Ja my hartlam,  ek weet jy is nie lus vir hierdie trip nie, maar die trip sal jy maar moet. 

So neem ek vroeg vanmore afskeid van my “ouman”. Na bitter min slaap en die tye wat ek wel geslaap het gevul met nagmerries – van vervloë jare se dinge.

Ek sou bitter graag wou saam, maar met al die emosie rondom ‘n siekbed is dit die slag dalk net beter vir my om afstand te hou – nou wonder julle seker hoekom.

Wel my storie begin by 3 jaar gelede, met ‘n brief wat ek geskryf het en ONGELUKKIG nie verbrand het nie, maar wel oorhandig het. 

Ons gaan al vir jare oor Desembers Kaap toe, dit is dan ook die tyd van die jaar waar ek en my man sy ouers, sy ma en sy stiefpa sien en mee kuier.

Elke jr as ek en my man Kaap toe gaan, werk ons verwoes om als skoon te maak aan ons huisie wat vir die jaar toegestaan het. En in die spesifieke jaar sê ek vir my man kom ons doen als wat ons moet doen sommer dadelik en dan kan ons tyd met jou ma-hulle spandeer. My skoonouers weet ons kom elke jr oa om hulle te sien. Die 1ste aand, na ons so 4 dae verwoes gewerk het, kuier ons die aand by my skoonouers. Net  voor die ry terug na ons plek toe,  plak my skoonpa ‘n pakkie voor ons neer en sê, Nou ja, ons groet sommer ook nou – hier is ietsie vir julle vir Kersdag en geseënde Kersfees. 

Ek en my man het verstom na mekaar gekyk en al wat my skoonpa sê is, ons gaan nou vir Janneman hulle kuier, hulle het vroeër die jaar afgetrek Jeffreys Baai toe en het ‘n baie goeie verhouding met hulle, dit is my skoonsuster se kinders. Wat hulle ook toe alreeds pr keer deur die jr gesien het. 

My seun en sy kind was ook saam met ons en dit was die jaar of twee na sy egskeiding,  en hy het dus uitgesien om tyd met sy oupa te spandeer oor wie hy gaande was. Nou ja, nodeloos om te sê, het ons die pakkie netso gelos en gesê hulle kan gou koffie kom drink die volgende oggend voor hulle Jeffreys Baai toe gaan.

My man was baie kwaad, en het vir my gesê hy het nou nie eens kans gekry om met sy eie ma te kuier nie. En dit was met die woorde wat ek toe rooi sien. Die vlg oggend het hy, my skoonpa,  die pakkie gebring terwyl my skoonma in die kar vir hom gewag het. Met die intrapslag konfronteer ek hom, en vra vir hom hoekom het hy nie vir ons gesê hulle gaan Jeffreys Baai toe nie, die oomblik wat ons hier gestop het nie? Want dan kon my man, ipv huis regmaak tyd met sy bejaarde ma spandeer het. Waarop my skoonpa my antwoord, O so, nou mag ons nie tyd met ons ander kleinkinders spandeer nie? Ek het baie duidelik dit aan hom gestel dat dit nie die punt is nie, ons is al ‘n pr dae hier en as ons vooraf geweet het hulle het planne om weg te gaan, kon my man saam met sy ma gekuier het en dan as hulle weg is als doen wat by ons huis gedoen moes word! Waarop hy woedend uitgestorm het en vir my skoonma die vlg gesê het: Nee, hulle corner my nou daarbo in die huis, en vergil my omdat ons na ons kleinkinders gaan.

En so is daar afskeid geneem. So besluit ek om in ‘n oomblik van waansin om vir hom als in ‘n e-pos neer te pen, van als wat MY deur die jare van hom gepla het. Sy dubbele standaarde as dit by my man en sy suster kom, en ander jakkalsies. En soos met e-posse as jy “stuur” druk, stuur dit onmiddelik. 

Ek het dadelik besef dat die skrywe was ‘n fout. Ek het dadelik vir hom weer geskryf en gevra dat hy asb dit moet uitvee en daarvan moet vergeet, ek is jammer. Ek het hom selfs later dieselfde dag nog, gebel en onverskoning gevra, waarop hy my geantwoord het hy praat nie nou met my nie, want hy kuier nou baie lekker met my skoonsuster se kinders.

Ek het dit gelos en is so toe nou terug Pta toe. Hulle het later die jaar soos die normale afgekom vir hul Bosveld vakansie, waarop ek hom weereens genooi het om te kom kuier. Ek het gesê hulle kan kom en gaan nes hulle lus voel, ons huis se deur is oop soos gewoonlik. En ek sal sorg dat daar genoeg rooiwyn is, en ons sal net lekker kuier. Hy het vir my gesê hulle sal sien. Toe hy later met my man praat het my man ook gevra of hulle kom kuier, waarop hy my man geantwoord het dat ons moet maar per afspraak na sy susterskind se huis gaan, mense wat ek nie ken nie, maar hulle sal nie soos normaalweg na ons toe kom nie. Ons kan hulle, my skoonouers dus daar gaan sien as ons hulle wil sien, nodeloos om te sê, iets wat toe nie realiseer het nie.

Nou ja, ons het hulle toe nie weer gesien as hulle die slag in Pta was nie, en as ons die slag afgegaan het Kaap toe, was dit asof my skoonpa doelbewus ander reëlings getref het, en dan by die ander kleinkinders in Jeffreys Baai gaan kuier het, of by sy eie familie in George. Hulle was net nooit meer by hul eie huis as ons daarby ons huis in die Kaap was nie.

Hy het deur die tyd dit baie moeilik vir my gemaak om met my skoonma te praat. As ek gebel het, het hy altyd die foon geantwoord en vir my gesê dat my skoonma slaap. So het ek maar al hoe minder pogings van my kant af gemaak om kontak te probeer maak. Alhoewel ek my man deurlopend aangemoedig het om asb in kontak met hulle te bly – wat hy wel gedoen het, maar ook vir my gesê het dat daar ‘n ongemaklikheid is van hulle kant af, as hy met hulle praat.

Toe die bs van sy suster Vrydag – dit gaan nie goed met ma nie, sy is baie deurmekaar, my hart het bitter seergekry en ek het geweet ek sal nou moet kophou. My skoonsuster het die Saterdagoggend vir my man genoem dat, ma is in die hospitaal opgeneem in Hermanus, sy het erge dimentia in die deel van haar brein wat haar hart en ander organe reguleer, die dr’s gaan nie ingryp as haar hart gaan staan nie. Ek het geweet my man moet afgaan want hy moet sy ma gaan groet, al sal sy met alle waarskynlikheid nie eens weet dat hy daar is nie, moet hy dit doen. Ek het gesê hy moet kyk na vliegtuigkaartjies – en gevra of hy wil hê ek moet saamgaan? Hy het genoem dat dit lekker sal wees, toe sê ek vir hom ek glo nie lekker nie. Maar ek sal saamgaan. Ek het daarteen besluit nadat ek vir my skoonpa ‘n bs van bemoediging gestuur het, en hy nie daarop reageer het nie, alhoewel hy dit gelees het. Ek het vir my man gesê miskien moet hy sy suster saam met hom laat afvlieg, want dit is nodig vir beide van hulle dat hulle, hulle ma moet sien. Hy was eers teësinnig en het vir my gesê dat hy nie sy ma so wil sien nie. Waarop ek hom geantwoord het dat hy moet gaan, dit is sy ma, sy het twee kinders en hulle moet selfs in tye soos die, daar wees vir haar,  en in hierdie geval het hulle nie juis ‘n keuse nie. 

My hart is vandag seer, want ek sou ook daar wou wees, maar ek is ook oud genoeg om te besef dat my daarwees dalk as oppurtunisties afgemaak sal word. En dus sal ek in my hart hier vanuit Pta afskeid neem – ek sal Sondag die opstandingsdiens by my kerk alleen bywoon en in my hart sal ek weet dat Hy selfs daarvoor aan die kruis vasgespyker was, vir die onvergewensgesindheid van die mens onder mekaar, vir oorhaastige woorde gepraat, of selfs soos in my geval geskryf, en ek sal weet HOE GENADE LYK. 

(My heel laaste briefie aan my skoonma sal dus hier gelaat word)

Liewe ma, ongeag als sal ek vashou aan jare en jare se mooi herinneringe en die res los ek oor in My Vader se hand, daar waar EK veilig is. Ek is rerig opreg lief vir ma. Liefde Elanè

Advertisements