedink as ek nie die leë huis sien nie, sal sy nie dood wees nie.

(Met harte vol drome en ‘n lewe saam)

Maar ek het besef ek sal dit seker ook agter die rug moet kry en klaarkry. Veral met die afsterwe van my skoonma besef ek, ek sal seker ook maar hierdie duiwels in my lewe moet face en klaarkry. As dit by  emosionele konfrontasie kom verkies ek om eerder nes ‘n volstruis, kop in die sand deur die lewe te gaan. Ek vermy nog altyd pyn, fisies en emosioneel sover moontlik – bangbroek ek.

Met die stop voor my pa se huisie haal ek diep asem voor ek  instap – en toe die konfrontasie. My pa is die helfte van die grootte wat hy was voor hy met die bestraling begin het. Als lyk nog min of meer dieselfde – behalwe dat daar nie ‘n enkele vars blom in die huis is nie, ook lyk die tuintjie ook maar vaal – my ma se pride and joy waaraan my pa ook nie meer aandag kan, of dalk wou gee nie.

Ek gaan sit asof ek ‘n stokmannetjie is op my normale sitplek. Ek is geskok as ek na my pa kyk – dit is vel en been en dan die oë, die oë is ekstra groot in die benerige gesig. Ek sien dat hy morfien in het want sy oë wys dit duidelik. Pa, help die medisyne darem vir die pyn? So bietjie – dit verdoof net die pyn vir ‘n klein rukkie, maar ek kan nie eet nie – ek kan niks eet nie. Ek het vir pa so bietjie sagte poedings van Woolies gebring en in die yskas gepak – dit is koud, en pa behoort dit te kan sluk. Maar pa moet eet, pa is net vel en been en niks meer nie, pa moet eet! Ek het seer, jy verstaan nie hoe seer dit is nie. En vir die eerste keer in my lewe ervaar ek my pa as oud, baie oud.

(Hier teken ons vir altyd, vir altyd is baie lank!) Gelukkig weet niemand van ons wat voorlê nie.

Ek stap deur die huisie, als lyk soos voorheen – fotos teen die muur van almal waarvoor hierdie twee mense lief  was in hul lewe. ‘n Storie wat vertel van twee mense wat ‘n leeftyd of drie gedeel het. Oral is daar fotos, ek sien die spaarkamer se bed is onopgemaak – pa slaap daar vandat ma nie meer is nie – hy sê hy kan nie in hul kamer slaap nie, dit voel nie reg nie. Als lyk dan nog presies soos voorheen, ek gaan nie in hul kamer in nie, ek loer nie eens daar in nie, bangbroek ek!

Ek sien al die twakkies waarmee ma haar omring het – ou klein draad kersboompies, kaartjies vol liefdeswoorde aan hulle van die een of ander kleinkind, ma se stoel is leeg sien ek, ma se porseleinlyfie hoort mos eintlik daar, dink ek. Ek stap en stop voor elke foto en met die kyk gaan my gedagtes terug na dit waarvan die spesifieke foto praat, ons storie, hulle storie – die bewys van hul lewe saam as man en vrou, pa en ma, oupa en ouma en dan laastens oupagrootjie en oumagrootjie – ja Lainey, se gesiggie is ook hier en daar. Ek trek my asem diep in, en ek ruik nie vir ma nie – ma se alomteenwoordigende OIL of OLAY reuk, dit is wat kort en dit tref my ma is dood, sy is rerig dood, sy is nie in die huis nie, al het ek dit vir amper 3 jaar nooit besoek nie omdat ek bang was dat ek haar nie daar gaan kry nie – bangbroek ek!
Ma is dood, en dit is okay – ek het mooi herinneringe van haar – hierdie lewe staan vir niks of niemand stil nie, ongeag die pyn waarin mens mensself op ‘n gegewe oomblik bevind nie, die dood is onvermydelik,  dit is die een emosie wat geeneen van ons ooit heeltemal gaan kan vermy nie. Mense van ons hart gaan ook dood, al probeer ons hoe hard om onsself te belieg deur voor te gee dat hulle leef, al is dit net in ‘n huis wat ons nie besoek nie. EK MIS MA veral nou weer, en ma pa is rerig siek – maar “ma se kinders” kyk mooi na hom – die ou korrelkop het klein in statuur geraak, hy is net rugstring, ore en oë, en ek kan sien hy geniet al die aandag wat hy kry, ongeag die pyn.

Advertisements