Vanoggend oppad werk toe kyk ek na die sonsopkoms deur die wolke, als is so beeldskoon mooi, Gauteng is sopnat, vreemde weer vir die tyd die jaar, maar ek kla glad nie oor die welkome reën wat als kom afstof voor die koue ons tref. In my hart is ek dankbaar en dank ek die Here dat ek kan sien HY het so waar as waaragtig nog nie vertroue in die mensdom verloor nie.

Elke dag splinternuut en beeldskoon mooi, gegee aan my en jou om daarmee te maak nes ons smaak.

In die agtergrond blêr my radio kliphard met musiek, want vanoggend wou ek hê dit moet raas oppad werk toe, en is my radiostasie nie soos die normale ingestel op 657am nie, ek wil sing ek wil raas en ek wil die Here se handewerk bewonder!

Ek dink aan my land en sy mense, ek dink aan die man wat aan die stuur van sake is en ek wonder, na aanleiding van die liedjie wat nou speel, Mnr die President, is dit rerig wat jy wil hê, ‘n land wat op die beste soos jou buurlande lyk. Geen hoop in die oë van jou “eie” mense nie, omdat jy besig is om jouself en die in jou binnekring so te verryk, ten koste van hulle wat vertroue in jou  gehad het omdat hulle naiewelik geglo het waar jy vandaan kom weet jy dat ‘n land sonder hoop, ‘n land sonder werk is, en dat mense nie lewe sonder die trots van ‘n werk nie, maar wel net oorleef!

IS DIT WAT JY DOEN RERIG DIT WAT JY VIR ONS LIEFLIKE LAND SOEK???

Advertisements