Oppad kerk toe is my gesprek met my dogter as volg. Ma gaan ons fliek? Nee Bokkie, ek wil by die huis wees as pappa van die Kaap af kom. Dit gaan darem net te vreeslik wees as hy hier kom en ek sit in die fliek??? 

Dit is reg,  ek wil Nikon toe gaan ek wil na die lense vir Charmaine se troue gaan kyk en dan wil ek iewers na ‘n plek in Braam, iets toe gaan so 35 minute se ry van ons af. Daar is ‘n grafiti-wall wat ek dink mooi sal mooi lyk vir ‘n pre-shoot van haar troue. 

Bokkie, dit is in Braamfontein, dit is ‘n rowwe plek vir ‘n vrou om alleen heen te gaan, kan jy nie asb vir Paul hulle vra om saam met jou te gaan? Ek sal hulle vra. 

Toe ons uit die kerk stap vra ek haar en?? Paul sê hulle sal saamgaan, maar ek verstaan nie hoekom worry ma so nie? Want ek is ‘n ma en my “program” is so ingebou – dit is ‘n simpel “program” ek sou verkies het om daarsonder te kon wees! Ma hoef rerig nie so te worry nie ek is “streetwise” – dit van ‘n Veaarts af. Wel ek is bly Paul hulle gaan saam. MAW, it’s not a very glamorous job, hierdie ma-wees ding? Nes jy sê, als behalwe, daar is waaragtig niks glamorous daarin nie – mens slaap min en jy bid baie.

En so gaan my gedagtes na my skoonma, wat gisteraand 19:00 “huistoe” is, ek dink aan haar en my hart raak seer, ek dink aan haar as ma – wat ook die laaste pr jr aan die alewige familie-politiek blootgestel was. Ek dink aan ons as ma’s, wat altyd vrede tussen mekaar vereis. Ma’s verwag baie min van hul kinders, behalwe om lief te wees vir hulle en vir mekaar – dan is ‘n ma die gelukkigste wese op aarde. Dit verg eintlik bitter min om ‘n ma gelukkig te hou – vrede, vrede en weer vrede. Iets wat ek dink menigte ma’s nie beskore is nie. Dit het ek gesien met my eie ma wat ook reeds “huistoe” is,  en nou weer met my skoonma. Die ding is daar was nie, nie vrede nie, daar was maar net ‘n te kort aan kommunikasie en dalk openlike omgee.
Maar wat ek in my eie situasie geleer het is dat ongeag, bloed bly nou maar eenmaal dikker as water. Ek het in eie ondervinding gesien as die noodlot jou tart trek jou direkte familie laer om jou, ongeag hoe julle gister oor mekaar gevoel het, hulle bly diegene wat onmiddelik daar is met troos. En daarom is ek nie meer so gesteld daarop dat gesinslede elke oomblik van die dag hulle liefde aan mekaar moet openbaar nie – hierdie liefde is ‘n tipe liefde wat ons eers werklik in dade aan mekaar wys, die oomblik wanneer ‘n ander nie daar kan wees nie omdat hy/sy dalk nie jou bloed deel nie. Liefde in die meeste gesinne is nie hierdie praat soort liefde nie, maar wel die soort liefde wat in dade (wys) navore kom die oomblik wanneer ‘n ander dalk die slag nie daar kan wees nie. 

RIV ma Anna, weet ma se kinders is lief vir mekaar,  ongeag… dankie vir die nalatenskap van ‘n wonderlike ma, ouma en oumagrootjie. Sien uit om ma weer te sien, met ‘n vruggie in ‘n bakkie op ma se skoot besig om stukkie vir stukkie daaran te peusel tot daar net ‘n leë pit of ‘n dun stukkie skil oor was as bewys van die vreugde daarin…. Leer asb ook vir ma Alta ken, sy was rerig ‘n fantastiese mens ongeag haar tekortkominge, ek dink ma sal rerig van haar hou en my dalk ook bietjie beter leer ken deur haar,  want niemand op aarde het my beter geken as die ma wat God aan my gegee het nie…. liefde Elanè

Advertisements