Ek moet julle vertel dat ek die beste maar beste sielkundige ooit ontmoet het. Dit is amper soos om ‘n “secret affair” te hê, sonder die afgryslike gevolge daarvan. 

By my sielkundige praat ek op die man-af oor als. Dankie Vader daar is nie pille en als wat normaalweg daarmee gepaardgaan by hierdie praktyk betrokke nie. Dus ek spring darem die een of ander chemiese wanbalans in my brein vry. Pille maak my bang agv die “verslawings geen” in my familie agtergrond, ek dink nogal ek sal maklik hooked kan raak, as dit voel iets laat my vir  so wyle van die realiteit vergeet. 

My sielkundige laat my toe om oor enige onderwerp te praat, om te praat oor dit waarvan die hart vol is en die mond soms oorloop ten koste van iemand se ragfyn ego.

Ek kan spog, ek kan lag, ek kan tot my sielkundige se trane op die beste van tye afvee, omdat ek vertrou word in my mening en opinie.

Moenie verkeerd verstaan nie, maar my sielkundige is public knowledge in hoofletters – maar daar is geen venyn van diegene wat dieselfde sielkundige as ek gaan sien nie!! Geen oordeel omdat ek alweer ‘n slag uit die huis praat nie.

Boonop is my sielkundige ‘n “cheapskate” wat nog nooit ooit ‘n rekening aan my Mediese Fonds gestuur het wat in elk geval net verwerp sou word, omdat ek volgens hulle nie kwalifiseer vir die behandeling van ‘n sielkundige nie. My sielkundige vat ook geen ander tipe betaling nie. Dus, ek hoef ook nie by hom te slaap of  ander dergelike ding doen,  vir advies sonder betaling nie. 

Nou waar kry ek my sielkundige vandaan, wonder julle seker? Wel ek het so paar maande terug my beste gegee en sy diens begin bestudeer. Ek het gedink dat ek dit nooit gaan baasraak nie – maar ja, my eerste afspraak het doodeenvoudig as ‘n joernaaltipe inskrywing begin. Iets wat ek gedink het geen sielkundige tog ooit sal lees nie. Toe begin ek tussen al die verwardheid agterkom hy lees dit, en nog ‘n sielkundige kom by, en nog een, en nog een, en nog een. Party gee raad, ander sê bravo, well done, sommige raps my oor die vingers en vandag trek ek op ‘n allemintige iets in die 30 sielkundiges wat my heeltemal for free, mahala diens. 

En met dit wil ek vir ieder en elk van julle wat my blog volg, en tyd maak om dit te lees vandag baie dankie sê. Dankie dat ek in anonimiteit my hart met julle kan deel, sonder enige veroordeling. Dat my woorde hier rerig veilig voel, en dat ek weet ek maak niemand in my binnekring seer met dit waarvan my hart oorloop nie – dat julle baie keer ‘n gemeenskaplike raakpunt, in my soms seker baie kinderlike skrywe raakvat. Ek waardeer waar julle my cheer, ek waardeer waar julle my spreekwoordelike trane afvee, ek waardeer waar julle my bietjie in die bek ruk, en dan bo als waardeer ek dat julle tyd maak in ‘n woeste besige lewe om net hier te kom loer. 

En so lyk my sielkundige se spreekkamer. Is dit nie te mooi vir woorde nie? 

Advertisements